Suster Henrietta-kapel, Kimberley

Die Markplein, Kimberley
Februarie 28, 2020
Die Groot Griep
April 1, 2020

Langs die bekende Dutoitspanweg is die Kimberley-hospitaal geleë en hier versteek tussen die geboue staan een van die waardigste, maar ook een van die mees historiese kapelletjies in hierdie diamantstad.

Vroeg in 1871 is diamante alhier ontdek. Die toestroming van duisende delwers en fortuinsoekers en die ontstaan oornag van ’n stad in die kaal veld, het ernstige gesondheidsprobleme met hom meegebring. Enkele mediese dokters het hulle hier gevestig, maar hul behandeling van siekes sonder behoorlike versorging en verpleging was dikwels futiel. ’n Hospitaaltjie is gebou, maar dit het afgebrand en is deur ’n sinkgebou met ses smal beddens vervang. Daar was geen tafels, geen stoele, geen dodehuis, geen opgeleide verpleegsters nie. En toe kom suster Henrietta Stockdale soos ’n Florence Nightingale na hierdie harde, selfsugtige, roekelose stad waar sy deur haar blanke opregtheid, haar diepe godsdienssin, haar volkome onselfsugtige oorgawe aan haar roeping die bewondering, ja, bykans die verafgoding, van haar medemens gewen het.

Sy is in 1847 in Engeland gebore en is in Londen as verpleegster opgelei. In 1864 het sy na Suid-Afrika gekom. Van Port Elizabeth het sy per ossewa na Bloemfontein gereis om in diens te tree van St. Michael’s and All Angels en onder biskop Webb sendingwerk te doen. In 1876 het sy en biskop Webb op aandrang van die luit.-goewerneur van Griekwaland-Wes Kimberley besoek om die moontlikheid te ondersoek om aldaar met verpleging te begin. Hoewel Kimberley, sy hospitaal en sy klimaat neerdrukkend op haar ingewerk het, het sy nogtans die siekes in die mynkampe enkele maande verpleeg. Daarna is sy terug na Engeland vir verdere studie.

In 1878 keer suster Henrietta na Bloemfontein terug en word matrone van die enigste hospitaal in die Oranje-Vrystaat, die St. John’s Cottage Hospital. In Maart 1879 gaan sy na Kimberley as matrone van die Carnarvon Hospital wat toe nege beddens gehad het. Binne die volgende agt jaar het sy eenvoudig wondere verrig. Die hospitaalgebou is so vergroot dat dit 160 pasiënte kon huisves, en ’n verpleegsterstehuis met ’n kapelletjie daarby is gebou met geld deur suster Henrietta en haar vriende ingesamel. Sy het met die opleiding van verpleegsters begin sodat sy nie slegs in die behoefte van opgeleide verpleegsters in haar eie hospitaal kon voorsien nie, maar in die behoefte van die hospitale in die aangrensende geweste.

Die verpleegsterstehuis was weldra te klein en die kapelletjie is in vier kamers omgeskep. ’n Nuwe kapel moes dus gebou word. Weer eens het suster Henrietta die leiding met die insameling van die nodige geld geneem en op 5 Mei 1887 het sy die eerste openbare beroep op die publiek gedoen. Reeds die volgende jaar kon hierdie kapel gebou word. Aanvanklik is dit uitsluitend deur die Anglikaanse Kerk gebruik, maar tans is dit interkerklik en daar word afwisselend deur die Anglikaanse, die Ned. Geref. Kerk, die Presbiteriaanse en die Metodistekerk dienste gebou.

Die voltooiing van die kapel was nie die hoogtepunt in die loopbaan van hierdie merkwaardige vrou nie. Deur haar bemoeiing het die Kaapse regering in 1891 amptelike erkenning aan die verpleegstersberoep verleen, en is ’n amptelike register van verpleegsters ingestel. Hierdie stap was ’n geweldige vooruitgang en is deur die ganse wêreld toegejuig.

In 1895 het suster Henrietta as matrone bedank, maar sy het die opleiding van verpleegsters en vroedvroue voortgesit en haar liefdadigheidswerk onvermoeid volgehou tot haar dood in 1911.

So staan hierdie gewyde kapel dus as getuienis van die pionierswerk van Henrietta Stockdale en as ’n simbool van nobele gees.

(Geproklameer 1963)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 193.