Rosa Nepgen (1909-2000)

Johann Rissik (1857-1925)
Mei 18, 2020
TO Honiball (1905-1990)
Mei 18, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Rosa Nepgen was ’n Suid-Afrikaanse komponis wat hoofsaaklik Afrikaanse gedigte getoonset het, veral dié van haar man, WEG Louw, en sy broer, NP van Wyk Louw.

Rosa Sophia Cornelia Nepgen is op 12 Desember 1909 in Barkly-Oos gebore, en sy was die enigste kind van Johann Nepgen, ’n prokureur op haar geboortedorp, en Millicent Grance Schlemmer, ’n begaafde sangeres wat die klavier en viool bespeel het. Sy het in 1927 aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf vir B.Mus, met musiek, Engels en etiek as hoofvakke en die vak M.Mus (Honneurs) in 1931 behaal. Sy het die lisensiaatdiplomas vir orrel- en klavierspel verwerf, asook die Fellowship van Trinity College in Londen. Daarna was sy ’n dosent aan die musiekdepartement van die Universiteit van die Witwatersrand totdat sy in 1944 met WEG Louw getroud is. Reeds in haar tweede jaar het prof. PR Kirby haar gevra om die agtergrondmusiek vir ’n opvoering van Aristophanes se Wolke te skryf.

Nepgen het eers heelwat Engelse verse getoonset, onder meer ’n mirakelspel, The three Mary’s, vir ’n kamerorkes en soliste, maar sy was gou op soek na Afrikaanse tekste. In 1940 het sy in TJ Buning se bloemlesing Uit ons digkuns met die verse van WEG Louw kennis gemaak. Voor haar troue was sy orreliste van die NG Gemeente Melville in Johannesburg. Na haar troue het sy in Grahamstad gaan woon waar haar man 14 jaar lank ’n hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Rhodes-Universiteit was. Sy het reëlmatig aan komposisie gewerk en deur haar man ook met Nederlandse poësie kennis gemaak. Sy was behulpsaam met die orrelspel in die plaaslike NG Kerk, en het later voltydse orreliste geword. Só het sy intiem kennis gemaak met die Geneefse Psalmwysies en weer eens was dit die verwantskap tussen taal en musiek wat haar geboei het.

In 1957 is Louw as kunsredakteur van Die Burger aangestel en die gesin, nou met twee seuns daarby, het na Kaapstad verhuis. Louw het daarna gestreef om die kunsrubriek van Die Burger op dieselfde peil as dié van Europese publikasies te kry; Nepgen het artikels vir “bladsy twee” bygedra en resensies vir die boekeblad geskryf. In die Kaap het sy met die Haller-immigrantegesin kennis gemaak en saam met hulle in ’n a capella-groep, Die Goeie Hoop-koor, gesing. Die sangstyl van hierdie groep was vir haar ’n verrykende ervaring. Sy het haar ook meer intensief met die Geneefse Psalms besig gehou en Frans aangeleer om die tersaaklike literatuur te bestudeer. Dit het gelei tot die publikasie van ’n eie Psalter, Met hart en mond, waarin sy hoofsaaklik van Totius se Afrikaanse Psalmberymings gebruik gemaak het.

In 1966 is prof. Louw as hoogleraar aan die Universiteit van Stellenbosch benoem en twee jaar later het hulle na Stellenbosch verhuis. Vyf jaar tevore het hulle Italiaans begin aanleer en in 1972 het sy ingeskryf as ’n student in dié taal. In 1976 het sy ’n honneursgraad in dié taal verwerf. Haar kennismaking van die werk van die komponis Luigi Dallapiccola, asook die digter Eugenio Montale, wat in sy jonger dae ook ’n musiekkritikus was, het haar belangstelling in die eietydse Europese musiek en letterkunde aangewakker. Nadat Montale die Nobelprys vir Letterkunde in 1975 gewen het, is talle van sy gedigte in Afrikaans vertaal, en in 1980 is ’n bundel van haar Afrikaanse vertalings van Montale se gedigte gepubliseer. Prof. Louw is in April daardie jaar oorlede.

Nepgen is op 14 Februarie 2000 oorlede.