Gideon Roos (1909-1999)

Lance James (1938-2020)
Julie 2, 2020
Connie Mulder (1925-1988)
Julie 6, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Dr. Gideon Daniël Roos was ’n akteur en omroeper wat later die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (SAMRO) gestig het en as direkteur-generaal van die SAUK gedien het.

Hy is op 28 Oktober 1909 op Worcester in die Wes-Kaap gebore . Sy pa was die bekende Springbok-rugbykaptein Paul Roos, na wie die Paul Roos-gimnasium op Stellenbosch vernoem is. Met die 125ste bestaansjaar van hierdie skool in 1991 was Roos, wat toe 82 jaar oud was, die naasoudste oudleerder. Dié skool, waar Roos gematrikuleer het, het eers as die Hoër Jongenskool Stellenbosch bekendgestaan. Hy het sy eerste twee grade, BA en LLB aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Hy is in 1933 as advokaat toegelaat maar die volgende jaar het hy met ’n Rhodes-beurs aan die Universiteit van Oxford in Engeland gaan studeer. In 1936 het hy die graad BLitt in Volkereg behaal en die universiteit het daarby rugbykleure (Oxford Rugby Blue) aan hom toegeken. Hy het sy liefde vir letterkunde en klassieke tale by sy pa geërf, en behalwe vir ’n kennis van Grieks kon hy Frans en Duits vlot praat. Anders as sy pa het hy nie groot hoogtes in rugby bereik nie; want hy wou blykbaar nie in sy pa se skadu speel nie. Nadat hy by Oxford gegradueer het, het hy aan die Universiteit van Leiden in Nederland gestudeer en vir die D Phil-graad in internasionale reg ingeskryf. Die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie het egter ’n telegram aan hom gestuur en hom gevra om die Afrikaanse uitsaaidiens tot stand te bring; dit was die einde van sy regsloopbaan.

Dr. Roos het die Simboliese ossewatrek van 1938 vergesel en baanbrekerswerk met buite-uitsendings verrig. Hy is daarna aangestel as Afrikaanse programorganiseerder en hy was die eerste rugbykommentator wat in Afrikaans uitgesaai het. In dieselfde jaar het hy beroepstoei begin uitsaai, veral as gevolg van die gewildheid van die “gemaskerde wonder” Johannes van der Walt. In 2001 het Fanus Rautenbach geskryf dat omroepers soos Roos die heeltyd aandpakke moes dra selfs al kon niemand hulle sien nie. In 1942 is Roos tot sekretaris bevorder en in 1948 tot direkteur-generaal. Hy het sakereise gehad na lande soos die VSA, Kanada, Brittanje, die hele Europa, Indië, Australië en Nieu-Seeland.

Met die Nasionale Party (NP) se bewindsoorname het net twee kabinetslede, mnre. Eric Lou en Klaas Havenga, nie tot die Broederbond behoort nie. Die res was almal lede van die organisasie wat die NP gehelp het om die verkiesing te wen. Die volgende stap was om Broederbondlede aan die hoof van al die vername staatsinstellings aan te stel. Met die SAUK het dit egter langer geduur. Die eerste stap van die regering om beheer van die SAUK te kry, was om dr. SH Pellissier, die vader van die Volkspelebeweging, en jarelange lid van die Broederbond, as voorsitter aan te stel. Met die bewindsoorname was hy egter reeds sestig jaar oud en volgens die Broederbond het hy nie veel dryfkrag gehad nie. Daar was niemand in die Broederbond wat op meriete as direkteur-generaal aangestel kon word nie en hoewel Roos nie ’n lid van die Broederbond was nie, is hy as die mees geskikte kandidaat beskou. Een rede was sy betrokkenheid by buite-uitsendings tydens die Simboliese ossewatrek. Hy het hierdie geleentheid so gewild gemaak dat dit ’n emosionele volksbeweging geword het wat Afrikaners herenig het. Hy sou aanvanklik net vanuit Kaapstad uitgesaai het, maar is gevra om tot in Pretoria saam te gaan. Hy het onwetend met sy uitsendings bereik wat die Broederbond gehoop het die ossewatrek sou regkry.

Toe die kabinet in 1949 ’n nuwe direkteur-generaal aangestel het, is Roos gekies maar hulle het hom verkeerd opgesom. Hy het onwrikbaar daarop aangedring dat verslaggewing billik moes wees sonder dat een party bo ’n ander bevoordeel moes word. Hy het geweier om die SAUK as spreekbuis vir NP-propaganda te gebruik. Die kabinet het gedink dit was Pellissier se skuld dat die SAUK onpartydig was, en hom met dr. Piet Meyer vervang. Meyer het nie die mag gehad om sy wil af te dwing nie en Roos het steeds teen partydige uitsendings vasgeskop. Daar is besluit om Meyer meer mag te gee en Roos uit te werk.

Teen April 1961 het Roos se posisie ondraaglik geword en hy moes bedank. Soos met Marshall Clark by die SA Spoorweë het hy ’n “goue handdruk” gekry, maar anders as met genl. Evered Poole se verwydering as hoof van die Weermag was sy bedanking geen verrassing nie. Sy uitvoerende magte as direkteur-generaal is een vir een verwyder totdat daar niks oorgebly het nie. Daar is egter aangekondig dat Roos se pos “weggeval” het. Meyer het op hierdie manier hoof van die uitsaaiwese geword. The Star het in sy kommentaar geskryf: “In 24 jaar was Roos deurgaans ’n kampvegter vir die onpartydigheid in die uitvoering van die SAUK se taak en die handhawing van demokratiese beginsels in die uitsaaiwese. Hy het kragtig gestry teen enige poging om die SAUK in ’n propagandamasjien van die regering te omskep.” Roos het aan Sunday Times gesê: “Die SAUK lewer ’n diens aan die publiek en dien die publiek en nie die regering nie.” Dié koerant het egter op 16 April 1961 geskryf: “Die regering en die Broederbond het hul stryd van vier jaar om van Roos ontslae te raak, gewen. Met sy vertrek is die laaste hindernis om te keer dat die SAUK in politieke hande beland, verwyder.”

Met Meyer se aanstelling as raadsvoorsitter in 1959 is ’n nuwe pos van uitvoerende voorsitter geskep. Hy sou die SAUK se beleidsrigting bepaal; daarby het hy oorheersende uitvoerende en administratiewe mag gehad. Roos en Meyer se standpunte oor die uitsaaiwese het lynreg van mekaar verskil. Een van hulle moes kopgee en, soos dit gewoonlik destyds die geval was, was dit nie die Broederbonder nie. Roos het probeer om ’n reeks praatjies deur Jannie Kruger, wat as kulturele hoof van die SAUK aangestel is, Die Afrikaanse toneel, te keer. Sommige lede van die publiek en die parlement het beswaar daarteen gemaak omdat hulle geglo het dit was ’n teken van die SAUK se politieke partydigheid. Roos kon egter niks daaraan doen nie, want dit was “op hoër vlak” goedgekeur. Meyer se volgende stap om Roos se mag in te perk, was om direkteurs met bepaalde take aan te stel. Roos was een daarvan, maar beheer oor die uitsaaiwese is tussen vyf mense verdeel, van wie drie Broederbonders was. Roos was net verantwoordelik vir Springbok Radio en die Afrika-diens, wat baie min beleidsrigting of administrasie behels het. Die meeste personeellede was ontsteld omdat hulle gemeen het dat sy invloed ingekort is en dat hy verneder is.

In 1962 het Roos die voorsitter en hoofbestuurder van SAMRO, ’n organisasie wat deur sy toedoen tot stand gekom het, geword. Hy was dertig jaar lank, tot kort voor sy dood, die voorsitter daarvan. Later het hy die Dramatiese, Artistieke en Letterkundige Regteorganisasie (DALRO) gestig en dieselfde betrekking beklee. Roos was ’n begeesterde ondersteuner van musiek en het vyftien operas en nege operettes in Afrikaans verwerk. Saam met Pieter de Waal het hy ’n groot rol gespeel in die B-program (later die Afrikaanse program) van die SAUK wat tot die landwye bevordering van Afrikaans bygedra het. Hy was jare lank lid van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) se bestuurskomitee vir musiek, en van 1979 af was hy die voorsitter daarvan. Hy was ook voorsitter van die Johannesburgse Musiekvereniging.

Roos is op 8 Januarie 1938 met die operasangeres en aktrise Esther Mentz, wat in 1986 oorlede is, getroud en twee seuns en ’n dogter is uit die huwelik gebore. Hy is op 9 Maart 1999 in die ouderdom van 89 jaar oorlede nadat hy ’n praatjie oor radiokommunikasie by die Randse klub in Johannesburg gelewer en weens ’n hartaanval inmekaargesak het.