Lotsgebonde – Die verhaal van Fritz Joubert Duquesne
Desember 8, 2019

Herinneringe van ’n koerantman in die apartheidsera

Outeur: Harald Pakendorf

Uitgewer: Penguin Random House

Harald Pakendorf wou ’n boek skryf met persoonlike herinneringe, vir sy kinders. Sy uitgewer wou ’n boek hê oor Afrikaners en hul dinge. Die middeweg tussen dié twee idees het gestalte gekry in Stroomop.

As redakteur van twee belangrike Afrikaanse koerante in die apartheidsjare, Oggendblad en Die Vaderland, vertel Pakendorf met gesag oor nuuswaardighede in dié tyd. Episodes uit sy lang en merkwaardige loopbaan in die pers word in veertien hoofstukke uitgelig. Party daarvan is ongelooflik, ander is snaaks, die meeste daarvan vertel iets meer van wat werklik gebeur het – wat agter die skerms aan die gang was en nie in een van sy koerante vir algemene kennis gepubliseer is nie.

Hy beskryf belangrike gebeure en persone in ’n baie gemaklike styl, byna in geselstrant. Hoewel hy sy persoonlike indrukke en mening gee, dwing hy dit nie op die leser af nie en erken ook eie foute wat hy by retrospeksie kan raaksien. Hy vertel van stories wat nuuswaardig was, maar nie die koerant gehaal het nie, brokkies wat liefs verswyg is en artikels wat mense warm onder die kraag gelaat het – van die man op straat tot die president in die Uniegebou!

Pakendorf het gewis baanbrekerswerk gedoen. Die gedagte met die Oggendblad was om ’n uitlaatklep te wees vir minder stagnante denke, om aan die buitenste rand van die Afrikaner en Nasionale Party se dampkring te beweeg. Die koerant het ook eenvoudige Afrikaans in sy beriggewing gebruik – iets wat nogal kritiek ontlok het. ’n Swart predikant, dominee Takatso Mofokeng, was waarskynlik die heel eerste gereelde stem in ’n Afrikaanse koerant.

Die gesin se alledaagse lewe in ’n uiters gespanne tyd in Suid-Afrika se geskiedenis word ook beskryf. Vir hulle was dit geensins vreemd om deur die polisie dopgehou of afgeluister te word nie. Haatpos en dreigemente was ook aan die orde van die dag, maar hy en sy vrou Aletta het by hul standpunte gehou en hul vier dogters so normaal as moontlik, onder die omstandighede, grootgemaak. Vir Aletta het hy heelwat lof – in hul persoonlike lewe, maar veral ook in haar professionele hoedanigheid as joernalis.

Pakendorf was een van enkele joernaliste wat die moord op Verwoerd met sy eie oë gesien het. Sy vertelling van dié dag se gebeure en teorieë daaragter is interessante leesstof. Net so boei hy met insig oor ander groot gebeure tydens sy loopbaan. Hy vul die meeste vertellings met uittreksels uit koerantberigte aan, veral wanneer hy skryf oor die gesprekke om apartheid te beëindig.

In sy voorwoord sê hy self dat die boek nie in chronologiese volgorde is nie – dit is jammer. Sy herinneringe is beslis van onskatbare waarde, maar sou myns insiens meer trefkrag gehad het as daar chronologie was.

Aan die einde van die boek beskryf hy sy skielike afdanking en sy lewe ná die joernalistiek kortliks, maar haal nie die kollig van sy joernalistieke loopbaan af nie. In sy nawoord praat hy reguit oor hoe hy die verlede sien en hoe ons die toekoms moet aanpak.

Stroomop bied ’n insiggewende blik op ’n kontroversiële tydperk in ons land se geskiedenis en is ’n waardevolle toevoeging tot die verskillende stemme wat oor apartheid te hoor is.

 

Resensie deur Petronel Fourie