Jan de Wet vier sewentig jaar

Die Britse Setlaars
Mei 14, 2020
Marais Viljoen (1915-2007)
Mei 15, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Daar is een persoon wat meer as enigiemand anders gedoen het om kontemporêre Christelike musiek gewild te maak, en gesorg het dat dit meer gereeld tydens eredienste voorkom.

Jan de Wet is op 3 Februarie 1950 in Harrismith in die Vrystaat gebore. Sy pa was ’n predikant en omdat hulle baie rondgetrek het, het hy sy skoolopleiding by verskeie skole ontvang voordat hy aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer het. Hy was een van die Randse Afrikaanse Universiteit se eerste studente en hy en ’n medestudent, Marti Hellferscee het die sangpaar Jan en Marti gestig. Hul eerste langspeelplaat, Hi-puri-tuki, het in 1972 verskyn en die titelsnit, “Ai meisie meisie”, wat later ook deur die A Capella-koor opgeneem is, en “Die kosliedjie” het treffers geword. Hulle het ook besef dat daar ’n toenemende behoefte onder jongmense was om die Here met kitaarbegeleiding te loof, en omdat die meeste sulke liedjies Engels was, het hy soortgelyke liedjies in Afrikaans geskryf. Hulle het twee Christelike albums, Dis waar en Jongeling vrygestel.

Jan het op Otjiwarongo in Namibië gaan skoolhou, maar ’n roeping gehad om die Evangelie te verkondig en in die teologie aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Intussen het hy voortgegaan om liedjies te skryf. Sonja Herholdt se opname van “Ek verlang na jou” het in Julie 1975 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, binne drie weke tot die sesde plek gevorder en agt weke op die trefferslys gebly. Nog een van sy komposisies was presies ’n jaar later ook ’n Top 20-treffer. Ian en Dix het “Sonder jou” opgeneem; hulle het die derde plek gehaal en elf weke op die trefferslys gebly. Om die waarheid te sê; teen die einde van Augustus 1976 was daar vir die eerste, en laaste, keer twee Afrikaanse liedjies onder die eerste drie op Springbok Radio se Top 20, met “Ramaja” van Glenys Lynne in die eerste plek en “Sonder jou” derde. Hy het ook Carike Keuzenkamp se treffers “Kaalvoet in die reën” en “Sarah de Jager” (’n ware lewensverhaal) geskryf. Sy komposisie “’n Bietjie meer tyd saam”, wat hy saam met Tienjie de Villiers geskryf het en deur Sonja Herholdt opgeneem is, was die temaliedjie van die rolprent Dit was aand en dit was môre. Jan het egter ook self ’n langspeelplaat opgeneem; die titelsnit, “My nooi is in ’n nartjie”, was ’n toonsetting van ’n gedig van DJ Opperman. Hierdie album het ’n Afrikaanse weergawe van die Don Mc Lean-komposisie “And I love you so”, bekend as “Ek het jou so lief”, asook sy eie komposisies “Bokstang”, “By die kerkbasaar” en “Ich liebe Südwest” bevat.

In 1980 is Jan as predikant by die Nederduits Gereformeerde gemeente Helderberg in Somerset-Wes bevestig. Hy het gou die bynaam van die Singende Predikant gekry aangesien hy sy kitaar uitgehaal en gedeeltes uit die Bybel gesing het. Hy het mettertyd uitnodigings ontvang om oral in die land op te tree met die gevolg dat hy nie sy gemeentewerk kon voortsit nie. Hy het besluit om musiek sy voltydse loopbaan te maak. Hy het ook besluit om hom voltyds op kontemporêre Christelike musiek toe te spits, en in die 1980’s die Christelike albums Ek is vry en Loof Hom met die tromme vrygestel. Die treffersnit op eersgenoemde was “Sy Naam is Jahwe”, wat hy later opnuut sou opneem, terwyl die titelsnit van laasgenoemde album gou byval by veral jongmense gevind het. Jan se suksesvolste album is egter in 1989 vrygestel. Via Dolorosa het ’n snit bevat wat baie vinnig ’n kommersiële treffer geword het. “Hierdie Kind” was die Afrikaanse weergawe van Scott Wesley Brown se komposisie “This little child” en danksy ’n baie sterk boodskap en Danny Antill se skitterende Jim Steinman-geïnspireerde verwerking het dit ’n reusetreffer geword.

Jan moes egter ook venynige kritiek verduur aangesien sy meer kontemporêre musiekstyl die “musiekpuriste” in die susterskerke hoegenaamd nie aangestaan het nie. Toe die tweede Psalm-en-Gesangeboek in 1978 in gebruik geneem is, is die Halleluja-sangbundel geskrap omdat die liedere kwansuis “te vrolik” was. Daar word ook vertel dat Jan se pa hom uitgelag het toe Jan hom van sy gemeente se musiekbediening vertel het; volgens Jan se pa het dit uit ’n orrelis en ’n kerkkoor bestaan, en niks anders nie. Jan het egter volhard, en in 1984 is die eerste Jeugsangbundel in gebruik geneem. Jan het later wel twee albums vrygestel waarop hy Halleluja-liedere opgeneem het. Mettertyd het al hoe meer gemeentes begin om orrelbegeleiding, veral in aanddienste, met kitaar- of orkesbegeleiding te vervang en al hoe meer kontemporêre Afrikaanse Christelike musiek het verskyn. Dit het ook daartoe gelei dat kunstenaars soos Danie Botha, Piet Smit, Willie Joubert, Louis Brittz, Leon Ferreira, Retief Burger en groepe soos Prophet, DuisLig en Anders op die toneel verskyn het.

Jan het daarby ook besluit om musiek gemik op die heel jongste luisteraars vry te stel toe hy verskeie albums saam met die Loflaaities en die Lofkleuters opgeneem het. Hy het deurentyd steeds albums wat op volwasse luisteraars gemik is, vrygestel, onder meer Wie sal?, Vreugdevure en Hoe groot is U. Daarby het hy, Dewald Gouws, Willie Joubert en Leon Ferreira saamgespan en die groep Manne wat glo gestig. Hy, Dewald, Leon en Willie het twee albums saam opgeneem; daarna het Rudi Muller vir Dewald vervang en hulle het nog een album vrygestel. Jan het ook twee albums waarop sekere snitte uit die Liedboek van die Kerk met orkesbegeleiding gesing is, saam met Piet Smit, Wanda de Kock en Lisbe Visser opgeneem.

Jan het die Comrades-marathon al soveel keer voltooi dat hy ’n permanente nommer verwerf het, en daarom is dit geen verrassing dat hy Afrikaanse woorde vir die Vangelis-komposisie “Chariots of fire”, wat hy “Lied van die wenner” genoem het, geskryf het nie.

Hoewel dit nog altyd vir Jan oor die verkondiging van die Evangelie deur middel van musiek gegaan het en hy hoegenaamd nie erkenning nastreef nie, kan ’n mens nie anders as om hom as ’n pionier en ’n legende te beskou nie. As hy nie met sy kitaar op die kansel geklim het nie, sou kerkmusiek nooit so ver ontwikkel het as wat wel die geval was nie.