Die Britse Setlaars

Esther Mentz (1911-1986)
Mei 12, 2020
Jan de Wet vier sewentig jaar
Mei 15, 2020

deur Elizma Smith

Saam met die res van die wêreld is Suid-Afrika tans vasgevang in die greep van die Covid-19-pandemie. Buiten vir al die ander maniere waarop dit ’n impak op die wêreld het, moes talle groot geleenthede al wêreldwyd gekanselleer word en herdenkings en verjaarsdae word ook stil gevier.

Vanjaar 200 jaar gelede, juis in hierdie tyd, tussen Maart en Junie 1820, het ’n groep van ongeveer 4000 Britse immigrante, bekend as die Britse setlaars, ’n nuwe heenkome hier in Suid-Afrika gevind.  Alhoewel nie die eerste Britse immigrante na Suid-Afrika nie, was dit die enigste staatsondersteunde groep wat hierheen gekom het. Dit blyk ook dat hierdie groep van 4000 maar ’n klein uitgesoekte groepie was uit bykans 90 000 aansoekers wat na Suid-Afrika wou emigreer.

Waarom die groot belangstelling onder die Britte om te emigreer? Brittanje het met die uitdaging van grootskaalse werkloosheid te kampe gehad na die beëindiging van die Napoleontiese oorloë. Vandag, 200 jaar later, word Brittanje weer gekonfronteer met ’n uitdaging, maar hierdie keer is dit nie net ’n Britse uitdaging nie, maar ’n wêreldwye uitdaging.

Die 4000 Britse setlaars het stelselmatig vanaf Desember 1819 uit Brittanje vertrek op 21 skepe waarvan die eerstes, die Chapman en die Nautilus, in Maart 1820 in Tafelbaai aangekom het en daarvandaan na Algoabaai (vandag Port Elizabeth) gevaar het waar hulle aan wal gegaan het om in die Oos-Kaap gevestig te word.

Een van die groot uitdagings waarmee hierdie 4000 mense te doen sou kry, was die feit dat, as hoofsaaklik geskoolde ambagsmanne, hulle bestem was vir ’n lewe as boere, iets waarvan hulle weinig of geen kennis gehad het nie. Die afskeidswoorde van die landdros van Uitenhage, kolonel Cuyler, het waarskynlik die realiteit van gevare en ontberinge wat wag, tuisgebring toe hy, nadat hul by hul grond afgelaai is, gesê het: “Menere, as julle uitgaan om te ploeg, moet julle nooit julle gewere agterlaat nie.”

Hulle is gekonfronteer met nuwe en onbekende omstandighede, ’n nuwe manier van doen, onbekende terrein, onbekende bedreigings en ’n nodigheid vir nuwe vaardighede. Wat hulle gehad het, was ’n vertroue op God, eie grond wat hulle kon bewerk en die hoop op ’n nuwe toekoms vir hulle kinders en daarmee het hulle oor begin.

Na terugslae en swaarkry, het dit mettertyd beter gegaan. Merinoboerdery en wolvervaardiging is gevestig. Kundigheid as skrynwerkers, wamakers, hoefsmede en kleremakers is hier aangewend om besighede te vestig.  Onderwys is bevorder, verskeie kerke gevestig, kerkskole opgerig en sendingwerk gedoen. Met hul kennis en ervaring van handel is plaaslike handel uitgebrei en het die ekonomie ’n goeie hupstoot gekry.  Vrye pers is in 1925 gevestig en die eerste publikasies het in die 1830’s in Grahamstad verskyn. 

Met deursettingsvermoë en dryfkrag het die Britse setlaars van 1820 hul bydrae gelewer tot veral die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika.

Oosgrens ongeveer 1835