TO Honiball (1905-1990)

Rosa Nepgen (1909-2000)
Mei 18, 2020
Kruger se Hollanders
Mei 25, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Met sy strokiesprente soos Adoons-hulle, Oom Kaspaas en Jakkals en Wolf het TO Honiball groot bekendheid onder oud en jonk verwerf.

Thomas Ochse Honiball is op 7 Desember 1905 in Cradock in die Noord-Kaap gebore. Sy pa was John Honiball, ’n nasaat van die Britse setlaar wat in 1812 vanaf Somerset na Suid-Afrika gekom het. Toe hy net ’n maand oud was, het die gesin na Stellenbosch verhuis, waar hy skoolgegaan en gestudeer het. Hier was sy pa die hoof van ’n groep koshuise wat skoolseuns en studentd, onder meer van die kweekskool, gehuisves het. Hy het in 1925 aan die Hoër Jongenskool Stellenbosch (vandag Paul Roos Gimnasium) gematrikuleer; hy het reeds op skool tekeninge vir die skoolblad gedoen en op vyftienjarige ouderdom ’n prys gewen vir sy skets van sy ouerhuis, De Hoop, in Heroldstraat.

In 1926 gaan studeer hy argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad, maar staak sy studies die volgende jaar om na Chicago in die Verenigde State van Amerika te gaan. Hier het hy bedags as versierder van winkelvensters gewerk en saans het hy ’n aandkursus in handelskuns aan die Koester School of Advertising geloop. Sy werkgewer het hom gedwing om te bedank as gevolg van sy dubbele lewe. Sy studies in handelskuns het hom egter ’n betrekking by George Thall and Co. besorg; hier het hy kennis gemaak met die kultuur van strokiesprente. Dit het hom van eg Suid-Afrikaanse strokiesprentkarakters laat droom.

In 1930 het hy teruggekeer na Kaapstad, waar hy by Napier Publishing gewerk het. Drie jaar later het hierdie firma tot niet gegaan, waarna hy in die reklamewese gewerk het, en later vryskutwerk gedoen en tekenklasse gegee het. Hy het aanvanklik illustrasies vir Huisgenoot gedoen, maar in 1936 het hy ’n permanente pos by Nasionale Pers se koerante gekry. In 1941 het hy by die bekende DC Boonzaaier as spotprenttekenaar van Die Burger oorgeneem en groot invloed uitgeoefen. Prof. CFJ Muller het in sy boek Sonop beweer dat Honiball se spotprente kiesers in Suid-Afrika oor die taalgrens heen beïnvloed het en ’n uitwerking gehad het op die Nasionale Party se oorwinning in 1948. Hy het egter verkies om sy brood met strokiesprente te verdien.

Honiball het sy talent gebruik om die eerste Afrikaanse strokiesprente te teken en die Bosveld-karakter Oom Kaspaas (saam met Nefie en Ta’Engeltjie) te skep, terwyl hy die Jakkals en Wolf-stories met sy karakter Adoons laat lewe kry het. Die destydse redakteur van Huisgenoot, Markus Viljoen, het sy eerste tekeninge van Oom Kaspaas van die hand gewys omdat Huisgenoot “nie ’n comic-blad was nie.” Oom Kaspaas het egter wel sy debuut op 4 Maart 1939 in Die byvoegsel tot Die Burger gemaak en baie gewild geword. Hierdie strokies het sewentien jaar lank weekliks in Die Burger en later in Landbouweekblad verskyn; die laaste een is op 27 Augustus 1982 gepubliseer. Tien versamelings van Oom Kaspaas het in boekvorm verskyn, opgevolg deur ’n versameling van drie dele in 1979. Met die koms van televisie is dit ook in geanimeerde vorm verfilm.

Truida Pohl, wat met die digter NP van Wyk Louw getroud was en deel van die redaksie van die tydskrif Die jongspan was, het voorgestel dat Honiball die karakters Jakkals en wolf skep; dit is van 1942 tot 1969 in Die jongspan gepubliseer en in boekvorm vrygestel; eers in twaalf versamelings en daarna in drie versamelings in 1979. Dana Niehaus het hierdie stories ook op langspeelplate vertel terwyl Gert van Tonder ’n liedjie daaroor geskryf het wat deur Groep 2 opgeneem is.

Die gewildste van Honiball se strokiesprente was Adoons-hulle, wat vanaf 2 Julie 1948 omtrent 25 jaar in Die Huisgenoot verskyn het. Hierdie vermenslikte diereverhale was gegrond op mense en gebeurtenisse in die alledaagse lewe, asook op grappe wat mense aan hom vertel het. Een interessante karakter wat Honiball in hierdie reeks geskep het, was Klaas Windvogel, ’n astrante en verwaande Nederlander wat geïnspireer is deur ’n Nederlandse handelskunstenaar wat hy in die Kaap leer ken het. Ses versamelings het in boekvorm verskyn, asook ’n luukse uitgawe in drie dele wat in 1977 vrygestel is. Dié reeks is deur middel van poppe vir televisie verfilm; en dié reeks van 26 episodes is in 1977 uitgesaai. Sommige van sy ander karakters was Kalie Skietebok, wat in 1951 en 1952 in Die Burger verskyn het, en Faan Brand, ’n tipe Suid-Afrikaanse cowboy, wat tussen 1945 en 1946 in Die jongspan gepubliseer is.

Honiball is op 22 Februarie 1990 in die ouderdom van 84 jaar in Montagu oorlede.