Die Oranje-Vrystaat en ZAR word deur die Engelse beset

Handwapens in die Anglo-Boereoorlog
April 18, 2020
Danie Gerber – Die doring van Despatch
April 21, 2020

deur Dr. Tian Schutte*

Na die ontsetting van Kimberley deur genl. French, die oorgawe van genl. Piet Cronjé aan lord Roberts en die ontsetting van Ladysmith, het die gedemolariseerde Boere vanaf die Tugela na die Biggarsberge teruggetrek. Net Mafeking was nog deur die Boere beleër. Lord Roberts het uit die suide opgeruk en na Bloemfontein in Maart 1900 beset is, het die Vrystaatse Regering na Kroonstad uitgewyk. Die laaste Boeremagte het eers teen die tweede helfte van Mei uit Natal onttrek en kort daarna het die eerste Engelse magte op verskillende punte die ZAR binnegeval. Verskeie stasies, telegraaflyne, waterpunte, treinbrûe van 120 voet word tussen Bloemfontein en die Vaalrivier opgeblaas. Dit was onder andere die groot brûe oor die Vet-, Sand-, Vals- en Vaalriviere wat deur die Boere opgeblaas is om die Engelse aantog te stuit. Engelse voorradetreine het tot by die beskadigde brûe gery waar depots ingerig is. Sodra die brug tydelik herstel is, is die depot verskuif tot by die volgende brug. So is daar gevorder totdat die Vaalrivier bereik is. Van hierdie depots was swak bewaak. As gevolg van die vinnige tempo waarmee die Engelse magte die Vrystaat beset het, was hulle genoodsaak om die depots agter te laat met minimale beskerming en het dus ’n maklike prooi vir die Boere geword.

Dit het ook goeie beplanning van die Engelse geverg om treine op en af te stuur met voorrade en troepe op die enkel spoorlyne. Die voorsiening van water aan die lokomotiewe was krities, omdat die laaste 70 myl (112 kilometer) vanaf Kroonstad geen waterpunte gehad het nie en die Boere reeds alles vernietig het. Steenkool moes ook vanaf die hawens aangery word. So moes elke agtste trein wat daagliks voorrade vervoer het, steenkool en konstruksiemateriaal vervoer. Hierdie las was eers verlig nadat die steenkoolmyne by Springs oorgeneem was asook die buit van 31 lokomotiewe en 1 200 treintrokke by Elandsfontein (Germiston).

 

Die Boere se sogenaamde “Vernielingstrein” ook genoem die “Dinamiet-“ of “Springtrein”

Genl. Lucas Meyer

Met die onstuitbare Britse opmars in Natal, het genl. Lucas Johannes Meyer Newcastle laatmiddag op 1 Maart 1900 op die sogenaamde “vernielingstrein” verlaat. Opdrag is gegee dat alle brûe, duikers en waterreservoirs langs die spoorlyn opgeblaas moet word in die rigting van die ZAR. Een van die lede was dr. JC Kakebeeke, ’n lid van die Hollanderkorps, wat saam met ’n ingenieur van die ZASM na Natal gestuur is om brûe en tonnels op te blaas. Dinamiet is uit die magasyn van die Spoorwegmaatskappy verkry. Toe die dinamiet uitgeput was, is die nodige voorraad aangekoop van die “Zuid-Afrikaansche Maatschappij voor Ontplofbare Stoffen”. Tydens die terugtog, moes die “dinamiettrein” soos hy deur dr. JC Kakebeeke genoem is, telkens wag totdat die laaste Boere wat geen perde meer gehad het nie, met al hulle besittings op die trein gelaai is. Die kanonne het ook voorkeur gehad, terwyl die oorblywende Boere op ossewaens moes staatmaak. As die trein oor ’n brug of duiker gegaan het, moes die burgers eers met hulle besittings afgelaai word. Die trein ry dan weer agteruit tot by die brug, duiker of tonnel waar die ladings gestel was. Nadat die dinamiet gelê is, moes almal onder die treëplanke van die treintrokke skuil waarna die dinamiet met batterytoestelle ontsteek is. Klippe en stukke yster het gewoonlik op hulle neer gereën. Verskeie brûe tussen Ladysmith en Elandslaagte, die Sondagsrivier, ’n dubbelboog klipbrug naby Wesselsnek en die brug by Waschbank word opgeblaas. Toe volg die brûe aan die voet van Biggarsberg en die brûe tussen Glencoe en Newcastle en die groot brug by Ingagane en die brûe noord van Newcastle by Incadnu en Ingogo en ’n klomp kleiner duikers tot voor die Laingsnektonnel. Waar daar nie genoegsame brûe per myl was nie, het die Boere spoorlyne opgeblaas en spoorstawe uitgeruk. Alle pype, pyplyne en damme noord van Ladysmith is vernietig. Die waterreservoirs van gietyster wat die lokomotiewe van water moes voorsien, is by Newcastle-, Modderspruit-, Sondagsrivier-, Near River-, Wallsend-, Hattinghspruit-, Ingagane-, Ingogo- en Mount Prospectstasies opgeblaas. In totaal is 72 brûe en duikers opgeblaas asook 32 ander plekke langs die spoorlyn.

 

 

 

 

 

Foto’s: Die waterreservior op die Newcastlestasie voor- en nadat dit deur die Boere opgeblaas is

 

Die Laingsnektonnel word deur die Ierse brigade opgeblaas

By die Laingsnektonnel, het genl. Lucas Meyer Woensdagoggend 16 Mei 1900 vir kolonel Arthur Alfred Lynch, 2nd Irish Brigade, se Iere en NZASM-personeellede beveel om die Laingsnektonnel op te blaas. Die tonnel was 730 jaarts (667.5 meter) lank en uitgevoer met stene van klip wat 18 duim dik was. Om die taak suksesvol uit te voer, is vier skagte van bo tot op die kroon van die tonnel gesink. Dit blyk dat net die skag aan die noordelike uitgang tot op die kroon van die tonnel gesink is, want met die ontploffing wat gevolg het, het 111 voet (33 meter) van die tonnel suksesvol in daardie gedeelte ineengestort. By die suidelike ingang is 80 voet (24 meter) weggeskiet sonder dat die kroon of dak ineengestort het. By die twee ander plekke is net geringe strukturele skade aangerig, maar van tyd tot tyd het gedeeltes van die dak ineengestort. Die Boere het ook 500 jaarts (457 meter) se dwarslêers en “fish-plates” verwyder, maar die spoorstawe is in die tonnel gelaat. Op die Suidoosterspoor, was die brûe by Standerton, Zuikerbosrandspruit, Vlakfontein en Blesbokspruit by Heidelberg deur die Boere opgeblaas. Die Engelse hoofmag wou by Vereeniging oor die Vaalrivier kom, maar die treinbrug is op 25 Mei 1900 opgeblaas. Dit het hulle nie gestuit nie, omdat tydelike omweë by hierdie brûe gebou was deur die Royal Engineers. Nogtans het die Engelse se opmars na Elandsfontein en Johannesburg steeds ongehinderd voortgegaan en kort voor lank is die Suider-, Suidooster- en Suidwesterspoorlyne op 29 Mei 1900 van Pretoria afgesny.

 

 

 

 

 

 

Foto’s: Noordelike ingang van die Laingsnektonnel nadat dit deur die Boere opgeblaas is (links) en nadat die rommel deur die Engelse verwyder is (regs). Die tonnel is op 17 Junie 1900 weer vir spoorverkeer oopgestel is. Inlas: kol. Arthur Alfred Lynch van die 2de Ierse Brigade wat die Laingsnektonnel opgeblaas het.

 

*Uittreksels uit die boek: Treinvernielers – Boere-aanvalle op en vernietiging van treine, stasies en spoorlyne in die ZAR tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 deur Tian Schutte en Peet Coetzee