Lotsgebonde – Die verhaal van Fritz Joubert Duquesne

Treinvernielers
Desember 8, 2019
Stroomop
Desember 8, 2019

Outeur: Bets Botha

Uitgewer: EL Steenekamp

 

Sjarmant en verstommend vindingryk, innoverend en ewig ontwykend, onpeilbaar en ontstellend enigmaties … Dít is Fritz Joubert Duquesne. Die raaisel rondom sy lewe en lot is ’n onvoltooide legkaart wat die verbeelding vandag ewe veel aangryp as dié van sy eie vriende, vyande en vervolgers ’n eeu gelede.

Fritz se verhaal blyk ’n byna geslote boek te wees, ’n boek wat Bets Botha op ’n skrefie oopmaak om die leser ’n vinnige blik op dié bobaasspioen se lewe te gee voordat die Swart Luiperd weer sy spore doodvee en uit duidelike sig uit verdwyn – net om die leser met meer vrae as antwoorde te laat.

Hoewel sy van eintlik Du Preez was, het Fritz, as kleinneef van generaal Piet Joubert, sy oom se van gebruik. Met die van Duquesne, volgens die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging se webblad as “Doe-kein” uitgespreek, het die wêreld egter van hom kennis geneem.

Die onlangse openbaarmaking van verskeie intelligensiedienste se argiefmateriaal oor sy lewe, het ’n boek met die jongste inligting regverdig. Dié inligting oortuig Botha daarvan dat die verlies aan familie wat Duquesne in die Anglo-Boereoorlog gely het, hom vir die res van sy lewe beïnvloed het – hy het nooit daaroor gekom nie. Dit het ’n intense haat by hom aangewakker jeens die Britte.

Die vertelling van wat Duquesne aangetref het toe hy sy ouers se plaas by Nylstroom in die hitte van die Anglo-Boereoorlog-stryd besoek het, is tragies. Hy het met sy eie oë gesien hoe Kitchener se verskroeideaardebeleid geïmplementeer is en sy familie is daardeur uitgewis. Sy blinde oom Jan is deur Britse soldate opgehang, sy suster verkrag en toe in die rug geskiet, sy moeder ook verkrag en na ’n konsentrasiekamp weggevoer.

Hy het haar opgespoor, maar die vrou wat voor hom gestaan het, was uitgeteer, oortrek van sere en sterwend aan sifilis. Sy het ’n siek babaseuntjie vasgehou, die gevolg van die verkragting. Sy was ’n skaduwee van die trotse vrou wat hy geken het. Botha glo dat sy verterende haat teenoor die Engelse hier posgevat het, ’n haat wat die grootste dryfveer vir wraak in sy lewe sou word.

As Boerespioen was hy bekend as die Swart Luiperd, omdat hy dié roofdier se tegnieke nageboots het en sodoende ’n gedugte vyand was. Hy is ook bekend as die man wat Kitchener se dood veroorsaak het, aangesien hy beweer dat hy in 1916 die skip HMS Hampshire, waarop Lord Kitchener op weg na Rusland was, gesaboteer en laat sink het. Volgens gerugte het hý die Krugermiljoene iewers in Mpumalanga versteek.  

Hoewel hy vervolging vir dekades lank ontduik het, is hy en 32 ander lede van die Duquesne-spioenasiesindikaat in 1942 in die grootste spioenasieverhoor in die geskiedenis van die VSA skuldig bevind. Die FBI se jarelange ondersoek na dié man met dosyne verskillende gedaantes en skuilname het die Swart Luiperd eindelik geleiband.

Verhale van sabotasie, geveinsde verlamming, ontsnapping, geheime kodes en persoonlike intriges bied oorgenoeg materiaal vir ’n volgende James Bond-fliek, en dít van ’n Boerseun wat die wêreld se intelligensiedienste rasend gehad het, ’n Swart Luiperd wat sy spoor op soveel plekke gelos het, maar ook vernuftig verdoesel het.

Tot vandag toe word hy as een van die wêreld se topspioene gereken. Sy tragiese einde, as ’n sieklike en gebroke man ná jare se aanhouding, laat nie reg geskied aan sy opwindende en gewaagde lewe nie.

Botha se boek bied beslis interessante inligting oor ’n enigmatiese persoonlikheid in ons geskiedenis. Tog is dit jammer dat die teks nie fyner versorg is nie, sodat werklik onnodige taal- en tipografiese foute te dikwels voorkom. Namate die boek sy einde nader rafel die samehang effens uit en herhalende verduidelikings pla ook. Die boek sou baie gebaat het by die dienste van ’n kritiese taalversorger of redigeerder, om ’n beter afgeronde produk te lewer wat die inhoud tot sy reg laat kom.

Lotsgebonde is in die skrywer se eie woorde die produk van ’n entoesiastiese amateur eerder as ’n gesoute akademikus of professionele skrywer, en verdien as sulks ’n plekkie op die geskiedenisliefhebber se boekrak.

 

Resensie deur Petronel Fourie