Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 2
Junie 22, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 3
Junie 24, 2020

Daantjie Dinamiet

Die bekende Afrikaanse skrywer Elsa Joubert is op 14 Junie 2020 in die ouderdom van 97 jaar oorlede.

Elsabe Antoinette Murray Joubert is op 19 Oktober 1922 in Paarl in die Wes-Kaap gebore; albei haar ouers was afstammelinge van die Franse Hugenote. Haar pa, Willem Adolf Joubert, was die seun van ’n wynboer en 32 jaar lank hoof van die Paarl Onderwyskollege en haar ma, Elsabe de Villiers, was ’n predikantsdogter wat ’n onderwyseres aan die Skool vir Dowes op Worcester was. Hulle is in 1916 getroud. Elsa se jonger suster Isabeau is jonk aan bloedkanker oorlede en sy het ’n ouer broer, Gideon, gehad.

Elsa het haar hele skoolloopbaan aan die Laer- en Hoërskool La Rochelle in Paarl deurgebring en in 1939 gematrikuleer. Daarna het sy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, en sy was ’n inwoner van die Harmonie-koshuis. In 1942 het sy haar BA-graad behaal en die volgende jaar haar sekondêre onderwysdiploma. Op universiteit was sy die Matie-korrespondent van die vroueblad van Die Burger. In 1945 het sy haar MA-graad in Afrikaanse letterkunde behaal met ’n verhandeling oor J van Melle se werk.

In 1944 het sy by die Hoër Meisieskool Cradock skoolgehou en in die meisieskoshuis tuisgegaan, en tydens die wintervakansie het sy by ’n skooltjie op die eilande by Keimoes in die Garieprivier as onderwyseres afgelos. In daardie tyd was sy die Afrikaanse redakteur van die universiteitsblad Groote Schuur, terwyl sy van Januarie 1946 tot Februarie 1948 vroueredakteur van Die Huisgenoot was.

In 1948 het sy ’n omvattende bootreis deur Afrika onderneem, van Tafelbaai aan boord van die City of London, en al langs die ooskus tot by Mombassa in Kenia gestrek het. Van hier af het sy met ’n rivierboot met die Nylrivier tot in Kaïro gevaar waarna sy twee jaar in Europa gebly het. In Parys het sy tyd saam met Jan Rabie en Klaas Steytler, met wie sy in April 1950 getroud is, gespandeer en ekstra geld verdien deur vryskutwerk as joernalis te doen. Sy het in daardie tyd gereeld bydraes aan Die Burger, Sarie Marais en Die huisvrou, waarvan Audrey Blignault redakteur was, gestuur.

Na Elsa se huwelik met Klaas Steytler, het sy haar in Johannesburg gevestig en eers Afrikaans vir diplomastudente aan die Tegniese Kollege in Eloffstraat gegee. Daarna was sy sewe jaar lank verbonde aan die redaksie van Die Transvaler. In hierdie tyd is haar drie kinders, Elsabe Antoinette, Henriette en Nicolaas Christiaan, gebore, terwyl sy, Klaas, Jan Rabie, Abraham de Vries en Rita Elferink die Excelsior-groep begin wat kultuuraande oor rassegrense heen hou.

Nadat hulle ’n woonstel en later ’n huis in Melville gehuur het, het hulle ’n huis in Auckland Park gekoop, en in 1955 ’n reis na die hedendaagse Malawi onderneem. Nadat sy alleen na Madagaskar, Mauritius en Reunion gereis het, het sy later saam met Klaas op reis deur Mosambiek gegaan. Dit alles is later in reisjoernale beskryf. In 1965 het die gesin na Oranjezicht in Kaapstad verhuis, en weer eens het Elsa reise deur Europa, Afrika en die Verre Ooste onderneem. Weer eens was dit die onderwerp van talle reisverhale. In 1967 is sy en Klaas na Duitsland genooi, en hulle het in Wes-Berlyn tuisgegaan. Hulle was van plan om Oos-Duitsland te besoek, maar ’n dringende telegram wat hulle daarteen gewaarsku het, het dit gekeer. Daarna reis hulle na Turkye en Griekeland, waar hulle onder meer by Jan Rabie en Marjorie Wallace gaan kuier het.

In April 1973 het hulle ’n vakansiehuis by Onrusrivier naby Hermanus gekoop, waar sy aan huis van Jan Rabie met die skrywer Richard Rive bevriend geraak het, en blootgestel is aan Afrika-letterkunde; veral werk van swart skrywers wat destyds in Suid-Afrika verbode was. Sy het hierdie kennis en begrip teruggegee aan die gemeenskap in verskeie openbare optredes waarin sy lesings gelewer het oor Afrika en sy ontluikende skrywers. Sy en Klaas was in 1975 stigterslede van die Afrikaanse Skrywersgilde, waarvan sy in 1984 en 1985 voorsitter was. Klaas is in 1998 oorlede, en daarna het Elsa haar in ’n aftreewoonstel in Berghof-tuine in Kaapstad gevestig.

Elsa het al van kleins af geskryf en in standerd drie haar eerste koerant uitgegee en gedigte geskryf. Net na die Simboliese ossewatrek in 1938 het sy ’n tweede prys gekry vir haar essay getiteld “My grootste oomblik in die Ossewatrek”, wat in Die Burger verskyn het. Nadat sy haar meestersgraad verwerf het, het sy ’n artikel oor die eilandmense naby Keimoes geskryf; dit het haar gehelp om as joernalis by Die Huisgenoot aangestel te word. Haar kortverhaal, “Marynatjie”, wat sy onder die skuilnaam W Prinsloo geskryf het, is ook deur Die Huisgenoot geplaas.

Benewens haar reisjoernale het sy ook ’n aantal romans die lig laat sien. Die eerste hiervan, Ons wag op die kaptein, het in 1961 verskyn. Sy het dit geskryf nadat sy op 15 Maart daardie jaar ’n berig in Die Transvaler gelees het oor twaalf mense wat in Angola op ’n plaas deur ’n terroristebende aangehou is. Hierdie mense se verhoor is drie keer uitgestel terwyl die bende gewag het vir ’n kaptein wat oor die rivier sou kom, waarna hulle vermoor is. Klaas het hierdie roman in Engels onder die titel To die at sunset vertaal en daarna is dit ook tot ’n toneelstuk verwerk.

Haar bekendste roman is sekerlik Die swerfjare van Poppie Nongena, wat op feite gegrond is. Die vrou met wie dit alles gebeur het, het die verhaal aan haar vertel. Dit word beskou as ’n dokumentêre roman wat as ’n ware verhaal aangebied is en deur ’n anonieme verteller georden is. Poppie was ’n Xhosa-vrou wie se werklike naam Ntombizodumo was; dié naam beteken “meisie uit ’n geslag van groot vroue.” Dit was vir baie blanke mense die eerste blootstelling aan die swaarkry wat swart mense gedurende apartheid moes verduur, gekry het. Die boek is reeds in veertien tale vertaal en ’n rolprentweergawe is vroeg vanjaar uitgereik.

In haar outobiografie, ’n Wonderlike geweld, het Elsa haar vormingsjare tot en met 1948 beskryf, maar dit in ’n derdepersoonsverteller aangebied. Dit is ook in Engels onder die titel A lion on the landing gepubliseer. Die tweede deel van haar outobiografie, Reisiger, het die verhaal van haar vele reise vertel, veral haar reise deur Afrika, wat tot Die swerfjare van Poppie Nongena gelei het. Die derde deel, Spertyd, het in 2017 verskyn, en het die verhaal van haar later jare in ’n aftreeoord in Kaapstad vertel.

Sy is deur die jare met verskillende toekennings vereer, onder meer twee eredoktorsgrade aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria, die Orde van Ikhamanga (silwer) en ’n toekenning as woordkunstenaar van die jaar by die Woordfees op Stellenbosch.