Kepler Wessels – Suid-Afrikaanse krieket se eerste Afrikaanse kaptein
April 21, 2020
Dr. Hendrik van der Bijl (1887-1948)
April 21, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Robey Leibbrandt was ’n Springbok-bokser en ’n kampvegter teen die Britse invloed en politieke mag in Suid-Afrika.

Sidney Robey Leibbrandt is op 25 Januarie 1913 in Potchefstroom gebore en die derde oudste kind van Meyder Johannes Leibbrandt en Susan Marquerite Joyce. Sy pa was ’n instrukteur wat aan die destydse Unieverdedigingsmag verbonde was en omdat hy dikwels verplaas is, het Robey sy skoolopleiding op talle verskillende plekke ontvang totdat hy in 1930 aan die Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer het.

Na skool het hy eers by die Unieverdedigingsmag aangesluit en daarna by die Suid-Afrikaanse Polisie. Van 1932 tot 1935 was hy die polisie se ligswaargewig-bokskampioen en in 1934 het hy ’n bronsmedalje by die Statebondspele in Londen verwerf. In 1936 is hy gekies om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Berlyn te verteenwoordig. Hy was bly hieroor omdat dit hom in staat sou stel om Adolf Hitler, vir wie hy ’n heldeverering gehad het, in lewende lywe te sien. Hoewel hy tydens die spele in die vierde geveg uitgeskakel is, was die besoek aan Duitsland vir hom die moeite werd. Dit het ’n ingrypende omwenteling in sy lewe tot gevolg gehad, soos sy latere loopbaan en optrede getuig het.

Hy het na die spele in Duitsland agtergebly om ’n kursus in liggaamsoefening aan die Ryksakademie in Berlyn te volg. Aan die einde van die jaar het hy teruggekeer na Suid-Afrika, maar met die vaste voorneme om Duitsland weer te besoek. Hy het uit die spoorwegpolisie bedank en ’n beroepsbokser geword. Hy het in Junie 1937 die Suid-Afrikaanse swaargewigtitel verower, maar uitgetree om verder in Londen, en later ook Swede, Denemarke en Finland in liggaamsoefening te studeer. Hy het in 1938 na Duitsland teruggekeer.

Leibbrandt se verblyf in Duitsland het nie net van hom ’n oortuigde en toegewyde Nasionaal-Sosialis gemaak nie, maar ’n fanatikus. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het hy hom steeds in Duitsland bevind. Hy was van plan om na Suid-Afrika terug te keer om Smuts se oorlogspoging in die wiele te ry, maar is afgeraai om dit te doen aangesien hy as ’n spioen beskou sou word. Dit was immers geen geheim dat sy simpatie by die Duitse volk en by die Nasionaal-sosialistiese ideologie gelê het nie. Die voorstel is aan hom gemaak dat hy opleiding as valskermsoldaat moes ondergaan voordat hy na Suid-Afrika sou terugkeer aangesien daar ’n moontlikheid was dat hy per vliegtuig na Suid-Afrika sou kom. Hy het hom by die Duitse leer aangesluit en sy opleiding by Stendal voltooi.

Hy het op 1 April 1941 eindelik met ’n seiljag, die Kyloe, uit die Franse hawe Paimpol na Suid-Afrika vertrek. Sy opdrag was onder meer om die marconi’s van die boot, ’n Fransman van die Duitse geheime diens, na ’n Duitse agent in Lambertsbaai te bring. Gedurende hierdie tyd het hy die skuilnaam Walter Kempf gebruik en dit was taamlik duidelik dat hy dit oorweeg het om genl. Jan Smuts op een of ander wyse te elimineer en Suid-Afrika se deelname aan die oorlog in duie te laat stort.

Hy het, ondanks die opdrag om ’n Duitse agent saam te neem, op 15 Junie 1941 alleen aan die Namakwalandse kus aan wal gegaan. Hy het intussen ook probeer om soveel inligting as moontlik oor die versetbeweging, die Ossewa-Brandwag (OB), te bekom. Hy kon nie tot ’n vergelyk met die OB-leiers kom nie, en dit was duidelik dat hulle hom gewantrou het. Hierna het Leibbrandt ’n teenstander van die OB se kommandant-generaal Hans van Rensburg geword. Diegene wat hulle by Leibbrandt geskaar het, het egter in getalle toegeneem en hoofsaaklik uit die geledere van die Stormjaers van die OB gekom.

Leibbrant het sy Nasionaal-sosialistiese rebellegroep in Bloemfontein gestig met die doel om ’n nasionaal-sosialistiese staat op die model van Duitsland in Suid-Afrika op die been te bring. Die groep se onmiddellike oogmerk was die sabotasie van treinverbindings na die noorde. Leibbrandt se groep het by meer as een geleentheid met ’n radiosender met Duitsland kontak probeer maak en mettertyd het die Suid-Afrikaanse polisie van sy ondermynende bedrywighede bewus geword. Hierna het Leibbrandt hom geruime tyd in die Soutpansberge skuil gehou. Die OB-leiers was bevrees dat Leibbrandt se manne onverantwoordelike sabotasieplanne van stapel kon stuur en inligting na die minister van justisie, HG Lawrence, deurgestuur. Lawrence is aangeraai om Leibbrandt so gou moontlik in hegtenis te laat neem. Die soektog na hom is aangepak , veral nadat hy probeer het om ’n troepetrein naby Pretoria met dinamiet te saboteer. Op 24 Desember 1941 is Leibbrandt by Sesmylspruit naby Pretoria in ’n hinderlaag in hegtenis geneem.

Leibbrandt het sy outobiografie, Geen genade, die lig laat sien: hierin het hy vertel hoe hy as gevangene behandel is. Hierdie boek is egter dadelik verbied. Sy hoogverraadhofsaak het wye belangstelling uitgelok en veral sy versinsel dat hy met ’n duikboot aan die Suidweskus geland het, is sensasioneel uitgebuit. Op 11 Maart 1942 is hy aan hoogverraad skuldig bevind en die doodstraf opgelê. Verlof tot appèl is egter toegestaan en in die appèlverhoor het hy sy eie verdediging behartig. Die appèl het misluk, maar op 23 Desember 1943 is sy vonnis na lewenslange tronkstraf verander.

In Mei 1948 het die Nasionale Party die bewind oorgeneem; Leibbrandt se vrylating as politieke gevangene het hewige reaksie binne Verenigde Party-geledere ontlok ondanks die feit dat genl. Smuts erken het dat Leibbrandt wel vrygelaat sou word.

Robey Leibbrant is op 1 Augustus 1966 in die ouderdom van 53 jaar aan ’n hartaanval dood. In 1990 is ’n rolprent bekend as The fourth Reich oor sy lewe vrygestel met Ryno Hattingh wat die hoofrol vertolk het. In 2019 het Albert Blake ’n boek getiteld Robey Leibbrandt: ’n lewe van fanatisme, oor sy lewe die lig laat sien.