Vroue en dogters wat die Anglo-Boereoorlog oorleef het en uit die ashope van die verskroeide aarde ’n nuwe toekoms geploeg het
Junie 24, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 5
Julie 1, 2020

Sarel Feldtmann

 

Voorgeskiedenis van die mense aan die Kaap (vervolg)

Uitbreidings aan die Kaap

Die landbougrond in die Tafelvallei was te beperk en te arm, die waterbron en weiding was net in die winter genoegsaam, die vallei was die hele jaar aan sterk wind blootgestel, en die brandhout, timmerhout en meubelhout in die Tafelvallei sou net op die kort termyn voldoende wees.

Ook was die inboorlinge se vee nie so beskikbaar as wat gehoop is nie. Die toekoms van die skeepsbediening het dus in die ontginning van die VOC se eie hulpbronne buite die Tafelvallei gelê.

Die inheemse mense het deur die jare gewoond geraak aan die seisoenale reënvalpatroon en dus aan die kondisie van die weiding vir hul vee. Dit is waarom hulle nomadies was en hulle getrek het met die seisoene en nie altyd maklik beskikbaar was vir ruilhandel met die Fort de Goede Hoop nie.

’n Vyfpunt klipkasteel word gebou

In 1664 was kommandeur Zacharias Wagenaer beveel om ’n vyfpunt klipkasteel te bou. Op 26 April 1679 is die vyf bastions (punte) genoem na die hooftitel van Willem, die Prins van Oranje. Die westelike bastion is genoem Leerdam; kloksgewys gevolg deur Buuren, Catzenellenbogen, Nassau en Oranje.

Na die voltooiing van die Kasteel in 1674 en tot 1795, was dit ’n militêre basis en hoofkwartier van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap.

In 1682 vervang die hekopening die ou ingang wat aan die see gefront het. Die kloktoring, geleë bo die hoofingang is gebou in 1684. Die oorspronklike klok, die oudste in Suid-Afrika, is gegiet in Amsterdam in 1697 deur Claude Fremy en weeg 300 kg.

Dit was gebruik om die ure aan te dui en burgerlikes te waarsku in geval van gevaar en kon tot 10 km ver gehoor word. Dit was ook gelui om inwoners en soldate vir belangrike aankondigings saam te roep.

Simon van der Stel

Simon van der Stel was die 11de Kommandeur wat vir Jan van Riebeeck in die Kaap opgevolg het. Hy  was tydens sy aanstelling as Kommandeur van die Kaap verantwoordelik vir die aanvanklike vinnige uitbreiding van die Kolonie, weg vanaf die Tafelvallei-omgewing. Hy was die stigter van Stel-en-bosch in 1679.

Tagtig jaar later in 1759 skryf ’n reisiger oor die mooi dorpie, Stellenbosch, met sy twee groot lanings, wat ses uur te perd van Kaapstad geleë is. Daar was toe dertig huise en ’n kerk.

Simon van der Stel was ook die stigter van Simonstad in 1680. ’n Jaar na die stigting van Stellenbosch. Simonstad is geleë aan die kus van Valsbaai, aan die oostekant van die Kaapse Skiereiland. Vir meer as twee eeue was dit ’n vlootbasis en hawe. Die dorp is vernoem na Simon van der Stel en was die derde dorp aan die Kaap.

Besoekende vlote en ander skepe

Met die behoefte wat ontstaan het om meer en meer goedere aan die VOC se besoekende skepe te voorsien, moes daar uitbreidings aan die Kaap gebeur om hieraan te voldoen. Skeepsvlote het basies twee keer in ’n jaar by die Kaap aangedoen. Die uitvaart vanaf Holland het gewoonlik omtrent teen die einde van Desember vertrek na die ooste; dit het omtrent drie maande geneem om die Kaap te bereik.

Na ’n kort vertoef aan die Kaap is die reis voortgesit, siekes is versorg, voorrade aangevul en noodsaaklike herstelwerk is aan die skepe gedoen. Daar was in die meeste gevalle van vlote gebruik gemaak weens veiligheidsdoeleindes. In 1672 het Nederland in oorlog verkeer teen sowel Engeland as Frankryk, en as die Kaapse verversingspos in die vyand se hande val, sou dit die VOC se Oosterse handel heeltemal ontwrig.

Dit het dan omtrent nog drie maande geneem om by die eindbestemming uit te kom, afhangend van waar dit was. Dieselfde prosedure is gevolg met die terugvaart. Daar was een terugvaart per jaar wat al die handelsware vervoer het terug na Holland, wat dan weereens by die Kaap aangedoen het.

Daar was verskillende vlote per jaar en dan was daar nog ander besoekende skepe van Engelse en Franse wat ook die Kaap aangedoen het.

’n Nuwe klas onafhanklike Vryburgerboer

Die kolonie het versprei na Stellenbosch, Drakenstein, Paarl, Franschhoek, Tygerberg en die Wagenmakers Vallei gebiede. Hierdie territoriale uitbreiding het nodig geword om die vestiging van ’n heel nuwe klas onafhanklike Vryburgerboer te akkommodeer en die ontginning van hulpbronne buite die Tafelvallei.

Die nuwe boere het al hoe verder weggetrek van die bestaande “beskawing” aan die Kaap. Al die ware wat geproduseer is op die plase, moes nog steeds aan die Kasteel, een of twee keer per jaar, afgelewer word. Dan is noodsaaklike besigheid gedoen met die VOC vir nuwe permitte, onderhandel vir grond en gebruiksware aangeskaf ens., voor die terugtog na die plaas kon plaasvind. Al die boere het ook nie oor die luukse van ’n wa beskik nie, maar planne is gemaak met ander boere om die produkte by die Kasteel te kry.

Natuurlik het die uitbreidings van die nuwe boere ’n invloed gehad op die tradisionele “boere” van die Kaap, die Khoi-Khoi en ook die San-mense (Boesmans). Hul grond was sistematies ingeneem en hulle moes of trek na ander gebiede toe, wat weer konflik veroorsaak het met Khoi-Khoi van daardie area, of hulle moes plaaswerkers word by die Europese boere.

Die koms van die Franse Hugenote (1688)

Die eerste Franse Hugenote het op die 31ste Desember 1687 met die skip Voorschoten van Delftshaven na Suid-Afrika vertrek. In die volgende paar maande het nog sowat 130 aangekom, en in die hele periode tot die jaar 1700 sowat 225.

Dit lyk na ’n baie klein getal, maar nie as mens dit vergelyk met die aantal blankes wat toe aan die Kaap was nie. Net voor hul koms was aan die Kaap en Stellenbosch 254 wit mans, 88 vroue, 119 seuns, 112 dogters en 39 knegte.

Tog het heelparty van die Franse vlugtelinge Nederlands beter geken as wat ’n mens sou verwag. Sommige kon Nederlands praat, en party kon dit selfs skryf. Die feit dat die Hugenote Nederlands geken het, het hul opname in die Kaapse samelewing vergemaklik. ’n Groter hoeveelheid van die Hugenote is tussen die Nederlanders in die Franschhoek-omgewing geplaas.

Die Franse Hugenote vestig hulself by Franschhoek

Die Franse vlugtelinge wat in die Kaap gearriveer het, was arm en armoedige boere. Hulle het 60 morge land ontvang asook twee stelle osse van ses elk, ’n wa, ’n ploeg, saad en alles wat landbou vereis.

Dit was ’n lening wat in die loop van drie tot vier jaar terugbetaal moes word aan die VOC. In dié tyd het boere nie belasting aan die goewerment betaal nie. Die meeste plase het steenhuise gehad wat pragtige opstalle geword het.

Teen 1692 was ’n totaal van 201 Franse Hugenote aan die Kaap woonagtig. Die meeste van hulle het hulself gevestig in die omgewing van die huidige dorp Franschhoek, sowat 70 km vanaf Kaapstad, waar vele van die plase nog hul oorspronklike Franse name dra. Die Hugenote was van die wynboubedryf, maar dit het minstens vier jaar geduur voordat die Hugenote hul eerste wynoes kon hê.

Die buiteposte van die tweede grens (1680-1700)

Die buiteposte van die tweede grens was meer soos ’n Kompanjiesplaas as ’n militêre vesting, maar het nogtans veilige skuiling gebied teen veediefstal sowel as roofdiere. Dit was dan ook gebruik as oornagplekke vir VOC- of belangrike reisigers (soos ’n gastehuis) en was beman deur VOC-amptenare. Die meeste van hierdie buiteposte het darem ’n kanon of twee gehad vir beskerming, indien nodig.

In die eerste tien jaar van die verversingsposte se bestaan aan die Kaap 1652-1662 (“de begrepen cirkel”), die tydperk van Van Riebeeck se bestuur aan die Kaap, is 305 skepe ververs, met ’n verskaffing van 960 skape en 705 beeste.

Vir die sewe jaar vanaf 1663-1669 wys op die groot toename in veeverbruik gedurende die sewe jaar na Van Riebeeck se vertrek: Die totale verbruik van 4,656 beeste en 18,623 skape dui op ’n toename van ongeveer 300 persent ten opsigte van beeste en 1,000 present ten opsigte van skape, bo Van Riebeeck se verbruik, en dit binne sewe jaar.

Teen 1681 is jaarliks ongeveer 200 beeste en 2,000 skape deur die Kaapse verversingspos self verbruik. Kommissaris Rykloff van Goens was van mening dat die VOC toe reeds selfstandig uit sy eie voorraad kon bestaan, en nie langer van die Khoi-Khoi afhanklik was nie. Die kompanjie het toe 5,000 skape en 1,200 beeste op sy verskillende buiteposte gehad.

Op die buitepos Hottentots-Holland is die kompanjie se perde, ramme, aanteelooie en jong lammers gehou. Op Klapmuts was osse en bulle. By De Cuijlen was jong ooie, verse en speenoud lammers. By Tygerberg, Bommelshoek, Dieprivier en Boereboompies was moerskape, en by Vissershok was die hamels. Die bokke is by Rietvlei gehou.

In April 1682 was die mening van Kommissaris Rykloff van Goens dat die waghuise en reduite wat op verskillende plekke in die veld gebou is om die Khoi-Khoi af te weer in die eerste grens, die “begrepen cirkel”, nie meer nodig was nie, en dit moes nou afgebreek en die soldate ingetrek word. “Keert de Koe” is nie afgebreek nie en het bly bestaan as ’n voorpos.

Weens die buitepos “Keert de Koe” se nabyheid aan die Soutrivier kon dit ’n wakende oog hou oor die VOC se skeepshout wat in die rivier in vlotte aanmekaar vasgeketting en geanker was, omdat skeepshout onder water beter teen verrotting en kewers bestand is. Wanneer aankomende skepe ra’s of maste nodig gehad het, is dit uit die Soutrivier se houtvoorraad aan hulle verskaf.

’n Voorbeeld van wat voorsien moes word aan ’n vloot van 18 skepe

’n Voorbeeld van wat voorsien moes word aan die vloot van Harmen Voet in 1702, bestaande uit 18 skepe, met 3,200 koppe aan boord: 1,252 provisiedae x 3 maaltye per dag x 3,200 persone = 12,019,200 maaltye.

Hieruit blyk duidelik dat daar altyd ’n baie groot en ’n versekerde voedselvoorraad aan die Kaap gereed gehou moes word. Vandaar die noodsaaklikheid vir buiteposte. Buiten vleis en groente moes daar ook brandhout, vrugte, graan en hout vir noodsaaklike herstelwerk aan die skepe voorsien word.

Hottentots-Holland word aangekoop van Kaptein Cuijper

Ruiltogte na die Chainouqua en die Hessequa in 1660 het die Nederlanders vertroud gemaak met die omgewing aan die voet van die Hottentots-Holland-berg.

Op 3 Mei 1672 het kommissaris A van Overbeeke ’n ooreenkoms of “Accordt” met kaptein Cuijper gesluit, waarvolgens laasgenoemde Hottentots-Holland vir 4,000 gulden aan die Kompanjie afgee. Dit is twyfelagtig of kaptein Cuijper die betekenis en implikasies van die ooreenkoms in dieselfde lig beskou het as kommissaris Van Overbeeke. Van die koopsom het hy net 81 gulden en 16 stuiwers gekry, in die vorm van goedkoop ruilware.

Agter die Steenberg (Houtbaai)

Die Raadsbesluit om seinvlagpale op die bergpieke te plant, is ongelukkig onvolledig. Later in dieselfde jaar gaan die Fiskaal en die Dispensier na die pos “Aghter den Steenbergh” om die vee te tel. Hierdie pos het dus die dubbele rol van seinpos en veepos vervul.

Die buiteposte van die tweede grens sal nie almal hier bespreek word nie, anders sal dit te veel tyd opneem van die Groot Trek.

Twee van die soldate wat by die pos as herders opgetree het, Hemminck Huijsen en Claas Gerrits, het by die verstryking van hulle dienskontrak in 1678 om Vryburgerskap aansoek gedoen, en gevra of hulle ’n eie trop skape op die uiterste uithoek van die Steenberg mag aanhou.

As vergoeding moes hulle jaarliks op 31 Desember ’n tiende van hulle trop aan die Kompanjie gee. Die eerste jaar sou die Kompanjie vir hulle 40 pond rys en 40 pond skeepsbrood op rekening voorskiet, en hulle moes tien jaar lank Vryburgers bly. Verwysings na die pos “Aan de Steenbergh” kom na 1688 nie meer voor nie.