Deur dik en dun: Lekker kos en stories uit ou Pretoria
Desember 8, 2019
Lotsgebonde – Die verhaal van Fritz Joubert Duquesne
Desember 8, 2019

Outeur: Tian Schutte

Uitgewers: Kraal Uitgewers

Op 12 Oktober vanjaar, is dit presies 120 jaar gelede wat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Die ultimatum wat die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aan die Britse Ryk gestel het, het op 11 Oktober verstryk en deur die bepalings van die ultimatum te ignoreer, het die Britse Ryk geïmpliseer dat hulle bereid was om oorlog te voer. Op 12 Oktober 1899 het genl. Koos de La Rey en sy kommando ’n Engelse troepetrein tussen Kimberley en Mahikeng (toe Mafeking) laat ontspoor en minute later het ene veldkornet JC Coetzee die eerste skote van die oorlog afgevuur.

Wanneer ’n mens na die geskiedenis van hierdie vernietigende oorlog gaan kyk, kom jy gou agter watter belangrike rol treine in die verloop van die oorlog gespeel het. Dr. Tian Schutte, ’n landbou-navorser, wat spesialiseer in swamsiektes op sitrus, woon nou al vir 27 jaar in Nelspruit. Sy belangstelling in die geskiedenis van hierdie oorlog is intens geprikkel nadat hy begin het om van die ou slagvelde in Mpumalanga te besoek. Saam met ’n groep ander geesdriftiges, word daar met metaalverklikkers in areas gesoek waar die veldslae plaasgevind het, en elkeen van die wonderlike vondse wat gemaak word, het hom toenemend gefassineer om meer oor alles uit te vind.

Die eerste stuk navorsing wat hy vir die Mpumalanga Erfenisgroep saamgestel het, was ’n lywige dokument oor die guerrillafase van die Anglo-Boereoorlog en iemand het hom aangeraai om dit as ’n boek uit te gee. In 2016 het Guerrillastryd, minder bekende skermutsellings en gevegte in die Transvaal tydens die guerrillafase van die Anglo-Boereoorlog, verskyn.

Tog was die storie helaas glad nog nie klaar vertel nie. Nadat hierdie boek verskyn het, mense hom genader en aan hom ou kaarte, foto’s, handgeskrewe briewe en ander inligting verskaf wat ’n hele klomp nuwe en interessante feite geopenbaar het. Vanjaar het sy tweede, lywige boek, Treinvernielers verskyn waaraan hy saam met Peet Coetzee gewerk het. Hierdie wonderlike versameling van feite, foto’s en kaarte en kleurvolle stories belig die impak wat die treine en die vernietiging daarvan op die verloop van die oorlog gehad het, op ’n besondere wyse.

“Dis ’n ongelooflik interessante onderwerp,” vertel Tian. “Daar was vyf belangrike treinspore in die noorde van die land. Die Suidoosterspoor van Volksrust tot in Johannesburg, die Suiderspoor van Vaalrivier tot in Johannesburg, die Suidwesterspoor vanaf Klerksdorp tot by Johannesburg en die Noorderspoor van Pretoria tot in Pietersburg. Die Oosterlyn was die spoorlyn tot in Delagoabaai, wat natuurlik vandag Maputo is. Al die bewyse is daar dat die Engelse net gewag het tot hierdie spoorlyn voltooi is om te begin met die oorlog. Hulle het staalstrukture vir brûe ingevoer ’n jaar voor die tyd omdat hulle vermoed het dat daar brûe opgeblaas gaan word die oomblik wat die oorlog uitbreek.

“Die spoorlyn het ’n geweldige belangrike rol in die oorlog gespeel, want die Britte moes met treinvervoer hulle reuseweermag van voorrade voorsien. Op die foto’s in die boek kan jy duidelik sien hoedat daar ’n magdom voorraad ingekom het: artillerie, steenkool, proviand en die troepe,” verduidelik Tian. 

Soos wat die naam van die publikasie aandui, fokus hierdie boek op almal wat die treine, op een of ander manier, geteiken het. Dit was nie alleen die Boeremagte wat hierin gespesialiseer het nie. Van die ander groepe waarop Tian in sy boek fokus is onder meer ’n groep Finne, wat as plofstofdeskundiges in die myne gewerk het. Daar was Italianers wat ook goeie dinamietskieters was en hulle is £300 per brug wat hulle vernietig het, betaal. Verskeie metodes is gebruik om die treine te laat ontspoor: ghries is op die spoorstawe gesmeer, metaalwiggies is tussen die spore ingeslaan, die spoortstawe is losgemaak en ’n ruiter op ’n perd het langs die trein gery en die vakuumremme se pype stukkend gesny. Voorts het Carel Cremer, ’n Duitsgebore Boer die eerste IED’s (spoormyn) ontwerp wat die ganse oorlogstoneel oorheers het. 

In Treinvernielers slaag Tian Schutte uitstekend daarin om ’n magdom geskiedkundige feite te kombineer met hope geskiedkundige foto’s en kaarte – alles mooi verpak in ’n pragtige publikasie. Selfs bykomende inligting, soos die stand van die maan tydens sekere van die insidente wat in die nag gebeur het, sketse van die blokhuise wat aandui hoe dit binne en buite gelyk het en die volledige name en range van baie van die gesneuwelde Britse en Boeremagte sorg vir volledigheid. Peet Coetzee, sy medeskrywer, het ’n chronologie van daaglikse insidente van die begin tot die einde van die oorlog saamgestel.

“Op skool het ek geen belangstelling in geskiedenis gehad nie. Ek en Napoleon het eintlik saam gesneuwel by Waterloo en my agterwêreld het behoorlik gebrand toe ek ’n toets gedop het. Tog het hierdie stokperdjie van my, om met die metaalverklikker te soek na stukkies geskiedenis, alles verander. Al het hierdie laaste projek sowat twee jaar van my lewe opgeslurp, was elke oomblik die moeite werd,” sê Tian. “My vrou Lynette en my twee dogters was ook van groot hulp in hierdie tydperk. Die lekkerste was om in die veld te gaan soek met die metaalverklikker en op allerlei interessante artefakte af te kom: stukke van bajonette, blikkieskos, knope, patrone, tentpenne en kentekens. Uiteindelik is die boek iets waarop ek besonder trots is. Dis ’n ongelooflike versameling wat hier bymekaargebring is vir almal vir wie Suid-Afrika se geskiedenis van waarde is. Ek is dankbaar vir almal wat foto’s en kaarte aan ons beskikbaar gestel het om dit ’n belangrike dokument vir die nageslag te maak.”

 

Resensie deur Alita Steenkamp