Leonore Veenemans (1935-1973)

Lucas Maree (1952-2011)
Mei 15, 2020
Annique Theron (1929-2016)
Mei 18, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Terwyl sommige Afrikaanse kunstenaars se loopbane oor ’n lang tyd gestrek het, was daar ’n handjievol wat binne ’n paar jaar ’n groot indruk gemaak het.

Een van hulle was Leonore Veenemans, wat ses albums in byna soveel jaar vrygestel het, en op ’n jong ouderdom oorlede is. Leonore is op 16 Februarie 1935 in eMahahleni (destyds Witbank) gebore. Sy was een van drie kinders; twee dogters en ’n seun, wat almal tot die musiekbedryf toegetree het. Nadat die gesin na Benoni verhuis het, het sy aan die Hoërskool Brandwag gematrikuleer. Sy het in die onderwys gestudeer en huishoudkunde by dieselfde skool gegee, maar in 1961 na Wene in Oostenryk vertrek waar sy ses maande lank gestudeer het. Die volgende jaar het sy, met die opening van die Johannesburgse Stadskouburg, ’n hoofrol in ’n uitvoering van Engelbert Humperdinck se opera Hänsel und Gretel vertolk. Drie jaar later het sy besluit om musiek haar loopbaan te maak, en in verskeie opvoerings van die verskillende streeksrade vir uitvoerende kunste gesing.

Haar deurbraak het egter in 1969 gekom toe sy ’n platekontrak by Brigadiers gekry het. Haar platebaas, Albie Venter, het besef dat sy ’n groot leemte op die gebied van ligte Afrikaanse musiek kon vul. Haar eerste album was Goud en silwer, wat uit een Afrikaanse kant en een kant met hoofsaaklik Engelse snitte bestaan het. Die Afrikaanse snitte was onder meer “Goud en silwer wals”, “Seemeeu jy vlieg na my tuiste” en Rollo Scott se komposisie “Liefling kom wals saam met my”. Onder die ander snitte was “I talk to the trees”, “Schenk man sich Rosen in Tirol” en “With a song in my heart”. Die publiek het met haar volgende album, Verre lande, wat sy saam met die koor van die Suid-Afrikaanse Lugmag opgeneem het, regtig van haar kennis geneem, veral met “Liefste Madelein”, ’n Russiese wysie waarvoor die radio-omroeper Daniël Kirstein die woorde onder die skuilnaam Chris Steyn geskryf het. Hierdie album het egter ook ander treffers opgelewer, onder meer “Die woudprinses”, “My land Suid-Afrika” (Sgt. Barry Sadler se bekende “Ballad of the Green Berets” met Afrikaanse woorde), “Verre land”, wat deur Nico Carstens geskryf is, en nóg ’n Rollo Scott-komposisie, “Liefde regdeur die jaar”. Sy het daardie jaar die Sarie-toekenning vir die mees belowende sangeres van ligte Afrikaanse musiek gewen.

Haar derde album, Al wat bly, is die rosie, het in 1970 verskyn. Benewens die titelsnit, was daar treffers soos “Rose bring ’n groet aan jou”, “Namakwalandse blomme” en “My liefdesmelodie”.  Chris Steyn het Afrikaanse woorde vir “La paloma” geskryf en Leonore het dit onder die titel “Kom terug” opgeneem. Latere opnames van haar suster Barbara asook Anna Kruger het mettertyd verskyn. Op haar vierde album, Leonore, wat in 1971 uitgereik is, was daar een besondere snit. “Heimwee na jou” was op die wysie van “Whispering hope”. Wat hierdie snit egter so besonders gemaak het, was ’n uiters gevorderde opnametegniek, wat in Engels as “vocal overdubs” bekendstaan. Haar stem is meer as een keer opgeneem, met die gevolg dat dit klink asof dit ’n koor is wat sing terwyl dit net een stem was. Met hierdie opname het sy die melodie en die harmonie gesing. Onder die ander snitte wat gewild was, was “Lang winter”, die Afrikaanse weergawe van Connie Francis se treffer “Blue winter”, asook uitstekende opnames van “Dink aan my” en “Seeman”.

In 1972 het sy twee albums vrygestel. Die eerste een was weer saam met die koor van die Suid-Afrikaanse Lugmag; dit het snitte soos “Kom terug”, “Rose bring ’n groet aan jou”, “Namakwalandse blomme” en “My liefdesmelodie” bevat.  In Oktober daardie jaar  het sy haar laaste album, Bly my my, vrygestel, hoewel niemand geweet het dit sou haar laaste een wees nie. Te oordeel aan die aantal treffers op die album was dit dalk haar beste een. Sy het Afrikaanse weergawes van twee groot treffers van daardie jaar ingesluit; “Kom wat wil” en “Sing ’n lied” was onderskeidelik “Come what may” van Vicky Leandros en “Song sung blue” van Neil Diamond met Afrikaanse woorde. Onder die ander treffers was “In my liefdeslied”, geskryf deur Sias Reinecke en Gert van Tonder (Groep 2 het dit natuurlik ook opgeneem), “Stil soos die see”, ’n komposisie van Sias Reinecke en André Viljoen, asook “Sing van jou en my”, “Skenk jou hart aan my”, “Die liefde in jou hart” en “Liefde kan vir ons gelukkig wees”.  

Leonore het in drie rolprente verskyn. Toe die Springbok Radio-verhaal Die geheim van Nantes verfilm is, het Leonore die temalied, “Keer op keer”, gesing, maar self ook ’n rol vertolk. Sy was aanvanklik onseker of sy ’n aktrise wou word en het die aanbod om in dié rolprent te speel, blykbaar met huiwering aanvaar. In Die drie Van der Merwes het sy die rol van ’n nagklubsangeres teenoor Franz Marx vertolk en in 1971 was sy saam met Gé Korsten in A new life, wat gebore is uit die gebeure rondom die eerste hartoorplanting wat in 1967 deur dr. Chris Barnard uitgevoer is. Hulle het ook die duet “Song of love”, asook die Afrikaanse weergawe, “Liefdeslied”, saam in die rolprent gesing. Lindie Roux en die Drakensbergse Seunskoor was ook in dié rolprent te sien. Sy sou in nóg vier rolprente as aktrise opgetree het.

In 1961 het Leonore haar debuut op die verhoog in Johann Strauss se opera Die Fledermaus gemaak. Sy het, tussen haar ligte musiek, steeds aan ’n verskeidenheid verhoogproduksies deelgeneem.  Op Vrydag 16 Februarie 1973 het sy, op haar 38ste verjaardag, aan ’n produksie van The Merry Widow in die Nico Malan-teater deelgeneem en die gehoor het haar blykbaar gelukgewens deur vir haar te sing. Daar word vertel dat haar vriende en kollegas haar wou aanraai om te wag voordat sy huis toe sou ry na die vertoning, maar sy het dit tog gedoen.  Sy is die dag na haar verjaardag in ’n motorongeluk naby Prins Albert dood. Sy was van plan om ’n Christelike album vry te stel, en  haar broer, Bennie, wat as ’n seunsopraan bekendheid verwerf het, sou ’n album saam met haar opneem.

Kort na haar dood is ’n versamelalbum, getiteld “Haar mooiste lied”, ter nagedagtenis aan haar uitgereik. Benewens haar grootste treffers is “Stille nag”, haar laaste opname wat ook op ’n Kersalbum voorgekom het, ingesluit. In 1988 is ’n reeks versamelalbums, Goue grotes,  deur kunstenaars soos Jurie Ferreira, Groep Twee, Japie Laubscher, Gert Potgieter en Flippie van Vuuren uitgereik. Leonore se musiek is ook onder hierdie titel heruitgereik. Weer eens is twaalf van haar treffers ingesluit, onder meer “Liefste Madelein”, “Verre land”, “In my liefdeslied” en “Namakwalandse blomme”.

Dit het lank geduur voordat die musiek van Afrikaanse kunstenaars van destyds op CD uitgereik is, en Leonore se aanhangers moes tot 1993, met die twintigste herdenking van haar dood, wag voordat dit gebeur het. Die versamelalbum Jare van liefde, wat eerste vrygestel is, het 26 snitte bevat; haar grootste Afrikaanse treffers, asook “Stille nag” en die enigste Engelse snit op dié versameling, “I will always worship You”.  In 1999 is nóg ’n versamelalbum, getiteld Ons eie nagtegaal, vrygestel. Hierdie album het van die vorige een verskil; daar was onder meer van haar Engelse snitte, asook “Schenk man sich Rosen in Tirol” ingesluit; en daar is nie net op haar Afrikaanse liedjies gekonsentreer nie. Daarom sou dié wat van al haar musiek gehou het, eintlik albei van hierdie albums by hul CD-versamelings moes voeg.

Die Veenemans-nalatenskap leef voort. Leonore se suster Barbara het in 1974 haar eerste album, Ek wens, uitgereik. Die titelsnit was ’n treffer, terwyl “Ek sien ’n ster”, “Speel nog een maal vir my Habanero” en “Ek kom weer terug” ook radiotreffers was. Barbara se tweede album, Liefde is so mooi, het vier jaar later verskyn. Die titelsnit was die Afrikaanse weergawe van John Paul Young se treffer “Love is in the air”, terwyl snitte soos “Kom terug” (wat Leonore ook opgeneem het), “Soos ’n duif”  en “My paradys” ook radiolugtyd gekry het. Daar is ook ’n versamelalbum met die snitte van hierdie twee albums op CD uitgereik. Intussen het Barbara haar hoofsaaklik op opera en musiekblyspele toegespits. Barbara se dogter Michelle sing onder haar ma se nooiensvan, maar sy konsentreer ook net op opera.

Dié wat Leonore geken het, het vertel dat sy die musiekbedryf met haar skoonheid en haar aangename persoonlikheid oorrompel het. Haar dood op ’n jong ouderdom kan as niks anders as ’n tragedie beskou word nie. Tydens haar gedenkdiens was die Skrifgedeelte uit Psalm 96 vers 1: “Sing tot die eer van die Here ’n nuwe lied; sing o ganse aarde.”