PAARDEBERG: 17-27 FEBRUARIE 1900

Uitbreek van die Anglo-Boereoorlog en die eerste spoorinsident by Kraaipan op 12 Oktober 1899
Februarie 14, 2020
Die Markplein, Kimberley
Februarie 28, 2020

(Kort opsomming van die gebeure vir die 120ste herdenking; Opgestel en opgesom deur LJ Bothma, uit verskillende bronne)

 

Nadat Kimberley op 15 Februarie 1900 deur ’n berede mag onder bevel van generaal JPD French ontset is, is generaal Piet Cronjé verplig om sy stellings by Magersfontein prys te gee en ooswaarts op die noordelike wal van die Modderrivier langs in die rigting van Bloemfontein pad te gee.

Cronjé se 4 000 burgers en 400 waens wat deur lord FS Roberts se magte agternagesit word, word egter op 17 Februarie deur French se kavallerie voorgesny. Toe Cronjé se burgers, wat by Vendusiedrif uitspan om te eet en te rus, onverwags deur French se kanonne vanaf Kameelfontein bestook word, hardloop honderde trekosse weg. Cronjé besluit om nie sy laer prys te gee en die rivier oor te steek nie, maar net daar verdedigingstellings in te neem.

Roberts wat siek aan griep in die hospitaal op Jacobsdal lê, dra die bevel van sy leër by Paardeberg aan sy stafhoof, lord HH Kitchener, oor. Op Sondag 18 Februarie loods Kitchener ’n frontaanval vanaf die suidelike oewer van die Modderrivier op Cronjé se stellings. ’n Selfversekerde Kitchener kyk op sy horlosie en sê: “It is now seven o’clock. We shall be in the laager by half past ten. I’ll then load up with French, and send him on to Bloemfontein at once.”

Tydens die geveg stuur Kitchener ook magte by Paardebergdrif en Vanderbergsdrif oor die rivier en val Cronjé uit die weste en ooste aan, maar Cronjé se burgers slaan al die aanvalle af. Kolonel OC Hannay wat met sy ruiters gestuur word om die laer vanuit die ooste aan te val, besef die hopeloosheid van die situasie. Uit protes teen die onbesonne manier waarop Kitchener sy leër aanwend, jaag Hanney en ’n groepie manne doodsveragtend op die Boerestellings af. Hanney sneuwel sowat 200 treë van die Boereloopgrawe en word daar begrawe.

Generaal Christiaan de Wet, wat vroeër ’n groot Britse konvooi naby Koffiefontein gebuit het, kom laat dieselfde middag op die slagveld aan en verower die rantjies by Stinkfontein en Osfontein. Kommando’s onder hoofkommandant Ignatius Ferreira wat ook kom help, is in beheer van die rante en driwwe verder oos. Teen sononder moet lord Kitchener van Khartoem, wat op dié dag die bynaam “Kitchener of Chaos” verwerf, die aftog blaas.

Kitchener se totale verlies van 1 270 man (dood en gewond), is die grootste ongevalle wat die Britse leër op een dag gedurende die hele oorlog lei. Cronjé, wat net ongeveer 70 man verloor, se waens is egter deur die Britse grofgeskud wat op Gun Hill en hoë grond suid van die rivier opgestel is, stukkend en aan die brand geskiet. Met die verlies van sy trekosse en honderde perde wat ook in die slag gebly het, kan Cronjé se leër nét te voet, al vegtende oor die oop veld, en met agterlating van die laer, aan totale omsingeling ontkom.

Die volgende dag vra Cronjé vir ’n skietstilstand om die dooies te begrawe. Roberts, wat hom na Paardeberg haas, is nie daarvoor te vinde nie. Hy eis onmiddellike oorgawe. Cronjé weier summier. Roberts, wat versterkings na Paardeberg ontbied en uiteindelik ongeveer 40 000 man en 100 kanonne ontplooi, beleër Cronjé se laer. ’n Vergunning dat die ongeveer 50 vroue en kinders (bronne verskil) die laer ongehinderd mag verlaat, word deur die Boervroue – waaronder Cronjé se vrou Hessie – afgewys.

Intussen het Christiaan de Wet die nuwe hoofkommandant van die Vrystaatse magte geword nadat generaal Ignatius Ferreira die oggend van 19 Februarie per ongeluk deur een van sy brandwagte doodgeskiet is. Op 21 Februarie is De Wet egter genoodsaak om sy stellings by Oskoppies (deur die Britte Kitchener’s Kopje gedoop) prys te gee en terug te val. Cronjé se vyf kanonne en ’n Pom-pom wat reeds die vorige dag hul laaste bomme weggeskiet het, is ook nou stil. Vir die volgende week baklei Cronjé se burgers nét met hul mausergewere teen die oormag wat stelselmatig die kring om die laer al nouer trek.

De Wet, wat intussen óók versterkings ontvang het, probeer op 23 Februarie om Oskoppies te herower. Die aanval wat halfhartig deur sommige offisiere uitgevoer word, misluk. In die proses word kommandant Helgaard Theunissen en 87 man van die Winburg-kommando gevange geneem. Dit het ’n baie demoraliserende uitwerking op De Wet se burgers wat nou sterk twyfel of Cronjé en sy mense enigsins gered kan word.

In ’n laaste poging om die naderende ramp te probeer verhoed, stuur De Wet die baasverkenner, kaptein Danie Theron, die nag van 24/25 Februarie met ’n mondelingse boodskap na Cronjé: “Hy moet naamlik die laer met alles daarin in die steek laat en in die nag vir hom ’n pad oopskiet, terwyl ek hom op twee punte tegemoet kom vanwaar ek die Engelse sal verhinder om hom te agtervolg.”

Theron kruip deur die Britse linies en Cronjé is gewillig om die kans te waag, maar sy krygsraad is teen hom. Nietemin gee hy opdrag dat ’n kettingbrug en ’n vlot gebou word om sy mense in die nag oor die rivier, wat in vloed is, te neem. Teen sonop is die taak egter nog nie voltooi nie en skiet die Britte die brug stukkend.

Danie Theron, wat met bebloede knieë op 26 Februarie terug in De Wet se laer aankom, telegrafeer aan president Paul Kruger in Pretoria: Die toestand in die laer is onbeskryflik ellendig … Generaal Cronjé sê daar is nog skaars kos vir vandag … Die laer is totaal omsingel en word deur ’n menigte kanonne van alle kante af gebombardeer. Ons mense versteek hulle in gate en slote en in die walle van die rivier en wanneer dit so reën soos laasnag, kan mens net met die grootste moeite deur die glibberige modder van een plek na ’n ander kom … Die dooie en pesverspreide perde lê by die honderde oral tussen die mense rond en die stank is ondraaglik … Ek het die plan aan generaal Cronjé gaan voorstel … Hy is dit daarmee eens, dog die meeste van sy offisiere en manskappe is onwillig …

Cronjé se offisiere, beïnvloed deur kommandant MJ Wolmarans van Potchefstroom, is egter klaar met die stryd. Hulle wil nie nog ’n dag langer uithou nie. Toe troepe onder generaal HL Smith-Dorrien om 06:00 die oggend van 27 Februarie (ironies genoeg Majubadag) die oorhand aan die westekant van die laer kry, steek groepe Boere die wit vlag op.

Sonder ’n leër kan Cronjé nie veg nie, en om 07:00 kom hy onder geleide van generaal-majoor GT Pretyman by Roberts se kamp aan. Cronjé, geklee in ’n groen jas en met sy broekspype effens opgerol sodat hy deur die modder in die laer kon sukkel, het sy sambok by hom. Hy groet Roberts met die hand, waarop laasgenoemde sê: “I am glad to see you. You have made a gallant defence, sir.” Cronjé antwoord nie hierop nie. Hy versoek net dat sy vrou, kleinseun en adjudant hom moet vergesel na waarheen hy as krygsgevangene (St. Helena) gestuur sal word. Hy wil ook met sy eie wa na Modderrivierstasie vervoer word. Dié versoeke word toegestaan.

De Wet skryf in sy memoirs: Geen pen kan beskryf wat my gewaarwordinge was toe ek besef dat Cronjé oorgegee het nie, en ook nie wat die uitwerking daarvan op die burgers was nie. Op almal se gesigte was verslaenheid en moedeloosheid te lees. Ek oordryf nie as ek beweer dat hierdie futloosheid tot aan die einde van die oorlog nog deurgewerk het nie.