Koos du Plessis (1945-1984)

Jaco Reinach (1962-1997)
Julie 6, 2020
Marga van Rooy (1942-2017)
Julie 6, 2020

deur Daantjie Dinamiet

In 1979 het een sanger en liedjieskrywer seker meer as enigiemand anders gedoen om ’n rewolusie in Afrikaanse musiek tot stand te bring.

Die bekende televisieregisseur Katinka Heyns was besig om die reeks Phoenix en Kie, met onder meer Dana Niehaus, Marius Weyers en Jana Cilliers in die hoofrolle, te vervaardig, maar sy was op soek na gepaste musiek om in die reeks te gebruik. Katinka het voorheen die reeks Fyn net van die woord vervaardig en die komposisies van ’n destyds onbekende liedjieskrywer gebruik.

Jacobus Johannes (Koos) du Plessis is op 10 Mei 1945 in die distrik Rustenburg gebore, maar die gesin het op ’n jong ouderdom na Springs verhuis. Hy het aan die Laerskool Pam Brink skoolgegaan voordat hy aan die Hoër Seunskool Hugenote gematrikuleer het. Toe hy in standerd 8 (graad 10) was, wou hy sanglesse neem, maar hy is afgeraai omdat hy “nie oor die nodige vaardighede beskik het nie.”

Koos was sy hele lewe lank in die joernalistiek. Hy het in 1967 by Die Vaderland in Johannesburg begin werk, en nadat hy in 1969 getroud is, het hy en sy vrou, Mornay, in Amanzimtoti naby Durban gewoon. Hy het by Die Nataller gewerk, eers as nuusredakteur en later hoofsubredakteur voordat hy as adjunkredakteur aangestel is. In 1972 het hulle na Randburg verhuis, waar hy weer by Die Vaderland begin werk het. Teen die einde van daardie jaar is hy egter by Oggendblad in Pretoria aangestel en nadat sy oudste dogter gebore is, het hulle in Wierdapark in die hedendaagse Centurion gaan woon.

Koos het reeds in sy studentejare liedjies begin skryf, en geleer om kitaar te speel. Die eerste persoon wat Koos in die rigting van ’n musiekloopbaan gehelp het, was Karl Theunissen, ’n vriend van hom wat ’n kassetopname van Koos se liedjies na Nick Taylor toe geneem het. Nick was veral bekend vir sy treffer “Stille rivierstroom” en het ’n tuisateljee gehad terwyl hy die onafhanklike platemaatskappy Incline House bestuur het. Twee jaar later was Karl die regisseur van die televisieprogram Perspektief, en Koos het drie liedjies in dié program gesing. Dit is opgevolg deur optredes op die program Musiek en Liriek en ’n reeks konserte by Die Laager by die Markteater in Johannesburg.

Koos se deurbraak het gekom toe Kantinka Heyns sy liedjie “Kinders van die wind” ontdek het en besluit het om dit as temaliedjie vir Phoenix en Kie te gebruik. Jana Cilliers het die rol van ’n nagklubsangeres vertolk, en soos die gebruik destyds was, moes ’n sangeres se stem vir haar sangstem gebruik word. Die probleem was egter om so iemand te vind. Jana het die oplossing gehad; sy was goed bevriend met Laurika Rauch, wat toe nog in die onderwys was. Laurika het op die ou einde nie net “Kinders van die wind” gesing nie, maar haar sangstem is ook vir Jana se karakter vir liedjies soos “Sprokie vir ’n stadskind”, “Die somer is verby” en “Skielik is jy vry” gebruik. “Kinders van die wind” is op ’n kortspeler uitgereik; op 14 September 1979 het dit in die sewentiende plek tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Dit het die derde plek gehaal en dertien weke lank op die treffersparade gebly.

Dit het ook beteken dat Koos sy eerste album as sanger opgeneem het. Dit was van die begin af duidelik dat Koos nie bang was om oor moeilike onderwerpe te skryf nie. “Skielik is jy vry” was die beste voorbeeld hiervan; hy het dit gewaag om oor depressie te skryf. Die album het heelwat treffers opgelewer, onder meer die titelsnit, “Op die pad na Nooitgedacht”, “As jy my kon volg” en “Najaarsdroom”. Koos se tweede album, As almal ver is, het twee jaar later verskyn. Hy het liedjies vir elk van sy dogters, Irma, Karla en Karien, geskryf, asook “Molberge-herinneringe” aan Springs, waarin hy van sy grootwordjare gesing het. “Groet sonder woorde” was nog ’n hoogtepunt; hierin het hy gesing van mense wat besluit om ’n vriendskap of verhouding te beëindig. Toe sy derde album, Herbergier, vrygestel is, sou niemand kon dink dat dit die laaste een sou wees wat in sy leeftyd uitgereik sou word nie. Op “Koue-vuur” het hy reguit en eerlik van alkoholisme gesing, en hy het sy mond oor oppervlakkige samesyn uitgespoel in “Hier’s ons almal tesaam”. Hy het egter nie net oor ernstige onderwerpe gesing nie; ’n mens hoef net na “Nes ek wil” te luister om dit te besef.

Op 15 Januarie 1984 was hy op pad na sy musiekregisseur, Nick Taylor, wat besig was om Koos se vierde album, Vier horisonne, op te neem. Hy het egter nooit by Nick uitgekom nie want sy motor het die pad op ’n laagwaterbrug naby Centurion die pad byster geraak en hy is in die ongeluk dood. Hy was 38 jaar oud. Daar was egter een komposisie waarmee hy altyd geassosieer sal word, maar wat hy nooit in sy leeftyd opgeneem het nie. Toe Jannie du Toit, Lucas Maree en Nick Taylor die huldeblyk-album Koos se plaat ’n jaar na Koos se dood opgeneem het, het Jannie en Lucas ’n opname van “Gebed” gemaak. Nog ’n komposisie wat hy nooit opgeneem het nie, maar wat gewild geword het, is “Somerkersfees”, wat in die Liedboek van die Kerk ingesluit is en gereeld deur gemeentes gesing word. Koos se onvoltooide album is wel in 1995 onder die titel Die vierde horison uitgereik. Die een snit wat bo die res uitgestaan het, was “Woorde”, waarin Koos gesing het van mooi dinge wat mense vir mekaar sê, maar wat hoegenaamd niks beteken nie.

Koos was die tipe mens wat nie van publisiteit gehou het nie, en hy het die kollig vermy. Een verhaal wat vir die waarheid vertel word, is dat hy by geleentheid vir ’n toekenning benoem is, maar geweier het om die geleentheid by te woon bloot omdat hy dit verkies het om by die huis te bly en hom met sy eie dinge besig te hou. Nogtans het sy musiek bly voortleef.

Na Koos se dood het verskeie kunstenaars albums vrygestel waarin hulle hulde aan hom gebring het, onder meer Johannes Kerkorrel, Theuns Jordaan, Mathys Roets, Jannie du Toit en Piet Smit, wat gewoonlik kontemporêre Christelike musiek sing.

Koos is seker die beste liedjieskrywer wat ons land tot dusver opgelewer het, en sy musiek sal altyd voortleef.