Elsa Joubert (1922-2020)
Junie 23, 2020
Vroue en dogters wat die Anglo-Boereoorlog oorleef het en uit die ashope van die verskroeide aarde ’n nuwe toekoms geploeg het
Junie 24, 2020

Sarel Feldtmann

Voorgeskiedenis van die mense aan die Kaap (vervolg)

Die Tuine van die VOC

Die Kompanjiestuin in die sentrum van Kaapstad is die oudste openbare tuin in Suid-Afrika. Dit is amptelik in 1652 deur Hollandse setlaars gestig met die doel om voedsel te lewer, maar is 160 jaar gelede aan die publiek vir vrye besoek oopgestel.

Die tuin wat Jan van Riebeeck aangelê het, was ongeveer 18 ha groot. Die kompanjiestuin was aanvanklik uitsluitlik gebruik om kompanjieskepe van groente en vrugte te voorsien.

Die Hospitaal

Die Hospitaal in die Kasteel was ook baie aktief en het ’n groot rol gespeel in die behandeling van siekes van die besoekende skepe. Die leuse van die Hospitaal was “as jy nie daar sterf nie, sal jy oorleef”. Vleis en groente moes ook aan die Hospitaal gelewer word sodat die pasiënte spoedig kon herstel voordat hulle hul reis kon voortsit na Holland of na die Ooste.

Die eerste Asiate aan die Kaap

Die eerste groep Asiatiese immigrante het in 1654 na Suid-Afrika gekom. Hierdie eerste immigrante is deur die Nederlandse Bataafse hooggeregshof na die Kaap verban. Hierdie Asiërs het gehelp om die grondslag van die Kaapse Kleurling- en Kaapse Maleise bevolking te vorm, asook om Islam na die Kaap te bring.

Handel met die Khoi-Khoi

Die Khoi-Khoi mense het net in baie uitsonderlike gevalle hul eie beeste geslag en geëet. Beeste was die fondamentstene van hulle maatskaplike stelsel en hulle was nie te gewillig om dit af te staan vir bederfbare genotsware soos tabak, drank, krale en koperdraad nie.

Die aanvanklike veehandel met die Khoi-Khoi het goed verloop, maar die behoefte by die Fort vir eie gebruik en om aan die skepe te voorsien, was mettertyd so groot dat ekspedisies gestuur moes word na die groter en ryker stamme om meer vee te ruil.

Die stamme het in konflik gekom met mekaar omdat die voorstes probeer keer het dat die agterstes baat uit die handel met die Fort en het dikwels die vee wat aangejaag is in ’n lokval gelei en dit gesteel. Dit het tot stamtwiste en bloedige onderlinge gevegte tussen die Khoi-Khoi stamme gelei.

Die VOC in konflik met die Khoi-Khoi

In 1656 het die eerste konflik tussen die Hollanders en die Khoi-Khoi plaasgevind. Hierdie konflik het plaasgevind as gevolg van die gebruik van weiding deur die VOC.

Die Khoi-Khoi was ’n nomadiese volk en hulle het gevoel dat hul vry toegang moes hê tot al die weiding in die Kaapse area vir hul vee. Die Khoi-Khoi het weer probeer om hul gebied terug te kry deur die Hollanders aan te val in 1659 en 1673, maar het baie man verloor gedurende hierdie konflikte.

Die VOC se eie vee op Robbeneiland

Beeste en skape is geruil (gekoop) van die inheemse nomadiese mense. Aangesien die inheemse mense nie ’n geldstelsel gehad het nie, was ruilware gebruik as kontant. Wat gewild was, was yster, koper, glaskrale, tabak en drank.

Aanvanklik is die beste vee uitgehou vir teeldoeleindes deur Van Riebeeck en die kwaliteit van die vleis wat aan die skepe voorsien was, was van lae kwaliteit, want slegs vee wat te oud en te maer was vir arbeid of aanteel, is vir slag uitgekeer.

Nadat die troppe vee wat Van Riebeeck met sorg bymekaar gemaak het, van vlak by die Fort weggeroof is, het hy sy vee beveilig deur ’n skaaphok en ’n kraal op Robbeneiland op te rig en dit te plaas onder toesig van ’n herder wat ook as seiner opgetree het.

By Van Riebeeck se vertrek in 1662 het die Kompanjie 170 skape op Robbeneiland, en nog 489 skape, 273 beeste, 300 varke en 7 bokke op die vasteland gehad.

Voorbeeld van voorraadvoorsiening aan ’n vloot van die VOC

In 1666 kon aan ’n skip met ’n bemanning van 280 tot 300 persone elke tweede dag ’n goeie bees, met ’n skaap vir die offisiere gegee word, of anders van 8 tot 12 skape vir die hele skip. Die verskaffing van 112 beeste en 1 010 skape aan die 15 skepe in Kommandeur Mattheus van den Brouke se retoervloot in 1670, gee ’n aanduiding van die getalle vee wat by ’n enkele geleentheid benodig was.

Die eerste Vryburgers

Vanaf 1652 het die VOC hulself beskou as die eienaar van alle grond in die gebied onder sy beheer aan die Kaap. In 1657 was die eerste vyfjaarkontraktydperk van ’n aantal VOC-amptenare verstreke en in plaas daarvan om hierdie mense terug te stuur Europa toe, word hulle toe aangemoedig en toegelaat om hulle as boere langs die Liesbeekrivier te vestig.

Op 21 Februarie 1657 is die eerste nege Vryburgers aan die Kaap aangestel. Die Vryburgers was aanvanklik in twee groepe verdeel: die sogenaamde Harmans-kolonie onder leiding van die Duitser, Harman Remajenne van Keulen, en die Stevens-kolonie onder leiding van Steven Jansz (Botma). Later het nog vyf boere vryburgerskap verkry. In 1662 was daar 40 Vryburgers met omtrent 15 vrouens en 20 kinders.

Die eerste verdedigingslinie aan die Kaap

Rooftogte en die steel van goedere deur die Khoi-Khoi was ’n groot probleem in die begin van die Vryburgerboere aan die Kaap. Om hulle teen rooftogte te beskerm, is daar in 1657 op die westelike wal van die Liesbeek begin met die bou van ’n fort wat Fort Coornhoop genoem is.

Later is nog forte gebou om die plase te beskerm en ’n laning wilde amandelbome is geplant om die Khoibeeste uit die lande te hou en veediefstal moeiliker te maak. Hierdie forte of buiteposte was die eerste verdedigingslinie aan die Kaap om sy grense te beskerm.

Die plant van sade vir die wilde amandellkaning het in Junie 1660 begin. Van Riebeeck het Franse matrose van die gestrande oorlogskip Le Mareschal vir die taak gebruik. Hy het die tydrowende, moeisame en arbeidsintensiewe langtermynprojek in besonderhede aan die VOC beskryf: dit sou vyf of ses jaar neem om doeltreffend te word en 3 673 roede (omtrent 13,3 km) lank wees.

Die bestaan van die laning het nie weer in kaarte van die Kaap voorgekom na hierdie datum nie en dit word betwyfel of die laning ooit ’n werklikheid geword het. In onlangse tye is die bome beskryf as “’n simbool van verdeling”. Die “berugte heining” en “die eerste apartheidsdaad op Suid-Afrikaanse grond” – dit is ’n paar van die terme wat deur sekere politieke sieninge geopper word.

Buiteposte aan die Kaap

Die buiteposte was ’n nuwe verskynsel op die Kaapse ekonomiese toneel, wat van 1657 tot aan die einde van die VOC-tydperk in algemene gebruik sou bly.

Agter hierdie grens, op wat Van Riebeeck “de begrepen cirkel” genoem het, is die produksie van graan, vleis, trekvee, groente, brandhout en timmerhout met groter sukses as voorheen deur die VOC beoefen, met die hulp van die sogenaamde Vryburgers – maar veral deur middel van bemande buiteposte.

’n Buitepos is ’n bemande gedesentraliseerde hulpdiensstasie wat buite die Tafelvallei gestig is om die verskaffings- en herstelfunksies van die VOC se verversingspos in die Tafelvallei regstreeks en/of onregstreeks te bevorder. Die poste het die vorm aangeneem van beskermingsposte, wagposte, seinposte, veeposte, landbouposte, houtkappersposte en visvangposte.

Van Riebeeck kon nie die Khoi-Khoi belet om die Liesbeekvallei te besoek voordat die Kaapse verversingspos militêr sterk genoeg was om so ’n bevel af te dwing nie.

Die buitepos was onmisbaar, omdat hulle ’n effektiewe, betroubare en redelik goedkoop diens aan die VOC gelewer het. Die mees waardevolste poste was dié wat ’n direkte bydrae tot skeepsverversing gemaak het. Die militêre poste en seinposte was nie produktief nie, maar was onvervangbaar.

Die eerste slawe aan die Kaap

Afrika-stamhoofde het reeds voor 300 v.C. slawe verhandel, terwyl blankes eers in die 16de eeu begin het om met hierdie “swart ivoor” handel te dryf. Dit lyk dus asof die Arabiere/Moslems en die swart mense in ’n groter mate as die wit mense aan slawerny skuldig is.

Slawerny was ’n doodgewone en algemene ding in verskillende wêrelddele gedurende die 1600’s tot 1800’s en die praktyk het ook in Suid-Afrika hoogty gevier. Slawe is as besittings beskou, ’n onvervreembare deel van hul base se rykdom.

Meer slawe word ingevoer

Die slawe wat ingevoer was van Madagaskar, Batavia, Ceylon en Oos-Afrika was die voorouers van ’n heeltemal nuwe groep mense: die Kleurlingnasie van Suid-Afrika wat die gewoontes en kultuur aangeneem het van die Europeërs.

Niemand in die Kaap het ooit ’n inheemse swart persoon vir 130 jaar in Suid-Afrika gesien voordat die eerste Trekboere die Xhosas ontmoet het in die Vallei van die Amatola in omtrent 1770 nie!

Die eerste slaaf aan die Kaap, ’n sekere Abraham, was ’n verstekeling op ’n skip uit Batavia en hy het in Maart 1653 in Tafelbaai aan wal gestap. In Maart 1655 was daar nog drie slawe wat van Madagaskar af hierheen gebring is. Slawe het met die tyd vermeerder totdat dit later die getalle van die Europeërs in die Kaap verbygesteek het.

Van Riebeeck het die VOC gevra om slawe te voorsien om uit te help met die arbeid op die lande en tuine omdat die koste baie laer was as vir VOC-kontrakwerknemers. Die eerste groot groep slawe van 82 het op 28 Maart 1658 op die skip Amersfoort in die Kaap aangekom. Hulle is almal deur die VOC gebruik om in die lande en tuine te werk.

’n Tweede groep van 148 slawe het op 9 Mei 1658 aan boord van die Hasselt in die Kaap aangekom. ’n Aantal van hulle is verkoop aan die Vryburgers as slawe. Baie van hierdie slawe het ontsnap en dit was ’n groot finansiële verlies vir die Vryburgers. Van die slawe was nie goeie werkers nie en is later deur hul eienaars aan die VOC terugbesorg.

Die Khoi- en San-mense is nooit as slawe aangekoop nie, dit was ’n duidelike stipulasie in die oktrooi van die VOC dat inboorlinge nie as slawe aangehou mag word nie, maar wel in vrywillige diens geneem mag word.

Slawe is ingevoer hoofsaaklik vanaf Indië, Sri Lanka, Indonesië, Madagaskar en die Oos-Afrika-lande. Naas wit mense was Asiate en vryswartes ook slawebesitters. Sommige slawe-eienaars het slawe teen ’n tarief per dag uitgehuur.

Vrykoop van slawe

Weens die tekort aan vrouens in die Kaap gedurende die vestigingsjare is baie vroueslawe vrygekoop en het met hul eienaars of Vryburgers getrou. Jong meisies van weeshuise in Europa is ook ingevoer na die Kaap. Hierdie vrouens het die stammoeders van baie van ons mense in Suid-Afrika geword.

Ongeveer ’n vyfde van die huwelike wat tussen 1657 en 1687 in die kolonie gesluit is, was tussen Europeërs en voormalige slavinne. Hierdie vroue was gewoonlik van die Ooste afkomstig.

Daar het ’n spesiale wetlike proses bestaan, manumissie genoem, waarvolgens die slawe-eienaar afstand doen van sy eienaarskap van ’n slaaf en ’n geldelike waarborg gee dat die slaaf wat hy wou vrystel nie ’n las vir die samelewing sal word nie.

Wetlik het die vryswartes dieselfde regte as die burgers gehad, ook die reg om grond te ontvang, eiendom te besit, gedinge in die hof aanhangig te maak en huwelike te sluit. Die term vryswartbeklemtoon nie in die eerste plek op kleur nie (baie van die vry-swartes was lig van kleur, meestal bruin in vandag se terme), maar op vryheid.