Lance James (1938-2020)

Manie Bredell (1865-1953)
Julie 1, 2020
Gideon Roos (1909-1999)
Julie 2, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Op 2 Maart 2020 het die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf een van sy groot geeste verloor toe Lance James oorlede is.

Lance James Liebenberg is op 18 Julie 1938 in Germiston gebore, en het sy eerste opnames in 1957 gemaak. Dit was die begin van ’n lewenslange loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf. Hy het as klavier- en kitaarspeler in orkeste begin speel en transkripsieopnames vir die SAUK gemaak. Hy is genader om Chuck Berry se treffer “Johnny B Goode” op te neem, maar dit is nooit vrygestel nie as gevolg van sy kontraktuele verpligtinge met die SAUK. In 1959 het Lance na Engeland vertrek maar twee jaar later teruggekeer.

In 1965 is hy getroud en in dieselfde jaar het hy sy eerste voltydse platekontrak gekry. Hy het weinig sukses behaal , maar in 1968 het Albie Venter, die rolprent- en plateprodusent van Brigadiers, hom in ’n nagklub hoor sing en hom ’n platekontrak aangebied. Volgens hom het Lance “in die verkeerde taal” gesing. Hy het voorgestel dat Lance saam met Min Shaw sing, en Lance se sangstem is gebruik vir die rolprent Die Danie Bosman storie, waarin Franz Marx die titelrol vertolk het. Min Shaw het teenoor Franz gespeel en self ook gesing. Min en Lance het agt albums saam opgeneem voordat Min haar op Christelike musiek toegespits het.

In 1969 het Lance sy eerste solotreffer opgeneem; dit was die lied wat, volgens hom, sy lewe verander het. “Dankie” het in Maart 1970 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die dertiende plek gehaal. Daarna het hy groot sukses behaal met die album Ahoy Madagaskar ahoy, waarop “Dankie” ook ingesluit is, en veral die titelsnit het ’n groot treffer geword. Voor die einde van die jaar het hy die album Gee my jou hand vrygestel. Die groot treffer vanaf hierdie album was “Liedjie van die see”; dit was die Afrikaanse weergawe van Dave Mills se treffer “All the tears in the world”. Lance het die volgende jaar weer tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, hierdie keer met die temaliedjie uit die rolprent Vicki, wat die treffersparade in April gehaal het en tot by die vierde plek gevorder het. Nog ’n rolprent waarvoor hy die temaliedjie gesing het, was Lindie, met die kindersterre Lindie Roux en Pietie Meyer in die hoofrolle. Lance se laaste solotreffer op Springbok Radio se Top 20 was “What’s your Mama’s name, child?” Hierdie liedjie, wat in Desember 1973 toegetree het, het die sewentiende plek gehaal.

Omtrent dieselfde tyd het Lance hom by Radio Hoëveld as ’n omroeper aangesluit, maar dit is veral sy verbintenis met Springbok Radio waarvoor hy altyd onthou sal word. In April 1976 is sy program Keep it country vir die eerste keer uitgesaai; hoewel country reeds ’n gewilde musiekgenre was, het die jaarlikse Keep it country-musiekfeeste by die Randse Skou nog verder daartoe bygedra, en groot gehore het dit tot en met 1985 elke jaar bygewoon. Daarby het Lance die luisteraars van Springbok Radio se Top 20 in die program Bubbling under/Op die drumpel, blootgestel aan nuwe liedjies wat ’n kans gehad het om tot die Top 20 toe te tree, maar in Junie 1983 is die treffersparade na dertig liedjies uitgebrei en die program is nie verder uitgesaai nie. Nadat Springbok Radio in 1985 ophou uitsaai het, is Keep it country tot in 1990 op Radio Orion uitgesaai.

Lance het ’n paar albums saam met Barbara Ray opgeneem, en hul grootste treffer as sangpaar was “After the fire is gone”, wat in September 1977 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het en die vyfde plek gehaal het. Hoewel Lance daarna nog gereeld opnames gemaak het, het hy nie weer dieselfde sukses behaal nie. Hy en Min Shaw het in 1982 weer saamgespan vir die album Weer bymekaar. Benewens “Swerwerslied”, die tema van die oorgeklankte televisiereeks Die meisie van Avignon, het hulle bekende treffers soos “Kinders van die wind”, “Ek verlang nog altyd”, “Daar’s niks soos ware liefde” en “Gee haar ’n roos” opgeneem. In die laat 1980’s was Lance deel van Over the hillbillies, saam met Billy Forrest, Clive Bruce, Sally Vaughan en Joanna Field. Veral “Friends forever”, “Tomorrow’s dreams” en “Sweet summer love” was treffers. Lance en Joanna Field het verder sukses met hul duet “Bly by my” behaal. Lance het daarna gereeld met Jurie Els saamgewerk, en ’n duet, “Ek onthou nog daai plate”, waarvoor Jurie die woorde geskryf het en waarin hulle hulde aan bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars gebring het, opgeneem. Op sy versameling 20 gewildste treffers is hierdie snit, asook “Vriendskap”, “Gee ons liefde gee ons hoop” en bekende liedjies soos “Hantamberge”, “Woman (beautiful woman)”, “This world is not my home” en “Groen koringlande”, asook sy vroeëre treffers “Dankie”, “Ahoy Madagaskar ahoy” en “Vicki” ingesluit.

Met die milleniumwending het Lance al hoe meer Christelike opnames gemaak, maar steeds ’n gunsteling gebly. Met die vyftigste herdenking van sy toetrede tot die vermaaklikheidsbedryf in 2007 het hy die album 50 goue jare vrygestel. Jurie Els het die woorde van die titelsnit geskryf, en van die ander snitte op die album was “Ballad of the green berets”, “Distant drums”, “Mooifontein” (wat hy oorspronklik saam met Min Shaw gesing het), “I walk the line” en “He stopped loving her today”. Sy album For tears to come het die treffer “Oupa se wals” ingesluit. In die musiekvideo het hy in ’n AC Cobra (’n afslaankap-sportmotor met ’n glasveselbakwerk) gesit; hy was lief vir Amerikaanse motors en hy het jare lank ’n pragtige Ford Mustang, wat vir die omslag en musiekvideo van Die Campbells se treffer en album Voet in die hoek gebruik is, besit. Onder die ander snitte op hierdie album was “Della and the dealer”, “There won’t be anymore” en “My lady of grace”, vir sy vrou wat kort voor hul vyftigste huweliksherdenking in 2015 oorlede is. Lance het sy sestigste jaar in die bedryf met die album 60 goue jare gevier; hierop het snitte soos “Lady you are my life”, “Suiderland” en “Will the circle be unbroken” voorgekom, maar die grootste verrassing was “Lied van hoop”, wat ’n onverwagte maar welverdiende radiotreffer geword het.

Op tagtigjarige ouderdom het Lance die oudste kunstenaar geword wat ’n vollengte-album opgeneem het. Die titel daarvan, Swan song, was op ’n hartseer manier gepas, aangesien dit sy laaste album sou wees. Hierop het hy effens van sy resep afgewyk en liedjies soos “Sitting on the dock of the bay” van Otis Redding, “Nothing else matters” van Metallica (kan ’n mens dit glo?), “Cry to me” van The Staccatos, “Trouble will soon be over” van Blind Willie Johnson (waarop The Mahotella Queens saam met hom gesing het), “The glory of love” van Benny Goodman (nie dieselfde een wat Peter Cetera in 1986 opgeneem het nie) en “Rollin’ and tumblin’”, ’n ou blues-liedjie wat uit die laat 1920’s dateer. Lance was tot aan die einde professioneel en bereid om te waag; iets wat hy met hierdie album baie goed reggekry het.

Lance se bynaam in die musiekbedryf was “Big Daddy”; dit het niks met arrogansie te doen gehad nie, maar eerder met die feit dat sy medekunstenaars vir hom uiters belangrik was en dat hy na hul belange omgesien het. Hy het groot respek afgedwing by almal wat hy ontmoet het, en, behalwe heel aan die einde van sy lewe, jou naam onthou selfs al het hy jou net een keer vantevore gesien. Hy het ook ’n kans gewaag deur vir Bles Bridges tydens ’n voorvertoning ’n geleentheid te gee om op te tree en die res is geskiedenis. Hy was inderdaad een van die grootste legendes wat ons land nog ooit opgelewer het, en sy dood laat ’n groot leemte wat nie sommer gevul sal word nie. Hy was inderdaad die “Big Daddy” van die plaaslike vermaaklikheidsbedryf, en niemand wat hom leer ken het, sal hom ooit vergeet nie.