Annique Theron (1929-2016)

Leonore Veenemans (1935-1973)
Mei 18, 2020
Herman Charles Bosman (1905-1951)
Mei 18, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Dr. Annique Theron het wêreldwye bekendheid verwerf deur die gebruik van rooibostee in velprodukte en as geneesmiddel.

Anna Elizabeth Heystek is op 18 April 1929 in die destydse Noord-Transvaal gebore en het op die plaas Mooikloof naby Potgietersrus (vandag Mokopane) grootgeword. Sy het haar familie op ’n jong ouderdom verloor en sy het besluit om in Pretoria te studeer. Hier het sy haar man, Hendrik Meiring Theron ontmoet. Hulle is in 1948 getroud, en nadat haar kinders gebore is, het sy besluit om ’n sakevrou te word, iets wat op daardie stadium ’n aardigheid in Suid-Afrika was.

Haar jongste dogter, Lorinda, is vroeg in 1967 gebore. Toe sy veertien maande oud was, het sy koliek ontwikkel en sy is deur allergieë verswak. Op 8 April 1968, toe Lorinda veertien maande oud was, het Annique rooibostee by haar borsmelk gevoeg en Lorinda se toestand het dadelik verbeter. Sy het rooibostee die erkenning hiervoor gegee en besluit om die wêreld bewus te maak van die genesingskrag van hierdie inheemse plant.

Aanvanklik was mense skepties, maar sy het haar nie laat onderkry nie. Sy het Annekie Theron Ondernemings in 1971 gestig, wat later as Forever Young (Edms.) Bpk. bekendgestaan het. Dié onderneming het velsorg- en gesondheidsprodukte van rooibostee-ekstrak vervaardig en die reeks Annique genoem, om dit meer internasionaal toeganklik te maak. In 1997 het sy twee goue medaljes by die World Intellectual Property Centre in Geneve ontvang en vir haar ontwikkeling van die Annique-velsorgreeks is sy as vroulike uitvinder van die jaar aangewys.

In 1994 het sy die woord “rooibos” as handelsmerk vir $40 in die Verenigde State van Amerika geregistreer en in 2001 het sy die regte om die handelsmerk te gebruik, gratis aan ’n sakevennoot, Virginia Burke-Watkis aangebied. Dit het die Suid-Afrikaanse rooibosteebedryf woedend gemaak toe uitvoerders gevind het dat hulle nie hul produk in die VSA onder die “rooibos” naam kon bemark nie. Sy het aan Rapport se verslaggewer Hanlie Retief vertel: “Sedert 1968 het die rooibosteebedryf my jare lank aan absolute, blatante diskriminasie onderwerp. Hulle het my sestien jaar lank verhoed om die tee te verpak en te verskeep.” Sy het die toekenning van die handelsmerk as soet wraak beskou; dit het gemaak dat hulle dit nie in die VSA kon bemark nie. Die hofsaak tussen Rooibos Beperk en Forever Young, wat deur Theron en Burke-Watkins bedryf is, het tot in 2005 voortgeduur toe die Amerikaanse houers van die handelsmerk ingestem het om op te hou om dit daar te gebruik. Burke-Watkins was ’n goeie vriendin van Theron het die Annique-produkte daarna deur haar eie maatskappy, Burke International, bemark.

Haar man is in 1990 oorlede en op 72-jarige ouderdom het sy haar doktorsgraad in alternatiewe geneeskunde aan die Commonwealth Open University behaal. Só het sy haar lewensideaal om ’n dokter te word, verwesenlik. Sy het in 2005 haar nuwe hoofkantoor in Irene, Centurion geopen en die volgende jaar het sy die 35ste bestaansjaar van haar onderneming met ’n nuwe verjongingsroom gevier. Die Theron-familie het die onderneming in 2010 verkoop, en ter viering van die veertigste bestaansjaar is die maatskappy se naam na Annique Health and Beauty verander. In 2016 het die maatskappy 15 000 konsultante in diens geneem en meer as 200 produkte bemark. Dr. Annique Theron, soos sy later jare bekend was, het haar outobiografie, Manna – My verhaal van rooibostee en wonderwerke, in 2009 gepubliseer.

Dr. Annique Theron is op 22 Februarie 2016 in die ouderdom van 86 jaar oorlede.