Hannah Botha (1923-2007)

Connie Mulder (1925-1988)
Julie 6, 2020
Ben Schoeman (1905-1986)
Julie 6, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Ons almal onthou seker nog tant Lissie Rademeyer, die skinderbek van die televisiereeks Nommer asseblief.

Die aktrise wat hierdie rol vertolk het, was Hannah Botha, wat ook later as Elsa du Plessis in Egoli- plek van goud, te sien was. Hannah is op 17 Januarie 1923 by Dwarskersbos aan die Kaapse Weskus gebore; dit was waar haar onmiskenbare Kaapse aksent vandaan gekom het. Sy het aan die Hoërskool Piketberg gematrikuleer en het toevallig in die toneelwêreld beland toe sy in 1952 poësie bestudeer het. Sy het blind geword weens nierstuipe, maar het later haar sig herwin. Haar dogtertjie is egter doodgebore en sy kon nie weer kinders hê nie. Sy het ’n vierjarige lisensiaat in spraak en drama verwerf, maar sy het eers in 1988 voltyds aktrise geword nadat sy 41 jaar lank by die Ontvanger van Inkomste in Johannesburg gewerk het.

Hoewel Nommer asseblief en Egoli-plek van goud die twee reekse is waarvoor sy altyd onthou sal word, het sy in nie minder nie as 26 rolprente en verskeie ander televisiereekse gespeel. Sy is op 16 April 2007 in Johannesburg oorlede en haar laaste episode van Egoli-Plek van goud, is aan haar opgedra.