Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 1
Junie 18, 2020
Elsa Joubert (1922-2020)
Junie 23, 2020

Sarel Feldtmann

Voorgeskiedenis van die mense aan die Kaap (vervolg)

Bartholomeu Dias vaar om die suidpunt van Afrika

Vanaf Lissabon het Dias se roete eers aangedoen by die Kaap-Verdiese Eilande. Vandaar het hulle gevaar na die mond van die Kangorivier, al langs die weskus van Afrika verby Angola tot by Kaap Kruis, Walvisbaai en Lüderitz. Daar het hy sy voorradeskip agtergelaat met nege man.

Op soek na die seeroete na Indië, het Bartholomeu Dias se ekspedisie om die suidpunt van Afrika gevaar en Mosselbaai bereik op 3 Februarie 1488. Daar het hulle vars water ingeneem en met die Khoi oor vee onderhandel.

’n Verskil het ontstaan en Dias se bemanning is aangeval en met klippe bestook, waarna Dias een van die Khoi met ’n kruisboog doodgeskiet het. Die Khoi het daarna gevlug en sy bemanning het teruggekeer na hul skip.

Bartholomeu Dias vaar tot by Kwaaihoek

Op 12 Maart 1488, net ’n kort afstand wes van die Boesmansriviermond, het hulle anker gegooi by ’n paar klein eilandjies, voorheen bekend as Vals-eiland, nou bekend as Kwaaihoek. Hier het Dias sy verste houtkruis, die Padrão de São Gregorio, opgerig en daarna sy terugvaart hervat.

Geskiedkundiges het eers Dias se keerpunt aangegee as by die mond van die Grootvisrivier, maar dit word nou vermoed dit was by die mond van die Keiskammarivier by Hamburg, 50 km suidwes van Oos-Londen.

Op sy terugvaart het Dias ook kruise geplant by die Kaap die Goeie Hoop en by Lüderitz. Eric Axelson het fragmente van hierdie padrão by Kwaaihoek in 1938 opgegrawe wat by die Universiteit van die Witwatersrand te sien is.

Terug in Lüderitz het Dias weer by sy voorraadskip aangesluit, van die nege man was net drie oor. Een man was so bly om die ander skepe te sien dat hy dood neergeslaan het.

Was Dias die eerste seevaarder wat om die punt van Afrika gevaar het?

Dias was heelwaarskynlik nie die eerste seevaarder wat om die punt van Afrika gevaar het nie. Die groot handelaars van die antieke tyd, die Fenisiërs (Kananiete), Egiptenare, Grieke, Arabiere, Chinese en Indiërs, het almal reise langs die wes- en ooskus van Afrika waargeneem, en een ekspedisie in 600 v.C., geborg deur Farao Necho II van Egipte, het reg om die kontinent gevaar. Langs die ooskus van Afrika was daar gevestigde hawens wat deur die Arabiere bedryf was toe die eerste Portugese hier aangekom het.

 

 

Vasco da Gama ontdek die seeroete na Indië

’n Paar jaar na Bartolomeu Dias se ontdekking van die Kaap van Goeie Hoop, het die volgende ontdekkingsreis begin in 1497 om die seeroete na Indië te vind. Aan bevel van die ekspedisie was Vasco da Gama. Batolomeu Dias het saam in Vasco da Gama se vloot gereis wat tot in Indië gevaar het, maar Dias is by die Kaap-Verdiese Eilande al teruggestuur Portugal toe.

Vasco da Gama het op 4 November 1497 in ’n baai, wat hy Sint Helena genoem het, anker gegooi. Vir die tweede keer binne nege jaar het ’n Portugese seevaarder in ons land aan wal gestap. Soos Dias, het ook hy die Khoi-Khoi gesien. Na ’n paar dae het die ekspedisie sy reis voortgesit.

Hulle het om die suidpunt van Afrika geseil en teen 16 Desember het hulle die Groot-Visrivier bereik, die punt waar Bartolomeu Dias omgedraai het. Vanweë die naderende Kersfees het Da Gama en sy bemanning besluit om die kusgebied waar hulle was “Natal” te doop, ’n Portugese verwysing na die geboorte van Christus. Hierdie gebied was heel waarskynlik Pondoland en nie Natal soos ons dit vandag ken nie.

Terwyl hulle verder langs die ooskus opgevaar het, het hulle teen 12 Januarie 1498 by ’n meertjie die swart inwoners se bote gesien. Vasco da Gama het die eerste swart mense naby die monding van die Limpopo ontmoet. Omdat die mense so vriendelik teenoor hulle was, het Da Gama die streek “Die land van goeie mense” genoem en kort daarna verneem van ’n magtige swart ryk in die binneland – vermoedelik die Zimbabwe van vandag – waar koning Monomotapa tot aan die Zambezi geheers het.

Teen die middel van Februarie 1498 het die skepe die mond van die Zambezirivier bereik en anker gegooi. Vasco da Gama het vasgestel dat die Arabiere daar kom handel dryf, en dat die inwoners al van Indië gehoor het. Uit vreugde oor die nuus het hy die rivier die “Rivier van Goeie Voorbodes” genoem.

Na ’n kort verblyf in Mosambiek het die skepe op 14 April 1498 Mombassa bereik. Die rede waarom Vasco da Gama nog steeds na aan die kus van Afrika gevaar het pleks van ooswaarts in die rigting van Indië, was dat hy nie oor genoegsame inligting oor die roete oor die Indiese Oseaan beskik het nie; in Malindi het hy egter ’n ervare gids gekry wat hom die weg ooswaarts kon wys.

Vroeg in Mei het die skepe uit die hawe van Malindi in Oos-Afrika vertrek en met dagbreek op 20 Mei1498 het hulle naby Kalikoet aan die Malabarkus anker gegooi. So is die groot ideaal na tien maande op see bereik: die seeroete van Europa om die Kaap na Indië was ontdek.

’n Handelstasie word gestig aan die Kaap

Nederlanders kom in 1652 onder leiding van kommandeur Jan van Riebeeck na die Kaap om ’n handelstasie te stig. Die handelstasie se doel was om vars groente, vrugte, koring, vleis en vars water aan die VOC se verbygaande skepe te voorsien.

Die geskiedenis van die handelstasie aan die Kaap het begin op 6 April 1652, toe Jan van Riebeeck by Tafelbaai aangeland het met drie van sy skepe, De Reiger, De Drommedaris en De Goede Hoop.

Twee voorraadskepe, die Walvich en die Oliphant het later aangekom in die Kaap nadat hulle op see van die res van die vloot afgedwaal het. Daar was altesaam 130 sterftes aan boord van die twee skepe by hul aankoms in die Kaap.

Die eerste tien jaar van die VOC se besetting van die Kaap was ’n tydperk van ontdekking en vestiging, wat ’n militêre grens tussen die nedersetters en die inboorlinge nodig gemaak het, terwyl die tuinbou, veeteelt en ander aktiwiteite wat met skeepsverversing in verband staan agter die grens beoefen is.

As beskerming van buite en binne die grense van die Kaap, het Jan van Riebeeck die Fort de Goede Hoop van klei en hout gebou en tuine aangelê. Namate die vraag toegeneem het vir goedere en dienste vir die skepe wat die Kaap aangedoen het, het van Riebeeck besef hy kort mense om te help om in die vraag te voorsien vir meer goedere wat deur die VOC van hom verwag is.

Vestigingsfase aan die Kaap

Alleenlik topamptenare van die VOC kon hul vrouens en kinders na die Kaap bring, vir ander amptenare en werkers van die VOC was hierdie voorreg nie beskore nie.

Aanvanklik in die vestigingsjare van die VOC aan die Kaap was die Nederlanders baie welvarend en het nie belang gestel om na die Kaap te kom om hulle hier te vestig nie. Kontrakwerkers wat vir die VOC diens gedoen het, hoofsaaklik manlike soldate afkomstig van Duitsland, het aan die einde van hul kontrakte aangebly en Vryburgers geword.

Om geld te bespaar, het die VOC aan die einde van die vyfjaarkontrakte van die werkers (die VOC was ’n handelsbesigheid wat net gerig was op winsbejag), in plaas van om die reiskoste van die werkers te betaal vir hul terugreis na Europa toe, vir hulle grond en toerusting aangebied om Vryburgers te word, en sodoende te help met die aanplant van koring, groente, tabak en om met vee te boer, vir hul eie gewin. Daardie dae het die gewone man op straat nie eiendom of grond besit nie, so dit was ’n groot motivering.

Daar was sekere vereistes aan verbonde, implemente en trekdiere was voorsien deur die VOC, maar die Vryburgers moes die koste daarvan terugbetaal aan die VOC oor ’n tydperk. Hierdie Vryburgers moes binne ’n jaar bewys dat hulle wel wou boer en die plase ontwikkel wat aan hulle gegee is, anders was die grond en toerusting deur die VOC teruggeneem.

Al die produkte wat geproduseer is op die plase, moes aan die VOC verkoop/verruil word, teen die VOC se vasgestelde pryse, waarvoor die VOC koopbewyse uitgereik het waarmee die Vryburgers dan weer noodsaaklike goedere, vir eie gebruik, van die VOC kon verkry.

Daar was geen vryhandel nie, en die Vryburgers kon nie direk met verbygaande skepe besigheid doen, of met die Khoi-Khoi nie. Die VOC het dus werkers aangestel wat hulle niks gekos het nie, want hulle was nie meer in diens van die VOC nie, en die boere se produkte is aangekoop teen die laagste moontlike pryse.

Die woord “boer” is Nederlands vir landbouer. Die Vryburgers is boere van nering en as groepering ontstaan die naam van ’n nuwe volk – Die Boere van Suid Afrika. Die Afrikanerbevolking (“Boere”) ontwikkel daarna grotendeels uit nasate van Nederlandse, Duitse en Franse immigrante.