Cora-Marie (1953-1994)
April 21, 2020
Oktober 1918: nié ons “mooiste, mooiste maand”
April 22, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Die kuns van storie vertel in Afrikaans het in gewildheid toegeneem nadat programme soos Maak ’n las en Oppistoep op televisie uitgesaai is.

Een van die gewildste Afrikaanse storievertellers was Jan Spies. Hy is op 30 Julie 1936 op die plaas Sekretarispan in die distrik van Mariental in Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gebore. Hy was die oudste van drie kinders en sy pa en ma het onderskeidelik van Standerton in Mpumalanga en Willowmore in die Oos-Kaap na Namibië verhuis nadat Suid-Afrika die administrasie van Namibië oorgeneem het. Hulle het goedkoop grond by die regering gekry om te boer. Hy was tot in standerd 4 (graad 6) verbonde aan die plaasskool op Stampriet, maar in sy standerd 5- (graad 7-) jaar het hy sy laerskoolloopbaan in Windhoek voltooi. In 1955 het hy aan die Hoërskool Windhoek gematrikuleer en daarna eers teologie en toe letterkunde aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. In 1959 was hy redakteur van die studentekoerant Die Perdeby en hy het ook op die studenteraad gedien. Hy het sy BA- en BA Honneursgrade verwerf; na sy honneursgraad het hy by die Transvaalse Onderwysdepartement as onderwyser geregistreer. Nadat Jan in 1961 getroud is, het hy die volgende jaar sy MA-graad in Afrikaanse letterkunde verwerf.

In 1963 is hy aangestel as dosent in Afrikaans aan die Transvaal Training Institute for Indian Teachers in Fordsburg, Johannesburg en in hierdie tyd het hy ook sy Hoër Onderwysdiploma aan die Johannesburg College of Education behaal. Van Januarie 1970 tot Junie 1977 was hy aan die Randse Afrikaanse Universiteit as dosent verbonde en in hierdie tyd het hy sy doktorsgraad verwerf. In 1974 het hy bekendheid begin verwerf met stories wat op die Afrikaanse radioprogram Monitor uitgesaai is; aanvanklik was dit donkiestories maar later ook meer algemene stories.

Jan was van sy studentejare af al baie sterk gekant teen apartheid en in 1977 het hy, nadat die onderhandelings oor die onafhanklikheid van Suidwes-Afrika (vandag Namibië) momentum begin kry het, na sy geboorteland teruggekeer. Hy het deeltyds op die plaas Swartberg buite Usakos geboer en was die eerste redakteur van die koerant Die Republikein, wat die leier van die Demokratiese Turnhalle-alliansie, Dirk Mudge, openlik gesteun het. Hy het in 1986 as redakteur afgetree maar vir die res van sy lewe as beleidsredakteur opgetree, terwyl hy ook as direkteur op die raad van die Republikeinse Pers in Windhoek gedien het. Hy was ’n denker wat ook baie goed met sy hande kon werk. Hy het feitlik alles op die plaas waar hy gewoon het, self gedoen. Met sy kop was daar niks verkeerd nie; hy was ’n suksesvolle boer, dosent, storieverteller, letterkundige, radio- en televisiepersoonlikheid en koerantredakteur. Hy het ’n intense belangstelling in verskeie vakgebiede gehad en het op insiggewende wyse vir sy koerant daaroor geskryf.

Jan het sy debuut op televisie gemaak as mede-aanbieder van Spies en Plessié …met permissie, saam met die skrywer PG du Plessis. Hulle het verskeie ateljeegaste gehad wat ook hul stories op die program vertel het, onder meer Koos Meyer, Danny Pretorius, Nico Nel en Pyp de Villiers. Die een storieverteller wat egter die meeste belangstelling gaande gemaak het en ’n ster in sy eie reg geword het, was ’n komediant van Clanwilliam in die Wes-Kaap met die naam van Tolla van der Merwe. Jan het verskeie digbundels en storiebundels die lig laat sien; die stories wat hy op Monitor vertel het, is saamgevat in vier bundels; Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir serviette. Jan se stories is gewoonlik deur humor gekenmerk. Jan het ’n baie kenmerkende aksent gehad, en niemand kon dit nog nadoen nie. Dit het ook baie duidelik na vore gekom in sy advertensies vir die koffieverromer Cremora, en die uitdrukkings “koffiekapitaal” en “sawwe lyf” het volksbesit geword. Die sangeres Arina de Witt het ’n aantal van Jan se gedigte getoonset en veral “Rietjiesfluit” was ’n treffer.

Jan was in 1994 betrokke in ’n ernstige motorongeluk toe hy ’n koedoe naby sy plaas raakgery het. Op 4 Januarie 1996 sterf hy aan veelvuldige orgaanversaking, drie weke nadat hy weer in ’n motorongeluk beseer is.