Kepler Wessels – Suid-Afrikaanse krieket se eerste Afrikaanse kaptein

Danie Gerber – Die doring van Despatch
April 21, 2020
Robey Leibbrandt (1913-1966)
April 21, 2020

Dec 1993: Kepler Wessels of South Africa relaxes during their tour to Australia. Mandatory Credit: Ben Radford/Allsport

deur Daantjie Dinamiet

In die jare voordat Suid-Afrika uit die Internasionale Krieketraad geskop is, was die kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan altyd Engelssprekend, maar in die vroeë 1990’s, net nadat die land hertoegelaat is, het dit verander.

Dit was nie Hansie Cronjé nie, maar ’n speler wat, net soos Hansie, aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer het. Kepler Christoffel Wessels is op 14 September 1957 in Bloemfontein gebore. Hy was ses jaar oud toe hy die basiese beginsels van krieket aangeleer het en die jarelange hoof van Grey Kollege, mnr. Johan Volsteedt, het hom gedurende sy hoërskooljare afgerig. Hy het aanvanklik geswem en rugby gespeel, maar besluit om hom op krieket toe te spits.

In die laat 1970’s was daar geen kans dat Wessels vir Suid-Afrika toetskrieket sou speel nie en daarom het hy by Kerry Packer se World Series Cricket, die eerste liga waarin spelers iets anders as wit klere gedra het, aangesluit. Hy het op 21-jarige ouderdom in die Australiese stad Sydney aangekom en ’n proefwedstryd vir die klub Waverley gespeel, waarna hy ’n kontrak gekry het. Die media het begin bespiegel oor die moontlikheid dat Wessels deel van World Series Cricket sou wees, salig onbewus van die feit dat Packer hom reeds ’n kontrak aangebied het. Hy het vir Nieu-Suid-Wallis se span gespeel en was die betroubare en bestendige aanvangskolwer waarna die span op soek was.

Mettertyd was Wessels deel van die Australiese elftal wat gespeel het teen ’n World Series-elftal wat vier Suid-Afrikaanse spelers ingesluit het. Aangesien Wessels nog ’n Suid-Afrikaanse paspoort gehad het, kon hy nie in die Wes-Indiese Eilande gaan speel nie, en die World Series-reeks het in elk geval in 1979 tot ’n einde gekom het.

In die 1982/83-seisoen het Wessels sy toetsdebuut vir Australië teen Engeland gemaak en sodoende die eerste Suid-Afrikaans-gebore speler geword om vir Australië te speel. Hy was die dertiende speler wat ’n honderdtal in sy eerste toets kon aanteken. In 1983 het Wessels in die eerste toets nog tussen Australië en Sri Lanka gespeel en die eerste oorsese speler geword wat ’n honderdtal in Sri Lanka aangeteken het. Die Wêreldbekertoernooi van 1983 was nie vir hom ’n hoogtepunt nie, en nie eens ’n vyftigtal teen Zimbabwe kon sy span van ’n nederlaag red nie. Hy het sy uittrede in 1985/86 aangekondig nadat hy ontnugter met Australiese krieket geword het, maar nie besef dat hy ’n paar jaar later vir sy geboorteland toetskrieket sou speel nie.

In die 1980’s het rebelle-krieketspanne van Engeland, Sri Lanka, die Wes-Indiese Eilande en Australië in Suid-Afrika krieket gespeel. Wessels was deel van die 1986/87 Australiese rebellespan onder die kapteinskap van Kim Hughes. Ander lede van daardie span wat na afloop van dié reeks in Suid-Afrika gespeel het, was John Maguire, Rod Mc Curdy en Mike Haysman. In 1989/90 het hy vir die Suid-Afrikaanse span teen ’n Engelse rebellespan onder leiding van Mike Gatting gespeel.

In 1991 is Suid-Afrika tot internasionale krieket hertoegelaat. Op daardie stadium het Wessels besluit om permanent na Suid-Afrika terug te keer en provinsiale krieket vir Oostelike Provinsie te speel. Hy het in sy debuutwedstryd ’n honderdtal en ’n vyftigtal teen die Vrystaat, wat ’n jong snelbouler met die naam van Allan Donald in hul span gehad het, aangeteken en sy span tot ’n oorwinning met 212 lopies aangevoer.

Toe die Suid-Afrikaanse span vir die eerste keer deur Indië getoer het nadat die land hertoegelaat is, was Wessels die enigste speler wat toetservaring gehad het. Hoewel Clive Rice die kaptein van daardie toetsreeks was, is Wessels as kaptein vir die span wat in 1992 aan die Wêreldbeker deelgeneem het, aangewys. Baie mense was ongelukkig omdat Wessels, eerder as ander ervare spelers soos Jimmy Cook of Clive Rice, gekies is. Die span het vir ’n reuseverrassing gesorg deur Australië met nege paaltjies te klop, maar daarna het hulle teen Nieu-Seeland en Sri Lanka verloor. Wessels se konserwatiewe benadering tot eendagkrieket is wyd gekritiseer. Die halfeindstryd teen Engeland sal om die verkeerde redes onthou word. Die wedstryd is deur reën ontwrig en ’n ingewikkelde formule het die aantal lopies wat nodig was, asook die aantal balle waarin dit aangeteken moes word, bepaal. Die veelsydige speler Brian Mc Millan en die paaltjiewagter Dave Richardson moes toekyk hoedat daar op die telbord aangekondig is dat die Suid-Afrikaanse span 22 lopies vanaf net een bal moes aanteken om te wen. Dit was onmoontlik en die span se eerste Wêreldbekertoernooi het op ’n laagtepunt geëindig.

Suid-Afrika het hul eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande verloor ondanks die aanvangskolwer Andrew Hudson se 163 in sy eerste toets. Die rede daarvoor was die uitstekende boulwerk van die Wes-Indiese snelboulers Curtly Ambrose en Courtney Walsh, wat saam geboul het en telkens onspeelbare balle afgestuur het. Gedurende die 1993/94-seisoen het Wessels se loopbaan ’n volle sirkel bereik toe hy as kaptein van die Suid-Afrikaanse span wat deur Australië getoer het, aangewys is. Dit was tydens hierdie reeks wat Suid-Afrika een van sy mees merkwaardige oorwinnings sedert hertoelating behaal het; Australië het tydens die toets in Sydney 117 lopies vir ’n oorwinning nodig gehad, maar danksy Fanie de Villiers se uitstekende boulwerk is Australië vir 111 lopies uitgehaal. Hy is gedwing om terug te keer na Suid-Afrika nadat hy ’n besering tydens die toer opgedoen het, maar hy het die span aangevoer toe Australië in Suid-Afrika kom speel het.

In die somer van 1994 was hy die kaptein van die span wat deur Engeland getoer het, maar nadat die twee spanne die reeks gedeel het, het Wessels uitgetree en nog ’n oudleerder van Grey Kollege, Hansie Cronjé, het hom as kaptein opgevolg.

Hoewel hy soms weens sy konserwatiewe benadering gekritiseer is, kan sy bydrae tot internasionale krieket nie weggepraat word nie, en het sy besluite soms gelei tot groot oorwinnings vir die spanne wat hy aangevoer het.