Connie Mulder (1925-1988)

Gideon Roos (1909-1999)
Julie 2, 2020
Hannah Botha (1923-2007)
Julie 6, 2020

deur Daantjie Dinamiet

 Dr. Connie Mulder was ’n bekende politikus en kabinetsminister wie se naam vir altyd aan die Inligtingskandaal van die 1970’s gekoppel sal word.

Cornelius Petrus Mulder is op 5 Junie 1925 in Warmbad (vandag Bela Bela) gebore. Hy het in 1941 aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer en het daarna aan die Potchefstroomse Onderwyskollege gaan studeer. Hy was aanvanklik ’n onderwyser in Afrikaans, Duits en Geskiedenis aan die Randgate Afrikaansmedium-skool en is later na die Riebeeck-hoërskool op Randfontein oorgeplaas. Hy het later sy PhD aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf.

Hy is in 1951 as stadsraadslid van Randfontein in Gauteng aangestel en dadelik tot adjunkburgemeester en voorsitter van die finansiële komitee verkies. In 1953, toe hy 28 jaar oud was, is hy tot burgemeester verkies en twee jaar later het hy die president van die Transvaalse Munisipale Vereniging geword. Van 1957 af was hy vier jaar lank lid van die Verenigde Munisipale Hoofbestuur van Suid-Afrika.

Tydens sy universiteitsloopbaan was hy leier van die Nasionale Jeugbond in Potchefstroom, ’n posisie wat hy ook van 1946 tot 1951 op Randfontein beklee het. Hy is in 1955 tot voorsitter van die afdelingsbestuur van die Nasionale Party op Randfontein verkies en op 16 April 1958 het hy Volksraadslid vir dié kiesafdeling geword. As parlementslid het hy op verskeie gekose komitees gedien; hy was onder meer die voorsitter van die Onderwys- en Poswese-studiegroepe asook visevoorsitter van die Buitelandse Sake- en Bantoesake-studiegroepe. Dr. Hendrik Verwoerd het hom in Februarie 1966 as assistent-inligtingsbeampte van die Nasionale Party benoem en op 1 Julie 1967 het hy hoofinligtingsbeampte geword.

Hy is op 12 Augustus 1968 tot Minister van Inligting, van Volkswelsyn en Pensioene en van Immigrasie verkies sonder dat hy eers ’n adjunkminister was. In sy termyn as Minister van Volkswelsyn en Pensioene is die metode van die versorging van bejaardes ingrypend verbeter. Daar was ook groot veranderinge aan die hele pensioenstruktuur van die staatsamptenary. Waar die dwelmmiddelvraagstuk in Westerse lande talle slagoffers geëis het, was hy in 1971 verantwoordelik vir die Suid-Afrikaanse Dwelmmiddelwet wat die bekamping van hierdie probleem in Suid-Afrika ten doel gehad het.

In Augustus 1972 het hy die Minister van Binnelandse Sake geword en Volkswelsyn en Pensioene ’n jaar later afgegee. Gedurende sy termyn as Minister van Binnelandse Sake is ’n publikasieraad met ’n regter as voorsitter daargestel met die doel om die wenslikheid al dan nie van rolprente, publikasies en ander vermaaklikhede te oordeel op advies van publikasiekomitees in al die groot sentra. Volgens hom was sy hoofdoel om te verhoed dat die land met pornografie oorstroom word en dat die morele standaarde handuit ruk.

Hy het die portefeulje van inligting deurgaans behou en verskeie oorsese reise onderneem. Hy het verskeie geheime kontakte in Afrika opgebou, waarvan net sy amptelike besoek aan die Ivoorkus bekend geword het. Tydens sy reise het hy persoonlike kontakte met meningsvormers en besluitnemers opgebou.

As gevolg van die propagandaveldtog teen Suid-Afrika het die kabinet, in sy tydperk as Minister van Inligting, besluit om die werksmetodes en aanslag van die departement te verander. Gedurende die 1970’s het die regering R75 miljoen aan ’n geheime inligtingsprogram bestee. Die fondse is deur die kabinet in die begroting van Verdediging met die samewerking van die destydse minister en latere Staatspresident, mnr. PW Botha, weggesteek, sonder dat die Parlement dit goedgekeur het. Die destydse Eerste Minister, mnr. John Vorster, was die voorsitter van ’n kabinetskomitee wat die projekte gemonitor het; die metode van finansiering is deur die Minister van Finansies; eers dr. Nico Diederichs en later dr. Owen Horwood, goedgekeur. Nadat die besonderhede van sekere projekte aan die pers gelek is, het Suid-Afrika se politieke landskap verander. Een daarvan was die stigting van The Citizen, ’n Engelstalige koerant wat ten doel gehad het om steun vir Vorster onder Engelssprekende kiesers te werf. Dr. Mulder is weens die Inligtingskandaal uit sy amp ontslaan en Vorster het as eerste minister bedank.

Voordat die besonderhede van die Inligtingskandaal, wat in die Engelse media as Muldergate bekendgestaan het, bekend geword het, was Mulder ’n kandidaat om Vorster as Eerste Minister op te volg. Hy is egter in ’n stemming deur mnr. PW Botha verslaan, en nadat Botha tot Eerste Minister verkies is, is Mulder weer in die kabinet aangestel.

Nadat Botha as Eerste Minister aangestel is, het hy regter Rudolph Erasmus aangestel om die besteding van geheime fondse te ondersoek. Volgens die Erasmus-kommissie het die staat niks geweet van die besteding van geheime fondse nie en Mulder, asook dr. Eschel Rhoodie, wat as sekretaris van inligting opdrag gegee is om die program uit te voer, was volgens die kommissie die enigste skuldige persone. Die Erasmus-kommissie was in verskeie hofsake betrokke, maar het nie een daarvan gewen nie en die Appèlhof het dr. Rhoodie onskuldig bevind. Mulder het op 31 Januarie 1979 as Volksraadslid vir Randfontein bedank en op 6 April 1979 is hy uit die Nasionale Party geskors omdat hy geweier het om hom ongekwalifiseerd by die eerste twee verslae van die Erasmus-kommissie neer te lê.

Na sy skorsing uit die Nasionale Party het hy die Nasionale Konserwatiewe Party in 1979 gestig. Dié party het aan die algemene verkiesing in 1981 deelgeneem en 2% van die stemme op hom verenig. Op 20 Maart 1982 het die party saam met groepe soos Aksie Eie Toekoms, en ’n groep Parlementslede bekend as “Onafhanklike Nasionaliste” bymekaargekom en die Konserwatiewe Party, met dr. Andries Treurnicht as leier, gestig en Mulder is tot die dagbestuur van die KP-hoofraad verkies. Met die algemene verkiesing van 1987 is Mulder weer tot Parlementslid van Randfontein verkies, nadat die KP die setel by die NP afgeneem het.

Dr. Mulder is op 12 Januarie 1988 in die ouderdom van 62 jaar aan kanker oorlede. Nadat die Randfontein-setel vakant geraak het, is sy jongste seun, Corné, tot Parlementslid verkies. Een van sy ander kinders is dr. Pieter Mulder, wat voorheen die leier van die Vryheidsfront Plus was en in oud-president Jacob Zuma se kabinet as adjunkminister van Landbou gedien het.