Aanval en ontsporing van ’n trein naby Panstasie op 1 Oktober 1900

Kruger se Hollanders
Mei 25, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 1
Junie 18, 2020

Voorbeeld van ’n Britse troepetrein wat ’n maklike teiken vir die Boere was

deur Dr. Tian Schutte*

Om 21:30 die aand van 1 Oktober 1900 het ’n Engelse trein met ’n halwe kompanjie van die 2nd Battery Coldstream Guards, onder bevel van maj. Henry Gwynn Deane Shute, weswaarts vanaf Wonderfonteinstasie in die rigting van Panstasie gereis toe die trein sowat 800 jaarts oos van kilometer 296 (3.1 km oos van Panstasie) ontspoor deur Boere (vermoedelik van die Carolina-kommando) aangeval is. Volgens Britse verslae het die Boere ’n gedeelte van die spoorstawe net anderkant ’n klipbruggie losgemaak en gedraai wat veroorsaak het dat die lokomotief en twee treintrokke omgeslaan en dwars oor die spoor tot stilstand gekom het. Die masjinis en stoker het gevolglik seergekry. Die Engelse was van die staanspoor af in ’n ongunstige posisie, maar onder bevel van maj. Shute het hulle langs die spoorlyn stelling ingeneem en kon die Boere-aanval op 60 jaarts (54 meter) afweer. Die Boere het weerskante van die spoor van agter die trein op die Engelse geskiet.

Coulor-sergeant J. Gardham het met 20 manskappe die treintrokke verlaat en met gerigte vuur in die rigting van die Boere geskiet. Korporaal A. Norbourne het ook met groot kalmte sy manskappe aangevoer en die Boere se aanval afgeslaan. So ook het wmn. J. Landen (2nd Battalion Royal Canadian Regiment) en die engindrywer wat gewond was, spesiale vermelding gekry vir hulle optredes. Om 21:50 was die Boere se aanval op die trein verby. Om middernag het maj. Shute ’n rapport aan die bevelvoerder van die garnisoen by Panstasie gestuur waarin hy van die aanval en ontsporing van die trein melding maak. Daar was ook nie water in die nabyheid nie en daarom het hulle maar van die water in die lokomotief gebruik gemaak en gevra dat hulle water met ’n ander trein na die toneel gestuur moet word. Hy vra ook dat mediese voorrade soos boric wool, verbande, lint en No. 11- (opium-) pille saamgestuur word. Op daardie stadium het slegs twee manskappe gesneuwel, maar dit blyk dat die getal tot vyf gegroei het namate meer van die gewondes aan hulle wonde beswyk het. Die gesneuweldes was onder andere wmne. W. Fortune, G.A. Harris, J. Land, C. Salter en A. Selman. Hulle was aanvanklik langs die spoorlyn waar die geveg plaasgevind het by kilometer 296 begrawe, maar is tydens die oorlog almal in ’n oorlogsbegraafplaas 100 treë ten ooste van Panstasie saam in grafnommer 6 herbegrawe. Latere jare is die hele begraafplaas na Middelburg-Wes begraafplaas verskuif.

Posisie van die Engelse begraafplaas t.o.v. die stasiegebou (links) waar die vyf soldate van die 2nd Coldstream Guards wat by km 296 oos van Panstasie in die aanval op die trein gesneuwel het, almal herbegrawe is in grafnommer 6 (regs).

Twintig manskappe en een offisier, lt. Heywood (kop), is gewond. Omstreeks 03:00 die oggend van 2 Oktober 1900, het ’n onbekende Amerikaanse dokter sonder enige eskort by die toneel opgedaag en begin om die gewondes te verpleeg. Hy het hulle die heeltyd bygestaan totdat ’n ander trein die gewondes die volgende dag kom haal het. Hy is later bygestaan deur kapt. Healey (Royal Army Medical Corps), kapt. Skiffington Smythe, kapt. Claude Henry Comaraich Willoughby (9th Lancers) en lt. John Hay Campbell (Royal Army Medical Corps).Twee weermanne, Henry Edward Fetch en J. Hevey het onderskeidelik op 12 en 19 Oktober 1900 aan hulle wonde te Middelburg beswyk.Weerman J. Hevey het spesiale vermelding ontvang, want alhoewel hy swaar gewond was en nie kon beweeg nie, het hy nogtans gewere en bandeliere na die soldate langs die trein aangegee wat daar stelling ingeneem het.Daar was ook drie treintrokke vol Boerekrygsgevangenes, maar of van hulle seergekry of in die donker ontsnap het, kon nie vasgestel word nie.Volgens Australiese koerantberigte het die Boere dum-dum patrone gebruik in die aanval en was net 60 jaarts van die toneel ingegrawe. Na die aanval het die Engelse die gebied rondom die plek waar die aanval plaasgevind het gaan inspekteer en op kosoorblyfsels afgekom, asook gras gesien wat deur perde gevreet is wat daarop dui dat hulle reeds vir ’n geruime tyd voor die aanval in die area was.

Britse ondersoeke na die voorval

Op 3 Oktober 1900 het maj. Shute in Pretoria ’n rapport aan sy bevelvoerder, lt.kol. A.T. Henniker gerig waarin hy sinspeel dat die garnisoene by Wonderfontein- en Panstasies geweet het dat hulle ’n aanval op die trein waarop hy gereis het te wagte was. Hy was by geen van die stasies by Belfast of Wonderfontein daaroor ingelig nie, maar dat sy bevelvoerder, lt.kol. A.T. Henniker, wat in die trein voor hom gery het, wel daarvan geweet het.

Die daaropvolgende korrespondensie tussen die militêre sekretaris van die Leërhoofkwartier, lt.kol. H.V. Cowan, en die spoorweg stafoffisier, brig.genl. J.C. Barker, blyk dit dat intelligensierapporte en telegramme daarop dui dat die Boere eerder die spoorlyn naby Dalmanutha wou opblaas tussen 29 September en 1 Oktober en ’n voorradetrein wil vang en terselfdertyd ook Panstasie vanuit die noorde en suide wou aanval.

Laatmiddag op 1 Oktober 1900 is daar berig van swart spioene ontvang dat daar sowat 200 Boere die oggend 08:00 sowat 8 km suid van Middelburg gesien is. Daar is nie nodigheid gesien om die beweging van troepetreine vanaf Komatipoort na Pretoria as gevolg daarvan op te skort nie. So ook die teenwoordigheid van ’n Boerelaer sowat 24 myl (38.6 km) suid van Pan. Alle stasies langs die spoorlyn is hieroor ingelig. Verder is patrollies van beide Pan- en Wonderfonteinstasies uitgestuur om die spoorlyn te inspekteer. Patrollies van Wonderfontein het ook met Belfast- en Nooitgedachtstasies (tussen Wonderfontein- en Panstasies) kontak gehad en het met hulle terugkeer gerapporteer dat daar niks fout was nie. Majoor Owen van die Royal Field Artillery wat ook die bevelvoerder by Panstasie was, het self die verkenningstogte onderneem. Met sy terugkeer het hy ook ’n ploegbaas met ’n trollie uitgestuur om die spoor die oggend van 1 Oktober te inspekteer. Niks vreemds is waargeneem nie.

Maj. Gleichen

Majoor Alfred Edward Wilfred Gleichen, intelligensie-offisier vir die Eastern Lines of Communication, het op 12 Oktober 1900 te Middelburg ’n lys uitgestuur van alle Boerebedrywighede rondom Panstasie tot sover as Machadodorp:

  • Op 29 September 1900 het die inspeksie-offisier van Wonderfontein ’n telegram gestuur waarin hy meld dat hulle sowat 30 Boere vier myl (6.4 km) suid van Kleinfontein (209) suidoos van Panstasie gesien het asook 200 Boere te Grootlaagte (273) aangrensend van Kleinfontein gesien het.
  • Dieselfde dag het die bevelvoerder van Machadodorp berig dat die Boere van Carolina (genl. Joachim Fourie) die spoorlyn naby Dalmanutha wou aanval. Hierdie garnisoen is twee keer gewaarsku.
  • In ’n telegram wat op 30 September 1900 uitgestuur is, word melding gemaak dat ’n neutrale Boer aan die Engelse kom rapporteer het dat die spoor naby Dalmanutha opgeblaas gaan word. Die bevelvoerder van Belfast het ook ’n telegram uitgestuur dat twee van sy swart spioene ’n klein groepie Boere sowat 14 myl (22 km) noord van Pan waargeneem het.
  • Die Direkteur van Militêre Intelligensie het ook ’n telegram aan al die garnisoene van Pan, Wonderfontein, Belfast, Machadodorp en Dalmanutha uitgestuur (datum onbekend) dat hulle weet van twee Boerelaers wat op Bosmansfontein (204), sowat 24 myl (35 km) suid van Panstasie, is en uit sowat 400 Boere met drie kanonne bestaan. Volgens twee Engelse krygsgevangenes, wmne. Binns en Butler, wat deur hierdie groep aangehou en later vrygelaat is, was dit manskappe van generaals Tobias Smuts, Ben Viljoen, Joachim Fourie en kmdt. Hendrik Prinsloo wat net van skaapvleis gelewe het en daarop uit was om ’n trein te kaap.
  • Op 29 September 1900 het die Britse Intelligensie te Panstasie gerapporteer dat sowat 100 Boere met een kanon van Lemoenfontein (257) (wat reg suid van Panstasie geleë is) na die aangrensende plaas Kopermyn (260) uitgewyk het wat suid-suid-oos van Lemoenfontein geleë is.
  • Op 1 Oktober 1900 het ’n swart spioen die Britse Intelligensie te Wonderfonteinstasie meegedeel dat ’n Boerekommando bestaande uit 350 manskappe en 2 kanonne van genl. Philip Botha sowat 30 myl (48 km) noord van die stasie was en van plan was om die spoorlyn te vernietig.

 

Uit al hierdie telegramme is dit duidelik dat die Engelse self nie kon bepaal watter Boerekommando aanspreeklik gehou kan word vir die aanval nie en dat hulle nooit vooraf kon bepaal waar so ’n aanval sou plaasvind nie. Na hierdie insident het die Engelse berigte ontvang dat die Boere wat vir die aanval verantwoordelik was, op die plaas Witkloof (21) noord van Carolina geskuil het. Generaal Smith-Dorrien wat vir die bewaking van die spoorlyn vanaf Panstasie tot op Belfast verantwoordelik was, is op 26 Oktober 1900 deur die opperbevelvoerder van die Engelse magte, lord Kitchener, opdrag gegee om met hierdie Boere van die Carolinase kommando af te reken. Hierdie operasies is op 2-3 November en weer op 6-7 November 1900 uitgevoer. Dit was tydens die tweede operasie op 7 November 1900 toe beide genl. Joachim Fourie en kmdt. Hendrik Prinsloo tydens die geveg op Witkloof gesneuwel het. Uit vergelding het die Engelse op 3 Oktober 1900 drie plaashuise van Rudolph Gouws, Abel Scholtz en ’n Britz op Sterkstroom in die omgewing van die insident afgebrand asook Izak en Hendrik Breitenbach se huise suid van Wonderfonteinstasie.

Voorbeeld van ’n Britse troepetrein wat ’n maklike teiken vir die Boere was

*Uittreksel uit die boek: Treinvernielers – Boere-aanvalle op en vernietiging van treine, stasies en spoorlyne in die ZAR tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 deur Tian Schutte en Peet Coetzee