Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 4
Junie 26, 2020
Christiaan Frederik Beyers (1869-1914)
Julie 1, 2020

Sarel Feldtmann

 

Voorgeskiedenis van die mense aan die Kaap (vervolg)

Die hospitaal in die Kasteel

Die hospitaal in die Kasteel was baie aktief. In 1695 het ’n vloot van 11 skepe die Kaap in beroering gehad toe 673 siekes aan land gebring is, nadat 118 ander reeds op see omgekom het. Die jaar daarop, in 1696, het die vloot weer 589 siekes na die Kaap gebring, nadat 133 op see gesterf het.

Sedert die 800 siek seelui die Kaap enkele jare gelede getref het, is daar flink gevorder om die nuwe hospitaal te voltooi en in Oktober 1699 gee Willem Adriaan opdrag dat die pasiënte oorgeplaas moet word van die ou hospitaal wat in ’n ongesonde gebied geleë was, na die nuwe gebou en dat alle siekes op skepe van toe af daar behandel sou word.

Die bestaan van ’n volk word omtrent uitgewis

Deur die oorbenutting en berowing van die veebron (die Khoi-Khoi-stamme) is die bron tot in sy wortels verarm en verwoes. Die VOC se ruilhandelsmetodes was daarop gemik om totale beheer oor die bron en die middele te bekom, ter wille van doeltreffende skeepsverversing.

’n Pokke-epidemie in 1713 en ook masels wat uitgebreek het, het die meeste van die Khoi-Khoi-mense wat nie natuurlike immuniteit teen die Europese siektes gehad het nie, uitgewis en so is hulle bestaan as ’n volk omtrent heeltemal uitgewis.

Die oorblywende Khoi-Khoi het nie meer vee gehad om te ruil nie en van die stamme het so verarm dat hulle opgehou bestaan het. Ander stamme het hul bestaan begin maak uit strydrowery en ander se beeste gesteel. Van die mense het die berge ingetrek om te oorleef.

Die Vryburgers het die tradisionele weivelde ingeneem en hul eie boerderye begin. Sodoende is die Khoi-Khoi daar verbied met hul vee en verdryf. Deur lewensverliese en assimilasie is hulle tot so ’n mate verswelg, dat min of geen teken van die oorspronklike Khoi-Khoi te vinde is nie.

Heemrade, Landdroste en Drostdye

’n Raad, bestaande uit vier Vryburgers, met die benaming heemraad, is reeds in 1682 in die Stellenbosch-distrik aangestel om die siviele administrasie insake plaasgrense, paaie, brûe en mindere twiste op te los. Volgens hoofkommissaris Van Reede se opdrag moes die landdros die voorsitterskap van hierdie raad oorneem. Hierdie raad van heemrade was die eerste burgerlike liggaam in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die drostdy te Stellenbosch was die eerste en oudste in Suid-Afrika. Bouwerk het in 1685 om veiligheidsredes op ’n klein langwerpige eiland in die Eersterivier begin. Dit was ook een van die min gebiede wat nog nie as plase uitgegee was nie. Dit het die amptelike woning van die eerste landdros Jan Mulder geword. Die gebou is saam met talle ander in die dorp deur die groot brand van 17 Desember 1710 vernietig.

’n Raadhuis, wat die woning en ’n kantoor vir die landdros bevat het, is in 1687 voltooi. Dit het as die drostdy bekend geword. Die landdros se twee Nederlandse assistente was bekend as veldwagters, en hulle was met hul ryperde op die sentraal-geleë buitepos De Cuijlen gestasioneer.

Die landdros se rol as opsigter oor die buiteposte het afgeneem nadat die Here XVII eers in 1695 en weer in 1699 opdrag vir die geleidelike verkleining en ontruiming van die landbouposte gegee het.

Die staking van die VOC se eie voedselproduksie het ’n nuwe las op die landdros se skouers gelê om graan, vee en groente van die Vryburgers in te koop wanneer dit skielik benodig word. Soms moes trekvee ook van die Vryburgers gekoop, gehuur of opgekommandeer word.

Buiteposte van die Derde Grens (1703)

Die Here XVII het teen 1695 reeds besluit om die Kompanjie se boerderybedrywighede te staak, en omdat die Hottentotte nie langer hulle vee deur ruil aan die VOC wou of kon afstaan nie, is Vryburgers aangemoedig om die beskikbare landbougrond ter wille van die graan en vleisvoorsiening te beset.

Die Here XVII se tweede opdrag in 1699 tot die afskaffing van die landbouposte is ontvang ’n paar maande nadat goewerneur WA van der Stel die bewind aan die Kaap oorgeneem het.

Die uittredende goewerneur Simon van der Stel het ook ’n memorie aan sy opvolger nagelaat, waarin hy hom aanraai om die veeposte op te breek, aangesien die Vryburgers se vee so toegeneem het dat hulle na ongeveer drie jaar in al die VOC se behoeftes sou kon voorsien.

Aanvalle teen die nuwe nedersetters begin

Aanvalle deur inboorlinge op die nuwe nedersetters het binne maande begin. Militêre poste sou nodig wees om hulle teen ’n verskeidenheid van gevare te beskerm.

Die presiese stigtingsdatums van die vyf militêre poste is nie bekend nie, en hulle liggings kan net afgelei word uit die posbenamings wat daaraan gegee is. By elkeen van die poste het die soldate help waak oor die vee van die Kompanjie en die Koloniste, wat deurmekaar gewei het.

Landdros Ditmars het in Maart 1701 aan goewerneur WA van der Stel geskryf dat Ubiqua uit die binneland die veepos van die burger Gerrit Cloeten beroof het van 40 beeste. Die naam Ubiqua beteken “moordenaars” en hoewel meesal na hulle as Sonqua, struikrowers en bossiesmans (Boesmans) verwys word, was daar ook Ubiqua wat veebesitters was.

Simon van der Stel gee toestemming om die Umbiqua aan te val

Sedert 1686 was die Ubiqua bekend vir hulle aanvalle op jagters en Vryburgers. In 1688 het kommandeur Simon van der Stel toestemming aan Vryburgers gegee om die Ubiqua aan te val en hulle uit te roei, omdat hulle hul bestaan gemaak het op die roof van hulle eie nasie (die Hottentotte) en Vryburgers se vee, en nie tot rede gebring kon word nie.

’n Kettingreaksie van veeroof en strooptogte het gevolg op die oorspronklike verarming van die Hottentotte deur die VOC se veeruiltogte wat mettertyd vererger is deur die verdringing deur Vryburgers, en deur die groot droogte.

Die buitepos ’t Land van Waveren moes, nadat dit ’n paar jaar gesluit is, weer in 1709 beset word. Dit is toe nog etlike jare lank in stand gehou, omdat die gevaar vir die Vryburgers en hul eiendom eerder toegeneem as afgeneem het. In 1715 is die eerste van ’n reeks burgerkommando’s teen die veerowers van Waveren en die Bergrivier uitgestuur.

Vleisvoorsiening word aan die Vryburgers oorgelaat

Volgens die opdrag wat die Here XVII op 27 Junie 1699 aan WA van der Stel gegee het om die vleisvoorsiening aan Vryburgers oor te laat, het die Politieke Raad op 17 Februarie 1700 met Henning Hüsing ’n ooreenkoms aangegaan.

Hüsing kon al die beeste en skape van die VOC op die buiteposte koop, maar dan moes hy vir tien jaar lank die VOC se skepe en garnisoen van vleis voorsien teen vasgestelde pryse.

Hüsing het 3747 skape en 522 beeste by die kompanjie gekoop vir die bedrag van 17 505 gulden. Hy sou, as sy uitsluitlike weiveld, die plaas “de drie Fonteijnen” van die Kompanjie kry, met die aangrensende grond suid van die Groene Clooff, van daar af weswaarts tot by die see, en langs die kus noordwaarts tot by Saldanhabaai.

Henning Hüsing word aangeval

Die enigste aanval op Hüsing se vee in die Groene Clooff het op 7 Oktober 1701 plaasgevind, tydens die hoogtepunt van die strooptogte in die gebied Waveren-Bergrivier toe ’n groep van meer as 300 Hottentotte ongeveer 200 van Hüsing se vee weggedryf het.

Sy herders het drie rowers doodgeskiet, maar die vee is nie weer gesien nie. Die buitengewoon groot getal rowers klink verdag, en is moontlik oordryf om die erns van die situasie aan die Kompanjie tuis te bring.

Henning Hüsing kry beskerming van die VOC

Die VOC wat van Hüsing se veestapel afhanklik was vir die ongeveer 100 000 pond vleis wat hy jaarliks verskaf het, het op 8 November 1701 ’n sersant en tien soldate gestuur om ’n militêre besetting by die veepos te vestig. Hüsing se vee wat daarna onder beskerming by die militêre buitepos van Groene Clooff gewei het, was tot groot nut en voordeel vir die Kompanjie.

Die buitepos Groene Clooff het in die komende jare steeds goeie diens aan die Kompanjie gelewer as veeweiding en as verblyfplek op pad na die Noorde. Omliggende gronde het toenemend gewild geword as graanplase en jagplase, en die Kompanjie het dit aan pagters verhuur. Die Kompanjie het baie jare lank nog beeste en skape op sy pos in die Groene CIooff aangehou.

Vryburgers doen vergeldingstogte teen veediewe

Die meeste van die Vryburgers aan die Kaap was oudsoldate, en die dood was hul beroep. Hulle het soms privaat handel gedryf met die Hottentotte en as die Hottentotte vee gesteel het, het hulle hul agtervolg en op vergeldingstogte gejag.

Op ’n vergeldingstog is daar gewoonlik meer beeste en skape teruggeneem as wat gesteel was, en so is die kuddes van die Vryburgers aangevul en uitgebou. Die VOC het alle private handel van die Vryburgers met die Hottentotte en besoekende skepe verbied, maar dit het tog plaasgevind.

Die verbod was weens die VOC se alleenreg om handel te dryf met die inheemse mense en besoekende skepe, en om kostes so laag as moontlik te hou en te beheer. Die Vryburgers moes al hul goedere aan die VOC verkoop teen ’n baie laer prys as wat hulle andersins kon kry.

Boerderygebied word deur twintig amptenare van die VOC besit

Onder Simon van der Stel – en later sy seun, Willem Adriaan van der Stel – is land aan hoë amptenare en die goewerneur se broer, ’n Vryburger, gegee. Teen 1705 was ’n derde van die boerderygebied van die kolonie, deur twintig VOC-amptenare besit. Hulle het dus ’n monopolie op die verkoop van wyn, vleis, vis en koring ingestel.

Daar was dus ’n botsing van belange – die goewerneur het die Vryburgers gesien as misdadigers, wat hulle eintlik was, en die Vryburgers het die goewerneur ’n “skelm” genoem, wat hy eintlik was.

Henning Hüsing en Adam Tas stel ’n petisie op

Die ryker Vryburgers was die meeste bedreig deur hierdie monopolie. Henning Hüsing en Adam Tas het ’n petisie na Amsterdam gestuur via owerhede in Batavia, wat die Kaapse amptenare van wangedrag beskuldig het.

63 van die 550 Kaapse Vryburgers onderteken ’n petisie “klachtschrift” waarin hulle Willem Adriaan van der Stel en plaaslike ampsdraers daarvan beskuldig dat hulle hul magte misbruik deur handelskontrakte toe te ken wat nie hulle eie konflik van belange in ag neem nie. Tas word op 28 Februarie 1706 gearresteer en in kettings na die Kasteel geneem waar hy van opstand aangekla word.

Adam Tas word in die Kasteel opgesluit

Die Here XVII het ’n verklaring van die Kaapse amptenare vereis. Ontstoke Kaapse amptenare het opstokers van die burgerrebellie na Holland op die jaarlikse terugkeervloot vanaf Batavia gestuur. Tas is in hegtenis geneem en Jacobus van den Heiden – een van die sleutelgetuies in die saak – is in die “Donkergat” in die Kasteel gegooi en opgesluit.

Daarna het vooraanstaande Kaapse burgers teen die Kaapse amptenare in Amsterdam getuig. Vroeg in 1707 het die Kaap die nuus ontvang dat die Here XVII in Amsterdam die gesag van Van der Stel en ander amptenare, insluitende Johannes Starrenburg, die landdros van Stellenbosch, herroep het.

Die Here XVII het daarna alle beamptes in die Kaap verbied om eiendom te besit of handel op die Kaapse mark te bedryf en het daarop aangedring dat hulle al hul grond teruggee aan die VOC. Adam Tas en sy mede-Vryburgers is daarna vrygelaat.

Tas en sy makkers het gewen. Tas is vrygelaat en by sy terugkeer het hy sy plaas Libertas genoem ter herdenking van sy vryheid. Dit was ook ’n woordspeling op die woorde Liber Tas, Vrye Tas. Die plaas bestaan vandag nog. Adam Tas en sy medegevangenes het die erge korrupsie in die Kaap aan die kaak gestel en laat beëindig. Willem Adriaan van der Stel se reuseboerdery by Vergelegen by Somerset-Wes het tot ’n einde gekom.