Oktober 1918: nié ons “mooiste, mooiste maand”

Jan Spies (1936-1996)
April 21, 2020
Die geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Inleiding
April 28, 2020

deur Jaap Steyn*

“Die dood het in ons land rondgewandel en op dié wandeling het hij duisende frisse, veelbelowende lewens afgemaai. Die gevolg is dat Oktobermaand, in ander jare ons mooiste lentemaand, … in 1918 ’n maand van droefheid en angs vir die meeste van ons geword het.”

Dit skryf Die Huisgenoot, toe nog ’n beskeie maandblad (wat sedert Mei 1916 bestaan) in sy hoofartikel van Oktober 1918. Die blad haal ’n paar reëls uit C. Louis Leipoldt se gedig “Oktobermaand” aan:

Ek dink die mense vier

Vir eeuwig in die hemel

Oktobermaand soos hier

Die tweede strofe van die gedig begin met die woorde: “Dit is die maand Oktober / die mooiste, mooiste maand”. (In plaas van y is destyds nog die Nederlandse ij gebruik, daarom hij en sij, en ewig was nog eeuwig.)

Maar Oktober 1918 was beslis nie Suid-Afrika se mooiste, mooiste maand nie. Talle mense is daardie Oktober in die fleur van hul lewe oorlede.

Dit is begryplik dat die Covid-19-pandemie van 2020 mense laat terugdink aan die Groot Griep van 1918. Verskeie artikels het oor laasgenoemde verskyn. Dit was ’n epidemie wat veral Suid-Afrika baie hard getref het.

In sommige artikels is aangehaal uit Johannes Steinmeyer se boek Spykers met koppe. Steinmeyer was ’n joernalis van Die Burger. Hy vertel veral van wat dáár gebeur het.

Die meeste winkels was toe. Nou en dan het ’n trem gery. Die grootste deel van die verkeer was begrafnisstoete dag en nag. Mense het met rate na koerante gestroom. Een man wat geglo het aan “vars lug en diep asemhaal”, het by Die Burger-kantoor dood neergeval.

Prof. Howard Phillips, ’n historikus wat ’n deeglike studie van die 1918-griep gemaak het, meen tussen 250 000 en 300 000 het omgekom. Volgens ’n regeringskommissie is 11 726 wit mense dood.

In dié tyd was ds. JD Kestell leraar van die NG gemeente Bloemfontein, asook moderator van die Sinode van die Vrystaatse NG Kerk. Hy sê dit was “louter genade” dat hy, sy vrou Truida en die kinders nie die siekte ten prooi geval het nie, al het hy siekebesoeke gebring aan talle lidmate, ook lidmate van die Gereformeerde Kerk, toe dié gemeente se predikant ongesteld was, asook Engelssprekendes, swart mense en die Grieke van die groentewinkel naby die pastorie. Elke dag moes hy mense te ruste lê. “Ek het hele dae in die hospitale en kerkhof deurgebring.”

Sy biograaf, MCE van Schoor, haal Kestell se woorde aan: “Nooit sal ek die toneel vergeet toe ek die naweek van 4 Oktober ’n diens elders waargeneem het en by my terugkeer die Maandagmôre agterkom daar is geen verkeer op straat nie. Orals was mense meteens siek. Die hospitale was oorvol en ander geboue en skole is as verpleegplekke ingerig. Die talle mense wat ek te ruste moes lê, het by die dag toegeneem – eers ses, toe tien en uiteindelik meer as twintig per dag […]

“Omdat talle tot sterwens toe siek was, kon ek moeilik met woorde uit die Skrif of met ’n gebed vertroosting of selfs sieleredding bring. Om nie soseer kinders of ou mense nie, maar veral manne in die fleur van hul lewe dag na dag tientalle te sien sterf en by die graf van soveel geliefde gemeentelede afskeid te neem, het my aangegryp en bevrees gemaak of daar ooit ’n keerpunt in die epidemie sou intree” (MCE van Schoor, John Daniel Kestell 1854-1941. Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, 1992, bl. 272).

Die dood van soveel jong mense was ook vir Die Huisgenoot ’n opvallende aspek van die epidemie. Veral as jong, fris mense met ’n veelbelowende toekoms die prooi van die siekte word, voel ’n mens die verskrikking daarvan dubbeld. Daar is byna geen huisgesin of vriendekring wat nie ’n sterfgeval het om te betreur nie.

Die Huisgenoot maak melding van verskeie gestorwenes. Daar was Fred Dormehl, die “wakker en ijwerige” bestuurder van die Nasionale Pers (uitgewer van Die Huisgenoot). Ook Ruysch van Dugteren, wat twee jaar lank mederedakteur van Die Huisgenoot was.

“En wie kan vir Tobie Muller ooit vergeet – die voorbeeldige jonge predikant en knappe geleerde, die ernstige volksman en onbedugte kampvegter vir die Afrikaanse taal en die Afrikaanse volksaak, een van die oprigters en redakteurs van ‘Ons Moedertaal’, die tijdskrif wat nou verenig is met Die Huisgenoot? Die feit dat Tobie Muller vergoed van ons weg is en sij plek onder ons leegstaan, is ongelooflik en onbegrijplik.”

In Desember 1918 plaas Die Huisgenoot ’n artikel van Gordon Tomlinson, een van Muller se mede-aktiviste in die taalstryd op Stellenbosch. Hy noem dat Muller en ander taalaktiviste met ’n deel van die kerkraad en gemeente van die NG kerk op Stellenbosch gebots het oor die gebruik van Afrikaans as kerktaal. Muller het toe liewer as hulpprediker bedank as om sy beginsel prys te gee en van Afrikaans af te sien. Gelukkig kon ’n skikking bereik word.

In 1916 was hy ’n ruk lank waarnemende professor in wysbegeerte aan die Victoria-kollege, voorloper van die Universiteit van Stellenbosch. Byna gelyktydig met ’n aanbod om permanent as professor aan te bly, kry hy ’n beroep na die NG gemeente Philippolis. Volgens Tomlinson was dit moeilik om ’n keuse te maak. Aanvanklik het hy die beroep van die hand gewys, maar “na ’n bange dog stille worsteling” het hy dit aangeneem en vertrek na die Vrystaat tot groot spyt van sy studente.

Soos ’n mens kon verwag, het hy dadelik Afrikaans in die kerkdienste gebruik in plaas van “amper-Nederlands” waaraan hy so ’n hekel gehad het. Hy was volgens Tomlinson die eerste NG predikant wat Afrikaans in ’n huweliksplegtigheid gebruik het. Dit was by die huwelik van Tomlinson en sy vrou in 1916.

Oor Muller se laaste week op aarde skryf Tomlinson: “Plotseling verskijn die griep in Philippolis. Albei die geneeshere in die bed. ’n Paniek onder vele. Wie anders dan hij in die bresse? Twee dae siek en nog steeds die werk van sy Meester verrigtende. Swak tot die dood in bed. Longontsteking, hoë koors, min hoop.”

Hy was al siek toe hy op Sondag 13 Oktober 1918 die diens waargeneem het, en is die namiddag per motor na ’n plaas waar die hele gesin siek was. Op 25 Oktober is hy oorlede en die volgende dag begrawe. Net ’n paar mense, hoofsaaklik ou mense en kinders, kon die begrafnis bywoon.

Ja-nee, Oktober 1918 was, soos Die Huisgenoot opmerk, “’n donker maand in die geskiedenis van ons land”.

(*Prof. Jaap Steyn is ’n taalhistorikus van Bloemfontein.)