Ben Schoeman (1905-1986)
Julie 6, 2020
Koos du Plessis (1945-1984)
Julie 6, 2020

deur Daantjie Dinamiet

“Hier is spoed, hier is spoed, hier is spoed, HIER IS SPOED!!!”

Wie sal ooit die legendariese Gerhard “Spiekeries” Viviers se kommentaar vergeet toe Jaco Reinach, wat in vier toetse vir die Springbok-rugbyspan gespeel het, op Loftus Versfeld ’n drie gaan druk het?

Jacobus Reinach is op Nuwejaarsdag in 1962 in Ceres in die Wes-Kaap gebore. Hy het aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer. Hy het op 15 April 1983 die Suid-Afrikaanse rekord in 400 meter verbeter toe hy dié afstand binne 45,01 sekondes afgelê het. Hiermee het hy die rekord wat Malcolm Spence tydens die Olimpiese Spele van 1960 opgestel het, verbeter, en dié rekord het sestien jaar lank gestaan.

Reinach was een van ses spelers wat hul debuut vir die Springbokke teen die “Nieu-Seelandse Kavaliers” gemaak het. Die Kavaliers was wel nie ’n amptelike Nieu-Seelandse span soos die All Blacks nie, maar die Springbokke het almal volle kleure vir die vier toetse in hierdie reeks verwerf. Die toer is gereël in die plek van die voorgenome All Black-toer wat die vorige jaar sou plaasvind maar om politieke redes afgelas is. Die vier toetse in hierdie reeks is almal in Mei 1986, op opeenvolgende Saterdae, gespeel. Carel du Plessis was die linkervleuel in al hierdie toetse en Reinach die regtervleuel. Naas Botha was die kaptein.

Die Springbokke het die eerste toets op Nuweland met 21-15 gewen, maar net Carel du Plessis kon ’n drie druk. Hoewel Reinach sy eerste toetsdrie die volgende week op Kingspark in Durban gedruk het, het die Springbokke naelskraap met 19-18 verloor. Daarna het die toets op Loftus Versfeld gevolg. Gerhard Viviers was bekend as ’n geesdriftige en patriotiese kommentator en toe Reinach die bal in die hande gekry en gaan druk het, kon hy sy opgewondenheid nie in toom hou nie. Die Springbokke het met 33-18 gewen. Die laaste toets is op Ellispark in Johannesburg gespeel, en die eindtelling was 24-10 in die Springbokke se guns. Dit was Reinach se laaste toets.

Op 21 Januarie 1997 is Reinach in ’n motorongeluk oorlede. Hy was op pad na Johannesburg toe sy motor tussen Ventersburg en Kroonstad deur water gery het. Die motor het die pad verlaat en ’n boom getref. Dit was twintig dae na sy 35ste verjaardag. Sy vrou het hul derde seun ten tyde van die ongeluk verwag, en hy is die volgende maand gebore.

Reinach se seun, Cobus, wat op 7 Februarie 1990 gebore is, het in sy pa se voetspore gevolg deur vir Grey Kollege se eerste span rugby te speel, maar as skrumskakel eerder as regtervleuel. Hy het tot 2017 vir die Sharks in die Vodacom-beker, Curriebeker en Super Rugby-kompetisies gespeel waarna hy hom by die Engelse Premierliga-span Northampton Saints aangesluit het. Hy het tot dusver ook al in elf toetse vir die Springbokke gespeel.