Herman Charles Bosman (1905-1951)

Annique Theron (1929-2016)
Mei 18, 2020
Johann Rissik (1857-1925)
Mei 18, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Herman Charles Bosman word allerweë beskou as Suid-Afrika se beste kortverhaalskrywer tot nog toe.

Hy is op 5 Februarie 1905 in Kuilsrivier naby Kaapstad gebore. Hy is Afrikaans en Engels grootgemaak en in sy jong dae het sy gesin baie rondgetrek. Hy was ’n tyd lank in Potchefstroom College, wat later Potchefstroom Boys High School geword het en hy het bydraes gelewer vir Jeppe High School for Boys toe hy daar skoolgegaan het. Toe hy sestien jaar oud was, het hy kortverhale vir Sunday Times begin skryf. Hy het aan die Johannesburg College of Education gestudeer, en in daardie tyd gereeld vir letterkundekompetisies ingeskryf.

Nadat hy sy kwalifikasie verwerf het, het hy by ’n Afrikaanse skool op Groot-Marico in die hedendaagse Noordwes-provinsie gaan skoolhou. Hier was waar baie van sy verhale, onder meer sy voorkamerstories wat in Jurie Steyn se poskantoorhuis afgespeel het, en sy verhale met oom Schalk Lourens as hoofkarakter, afgespeel het.

Tydens die skoolvakansie van 1926 het Bosman sy familie in Johannesburg besoek en hy het sy stiefbroer na ’n woordewisseling doodgeskiet. Hy is aanvanklik ter dood veroordeel, maar die vonnis is later tot net tien jaar verminder. Hy is in 1930 met parool vrygelaat nadat hy net die helfte van sy vonnis uitgedien het. Sy tydperk in die gevangenis het die grondslag van sy semi-outobiografiese boek Cold stone jug gevorm.

Hy het nege jaar lank oorsee getoer en die grootste deel van daardie tyd in Londen deurgebring. In daardie tydperk het hy verhale geskryf wat in een van sy bekendste boeke, Mafeking Road, ingesluit is. Met die begin van die Tweede Wêreldoorlog het hy na Suid-Afrika teruggekeer en as ’n joernalis begin werk, terwyl hy Rubaiyat of Omar Khayyam in Afrikaans vertaal het. Van 1948 tot 1951 het hy as proefleser by The Sunday Express gewerk en hy is ’n kontrak aangebied om elke week ’n Voorkamer-storie vir die tydskrif The Forum te skryf.

In Oktober 1951 het hy tydens ’n partytjie borspyne ontwikkel en hy is na die Edenvale-hospitaal gehaas. Toe hy gevra is waar hy gebore is, was sy antwoord: “Gebore in Kuilsrivier, oorlede in Edenvale-hospitaal.” Hoewel hy ontslaan is, het hy by die huis inmekaargesak en gesterf terwyl hy hospitaal toe geneem is.

Sy werk het na sy dood voortgeleef, veral met die eenmanvertonings wat die akteur Patrick Mynhardt gelewer het. Mynhardt het, benewens sy outobiografiese vertoning, ook baie van Bosman se verhale met oom Schalk Lourens as hoofkarakter, op die verhoog opgevoer. Verskeie bundels van Bosman se verhale is deur die jare uitgereik en hoewel Bosman hoofsaaklik in Engels geskryf het, is ’n Afrikaanse vertaling van ’n aantal van sy verhale, getiteld ’n Bekkersdal-marathon, in 2012 uitgegee. Die Afrikaanse vertalings is deur Francois Griebenow behartig. Die titel van hierdie bundel kom van seker Bosman se bekendste kortverhaal. Dit handel kortliks oor ’n predikant wat Psalm 119 as lied tydens ’n erediens opgegee het, maar nie gesê het watter verse die gemeente sou sing nie. Dit het gemaak dat die gemeente al 176 verse van die destydse beryming gesing het. Bosman het hierdie verhaal vertel soos net hy dit kon doen, en later het die sanger Albert de Wet ’n liedjie hieroor geskryf wat op sy album Die vensters na my siel verskyn het. Bekkersdal is ’n woongebied naby Randfontein en Westonaria aan die Gautengse Wes-Rand.

Nadat Bosman op 14 Oktober 1951 oorlede is, is hy in die Wespark-begraafplaas in Johannesburg ter ruste gelê. Op sy driehoekige grafsteen staan die woorde: “Die skrywer – the writer Herman Charles Bosman.”