Aanval en ontsporing van ’n trein naby Panstasie op 1 Oktober 1900
Junie 1, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 2
Junie 22, 2020

Sarel Feldtmann

Voorgeskiedenis van die mense aan die Kaap

Om sekere gebeurtenisse wat afgespeel het in Suid-Afrika te verstaan, moet ons so ’n bietjie teruggaan in die geskiedenis, en ’n kort oorsig gee oor hoe, wie, en wanneer, het mense in Suidelike Afrika aangekom.

Om die mense wat aan die Groot Trek deelgeneem het te verstaan, moet ons eers kyk “wie was hulle” en waar het hulle vandaan gekom. Ons moet ook sekere terme en die betekenis van woorde wat gebeure beskryf, verstaan. Wees dus ’n bietjie verdraagsaam voordat ons by die werklike begin van die Groot Trek uitkom.

Hier deel ek net met die algemene voorgeskiedenis in die wêreld, soos wat dit bekend was aan die Europeërs in die 1400’s, en wat betrekking het op die latere gebeure in Suider-Afrika.

 

Die eerste mense in Suidelike Afrika

Argeologiese opgrawings dui daarop dat die “moderne” mens meer as 50 000 jaar gelede reeds in die teenswoordige Suid-Afrika aanwesig was. Die landstreek is moontlik nagenoeg 30 000 jaar gelede die eerste keer deur San-groepe (Boesmans) beset. Daarna het van die ander inheemse mense gevolg.

 

Die val van Konstantinopel (1453)

Op die hoogtepunt van die Romeinse Ryk was dit in twee ryke verdeel deur Keiser Konstantyn. Rome was die hoofstad van die Westelike Romeinse Ryk, en Konstantinopel was die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk. Keiser Konstantyn het sy hoofstad verskuif na die ooste, na Bisantium wat ’n antieke Griekse stad in die laat antieke tyd as Konstantinopel bekend geword het, en nou bekend staan as Istanboel in Turkye.

Die Westelike Romeinse Ryk het tot ’n val gekom in die 5de eeu n.C., maar die Oos-Romeinse Ryk (Bisantynse Ryk) het vir nog ’n duisend jaar voortbestaan tot 1453 toe dit deur die Ottomans se Sultan Mehmed II ingeneem is.

Konstantinopel was die stad waar baie van die handel vanaf die ooste bymekaar gekom het (“Silk Route” – Indië, China en Japan) en die produkte was dan versprei van daar af regoor Europa. Gedurende die grootste deel van sy bestaan ​​was die Bisantynse Ryk die magtigste ekonomiese, kulturele en militêre mag in Europa.

Daar was voortdurend oorloë tussen die weste en oostersevolke (Christene en Moslems). In 1453 het Konstantinopel tot ‘n val gekom en Sultan Mehmed II het alle handel met die weste verbied. Dit was ‘n groot terugslag vir Europa en daar was begin om alternatiewe roetes te probeer vind na die ooste (Indië, China en Japan ens.)

’n Soektog na alternatiewe roetes na die Ooste

Om die Ooste per see in plaas van die roete oor land te bereik, was die idee van die Portugese. Daar kan geargumenteer word dat die val van Konstantinopel die “Eksplorasie-era” ’n hupstoot gegee het.

Die Portugese het gebruik gemaak van wat die Europeërs geweet het van die wêreld in die laat 15de eeu. Om Indië, Suidoos-Asië en China te bereik, is besluit om oos te vaar om die horing van Afrika. Die Indiese Oseaan was ’n middelpunt van handel vir baie mense in die Middeleeue.

Prins Hendrik die Seevaarder van Portugal het besef dat as iemand die onderpunt van Afrika vind en sodoende na Indië seil, kan die land die speseryhandel beheer en baie ryk word. In die middel van die 15de eeu het hy ’n skool vir matrose begin en ekspedisies na onbekende waters van die kus van Afrika geborg.