Dr. Hendrik van der Bijl (1887-1948)
April 21, 2020
Jan Spies (1936-1996)
April 21, 2020

deur Daantjie Dinamiet

In die vroeë 1980’s het die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer werklik kennis geneem van Cora-Marie, wat een van die voorlopers van Afrikaanse country-musiek was en groot sukses met die meeste van haar trefferliedjies behaal het.

Cora Nell is op 3 Januarie 1953 gebore, en nadat haar pa oorlede is toe sy ’n jaar oud was, het sy in ’n kinderhuis grootgeword. Musiek was vir haar van kleins af ’n ontvlugting van ’n omgewing wat vir haar soos ’n tronk gevoel het. Sy en haar twee broers is deur ’n pleegouer aangeneem toe sy nege jaar oud was; sy is verbied om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem en sy is uit die skool gehaal toe sy standerd 8 (vandag graad 10) geslaag het. Sy is gedwing om te begin werk en sy moes haar salaris net so aan dié pleegouer oorhandig. Mettertyd is sy as telefoniste in die Weermag aangestel, en sy het aan talentkompetisies by plesieroorde begin deelneem. Die legendariese sangeres Virginia Lee het vir Cora haar verhoognaam, Cora-Marie, gegee.

In 1974 het Cora-Marie haar eerste enkelsnit, ’n Afrikaanse vertaling van ABBA se treffer “Hasta manana”, opgeneem. Hoewel Marjorie Brooks die liedjie in haar program Besoekuur op die destydse Radio Hoëveld gespeel het, was dit nie ’n sukses nie. Daarby het ’n voorste plateregisseur vir haar gesê sy het nie die stem of persoonlikheid gehad om ’n sangeres te word nie. Dit het haar aangespoor om harder te probeer. Sy het met Corrie Myburgh, met wie sy kontak verloor het, in verbinding getree en nadat Corrie haar loopbaan as kunstenaar bevorder het, het ’n persoonlike verhouding ontstaan en is hulle getroud.

Corrie het vir haar ’n platekontrak beding en haar enkelsnit “Vreugde op die plaas”, geskryf deur Ray Chord, met “Veg vir jou land”, met Afrikaanse woorde deur Corrie op die keersy, is vrygestel. Haar volgende enkelsnit was “Ster van Bethlehem”, geskryf deur Anton Goosen. Die SAUK het dit verbied; die belaglike verskoning wat hulle vir hierdie verbod uitgedink het, was dat liedjies met ’n Christelike strekking nie op ’n vrolike wysie gesing mag word nie. Gelukkig is dit ingesluit op haar dubbele versameling Die lewenslied van Cora-Marie. Hoewel Merwede van der Merwe se program Elke liedjie vertel ’n storie op die SAUK groot belangstelling gaande gemaak het, is Cora-Marie se musiek as onvanpas daarvoor beskou omdat sy nie luisterliedjies gesing het nie. Koos du Plessis het “Briefie uit die see” vir haar geskryf.

Nadat sy teen die einde van 1980 in ’n motorongeluk betrokke was, het die sanger John Edmond vir Corrie ’n kasset met liedjies geskryf deur Pieter Britz gegee en Corrie het by Pieter gaan kuier. Terwyl Pieter deur sy lêer liedjies gegaan het, het hy ’n blad opgefrommel en in die asblik gesmyt. Corrie wou weet wat dit was; hy het die stuk papier oopgemaak. Dit was die woorde vir “Gee haar ’n roos”, wat Pieter as ’n swak liedjie beskou het. Hoewel Cora-Marie in die liedjie geglo het, het die meeste mense in die musiekbedryf nie saamgestem nie. Daar is opdrag gegee dat dit nie oor die lug gespeel moes word nie, maar Radio Hoëveld se omroeper Sarel Marais het anders gedink. Die hele volk was Dinsdagaande nege-uur vasgenael voor die televisie om na Dallas te kyk en Sarel het sy kans waargeneem. Die versoeke het begin instroom. Op 13 Maart 1981 het die kortspeler tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, die sestiende plek gehaal en vyf weke lank op die trefferslys gebly. Die langspeelplaat waarop hierdie liedjie voorgekom het, Lang verlang kontrei, het aan Cora-Marie haar eerste goue plaat besorg.

Die sukses van dié enkelsnit en langspeler het gemaak dat Cora-Marie voltyds tot die musiekbedryf kon toetree. Corrie het gesê sy het Afrikaanse country gesing, te midde van diegene wat gesê het dat so iets nie bestaan nie. In 1982 het haar album Gee vir my ’n bietjie Country verskyn en op 20 Augustus daardie jaar het die titelsnit sy debuut op Springbok Radio se Top 20 gehaal. Dié liedjie, haar laaste Top 20-treffer, het die twaalfde plek gehaal en nege weke op die trefferslys gebly.

Een aand was Cora-Marie op die radioprogram Keep it country, en Johan Wessels, ’n bewonderaar wat in Ogies in Mpumalanga gewoon het, het gehoor dat sy tydens die program gesê het dat sy op soek was na oorspronklike Afrikaanse liedjies. Hy het ’n kasset met ’n paar van sy komposisies vir Corrie gestuur; hulle was beïndruk met sy liedjies en sy stem. Corrie het hom gebel om oor die moontlikheid van ’n platekontrak te gesels. Hy het die verhoognaam Kupido aangeneem, maar die voorwaarde waarop hy en Cora-Marie ’n sangpaar kon vorm, was dat hy eers homself as solosanger moes vestig. Hy het dit sommer gou gedoen, en sy eie komposisie, “Was ek maar ’n digter”, het Springbok Radio se Top 20 op 8 April 1983 gehaal. Hy het tot by die sestiende plek gevorder en vier weke lank op die trefferslys gebly. Hulle het in dieselfde jaar hul eerste duetlangspeelplaat, Country in harmonie, vrygestel en voor 40 000 mense by die Randse Skou opgetree. Hulle het ook die Kersfees-album Die klokkespel, saam met Laurika Rauch en Johan Stemmet opgeneem.

Aangesien Cora-Marie soveel liedjies met ’n roos in die titel gesing het, onder meer ook “Dankie vir die roos” en “Roos van my hart”, is ’n roos in 1985 na haar vernoem. Die volgende jaar het sy die album Goue treffers herleef vrygestel; hierop het sy duette saam met legendes soos Jurie Ferreira, Al Debbo, Min Shaw, Gert van Tonder en Virginia Lee opgeneem; die snitte was groot treffers vir hierdie onderskeie kunstenaars. In 1987 het Cora-Marie en Kupido weer saamgespan, maar vir “Tot siens gister hallo môre” het hulle hul country-klank vir ’n meer moderne klank verruil. Toe sy haar albums Tortelduifie skralelyfie en Ek kan lewe vrygestel het, was Edwill van Aarde, die aanbieder van die radioprogram Afrikaanse treffers, nie beïndruk nie. Hy het geweier om liedjies vanaf hierdie albums, asook dié van kunstenaars van dieselfde platemaatskappy, veral Eugene Havenga, te speel.

In 1991 het Deon Maas haar ’n platekontrak aangebied, maar dit was reeds duidelik dat haar gesondheid begin agteruitgaan het. Sy het ook al hoe meer wegbeweeg van oorspronklike liedjies en eerder bestaande liedjies met Afrikaanse woord begin sing. Sy wou ook ’n Christelike album opneem hoewel kanker by haar gediagnoseer is en sy alles in haar vermoë gedoen het om daarteen te baklei. Sy het die album, U wil sal geskied, vanuit haar hospitaalbed opgeneem, maar dit was duidelik dat sy nie meer kon sing nie. Die album is in April 1994 in drie dae onder die moeilikste omstandighede moontlik opgeneem. Altesaam 80 000 eksemplare van hierdie album is verkoop.

Cora-Marie is op 8 Julie 1994 in die ouderdom van 41 jaar oorlede.