Dr. Danie Craven (1910-1993)

Hendrik Vermooten (1921-2013)
Mei 12, 2020
Jan Ellis (1942-2013)
Mei 12, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Gedurende die apartheidsjare het een man meer as enigiemand gedoen om te verseker dat Suid-Afrika nie heeltemal van internasionale sport geïsoleer is nie.

Dr. Daniël Hartman (Danie) Craven is op 11 Oktober 1910 op die Vrystaatse dorp Lindley gebore en het aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer. Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, aanvanklik in die teologie maar later op mediese aandrang na sosiale wetenskappe oorgeskakel. Hy het op universiteit nie net rugby gespeel nie, maar ook aan swem, waterpolo en bofbal deelgeneem. Hy het sy BA-graad in 1932 behaal, sy MA in 1935 en sy PhD in etnologie in 1935.

Terwyl hy op universiteit was, het “Oubaas” AF Markötter, die afrigter van die universiteit se rugbyspan en nasionale keurder, hom raakgesien. Craven het op negentienjarige ouderdom begin speel en is die volgende jaar na die eerste span bevorder. Craven het sy debuut vir die Springbokspan in 1931 teen Wallis gemaak nog voordat hy vir die Westelike Provinsie gekies is. Die kaptein van daardie span was die legendariese losskakel Bennie Osler terwyl Craven skrumskakel gespeel het. In sy derde toets, teen Skotland op Murrayfield, het Craven die wendrie gedruk. Hy het egter ook in ander posisies gespeel; in 1933 was hy losskakel teen Australië en in die volgende toets het hy agtsteman gespeel. Hy is in 1937 as kaptein aangewys vir die toets teen Nieu-Seeland in Wellington en was later ook kaptein teen die Britse Leeus in 1938. Hy het sy laaste toets in September daardie jaar gespeel en die Tweede Wêreldoorlog het ’n vroeë einde aan sy loopbaan gemaak.

In 1949 is hy as die Universiteit van Stellenbosch se eerste professor in liggaamlike opvoeding aangestel; hy het hierdie pos tot in 1975 beklee. Dieselfde jaar is hy ook as Springbok-afrigter aangestel. Hy het baie goed begin deurdat die Springbokke tien agtereenvolgende toetse gewen het; dit het ’n onoorwonne tuisreeks teen Nieu-Seeland, die eerste reeks na die einde van die Tweede Wêreldoorlog, ingesluit. In die tydperk van 1949 tot 1952 het die Springbokke 17 uit 23 toetse onder sy leiding as afrigter gewen; onder meer die grootste oorwinning deur ’n Springbokspan op daardie stadium van 44-0 oor Skotland op Murrayfield. Hy het die span van die Universiteit van Stellenbosch van 1949 tot 1956 afgerig en ook in daardie tyd in die rolprent Matieland, saam met onder meer Frederik Burgers en Taffie Kikilus, gespeel.

In 1956 het Craven die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad geword en die volgende jaar het hy ’n lid van die Internasionale Rugbyraad geword. Hy was ook by meer as een geleentheid die voorsitter. Die laaste tydperk van sy voorsitterskap van die Internasionale Rugbyraad het gepaard gegaan met die destyds verbode ANC se samewerking met anti-apartheidsorganisasies in die buiteland wat daarin geslaag het om Suid-Afrika op sport- en kultuurgebied van die buitewêreld te isoleer. Nogtans het Craven kontak met ander lande behou vanweë sy posisie op die Internasionale Rugbyraad. Rugby is beskou as ’n sportsoort vir die blanke Afrikaner en het as sodanig ’n simbool van Afrikanermag geword. Daarom het geen ander sport-isolasie die Afrikaner meer geïrriteer as die verbod op internasionale rugby nie. Hy was bang dat isolasie die standaard van Suid-Afrikaanse rugby nadelig sou beïnvloed. Nadat die beplande Suid-Afrikaanse toer deur die All Blacks in 1985 gekanselleer is, het die “Nieu-Seelandse Kavaliers” in 1986 deur Suid-Afrika getoer, en die Springbokke wat aan daardie reeks deelgeneem het, het volwaardige Springbok-kleure gekry. Die laaste keer wat ’n amptelike All Black-span teen Suid-Afrika sou speel voordat apartheid tot ’n einde gekom het, was in 1981 tydens die Springbokke se toer deur Nieu-Seeland wat deur betogings ontwrig is. Geen amptelike toere uit of na Suid-Afrika het na 1984 plaasgevind nie. In 1988 het Craven in Harare met die ANC vergader om die moontlike terugkeer na internasionale sport te bespreek, maar baie regsgesinde Afrikaners het hom as ’n verraaier beskou en oud-president PW Botha het nie sy steun hieraan toegesê nie. Dit het die weg gebaan vir die totstandkoming van die verenigde Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (SARFU) wat in 1992 gestig is en waarvan Craven tot met sy dood die president was. Hy was 37 jaar lank aan die stuur van Suid-Afrikaanse rugby.

Dr. Craven is op verskillende maniere vereer. Die jaarlikse rugbyweek vir hoërskole is na hom vernoem en in 1981 het hy ereburgerskap van Stellenbosch gekry, asook die Staatspresident se toekenning vir uitsonderlike diens. Hy het ’n Jack Russell-terriër met die naam van Bliksem gehad. Bliksem het oral saam met dr. Craven gegaan, selfs na rugby-oefeninge toe. By die Coetzenburg-sportkompleks op Stellenbosch is ’n standbeeld ter ere van dr. Craven en Bliksem opgerig en die Danie Craven-stadion, wat deel daarvan vorm en in 1979 in gebruik geneem is, is na hom vernoem.

Dr. Danie Craven is op 4 Januarie 1993 op Stellenbosch oorlede.