Piet Botha (1955-2019)

Christine Basson (1941-2019)
Desember 2, 2019
Franz Marx (1942-)
Desember 2, 2019

Daantjie Dinamiet

Die rock-sanger Piet Botha het op 2 Junie 2019 sy stryd teen pankreaskanker verloor, minder as ’n jaar nadat sy ewe bekende pa, oudminister Pik Botha, oorlede is.

Dit gebeur nie gereeld dat pa en kind om verskillende redes bekend word nie, maar in hierdie geval was dit heeltemal uiteenlopend. Mnr. Pik Botha was die langsdienende Minister van Buitelandse Sake in Suid-Afrika se geskiedenis. Roelof Frederik Botha (wie se bynaam Pik ’n verkorting van Pikkewyn was) is op 27 April 1932 gebore. Hy was sedert 1953 ’n diplomaat, en het aanvanklik in Swede en later in die destydse Wes-Duitsland diens gedoen. Hy is in 1966 aangestel as regsadviseur van die Departement van Buitelandse Sake; in hierdie hoedanigheid was hy deel van die afvaardiging wat Suid-Afrika by die Internasionale Strafhof in Den Haag in Nederland verteenwoordig het. In 1974 is hy as Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies aangestel. Hy het sy geloofsbriewe aan die destydse sekretaris-generaal, Kurt Waldheim, oorhandig, maar ’n maand later is Suid-Afrika se lidmaatskap van die Algemene Vergadering opgeskort. In 1977 het die destydse Eerste Minister, advokaat BJ Vorster, hom aangestel as Minister van Buitelandse Sake. Die volgende jaar was hy in die wedloop om Vorster op te volg as Eerste Minister. Hy was Vorster se gunsteling en het groot steun geniet, maar hy het hom aan die wedloop onttrek weens kritiek oor sy jong ouderdom, destydse gebrek aan ondervinding omdat hy minder as ’n jaar as Minister van Buitelandse Sake gedien het, en die feit dat sy oortuigings in stryd met dié van die Nasionale Party was. Hy het in 1985 ’n toespraak geskryf waarin die plan om Nelson Mandela vry te laat, aangekondig sou word, maar PW Botha, wat eerder as Eerste Minister aangestel is en later uitvoerende staatspresident sou word, het dit verwerp. Hy was ook betrokke by die onderhandelinge wat tot Suidwes-Afrika se onafhanklikheidswording in 1990, waarna die land as Namibië sou bekendstaan, gelei het. Nadat die ANC in 1994 die bewind oorgeneem het, is hy as Minister van Mineraal-en-Energiesake aangestel. Twee jaar later het die Nasionale Party hom aan die regering van nasionale eenheid onttrek. Hy was nie net ’n politikus nie; hy het ook die woorde van Anneli van Rooyen se liedjie “Hiersô in die Soutpansberg” geskryf. Hy is op 12 Oktober 2018 in die ouderdom van 86 jaar oorlede.

Piet is op 18 Julie 1955 gebore en het aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer. Sy ma het vir hom ’n kitaar gekoop toe hy in standerd 6 (graad 8) was, maar hoewel hy lesse geneem het, het dinge nie reg uitgewerk nie. Hy het egter die volgende jaar, toe hy in die koshuis was, in ’n orkes gespeel wat tydens debatsaande en ander geleenthede by die skool opgetree het. Hy het regte gaan studeer maar op die ou einde ’n honneursgraad in tale verwerf. Hy het liedjies in Engels begin skryf en is geïnspireer deur onder meer Leonard Cohen, The Beatles en Bob Dylan. Piet het die groep Catherine Wheel begin en deur die land begin toer. In Kaapstad het sy pad gekruis met dié van die Afrikaanse rock-groep Wildebeest, wat ’n paar liedjies opgeneem het wat nou en dan oor die radio gespeel is. Een daarvan was “Bossies”, waarin hulle sosiale kommentaar oor diensplig gelewer het. Hy het saam met hulle begin speel, maar die groep het nie lank daarna nie ontbind. In 1984 was hy een van die stigterslede van die groep Jack Hammer. Hy was ’n tyd lank in die Verenigde State van Amerika, maar hy het nie gehou van die politieke klimaat van die 1980’s nie, en ook nie van die kommersiële musiek wat gereeld oor die radio gehoor is nie. Hy het beswaar gemaak teen die vervlakking van die kunste.

In 1996 het Eckard Potgieter, wat CD-winkels in Pretoria besit het, besluit om ’n platemaatskappy met die naam van Wildebeest Records te begin, en Jack Hammer was die eerste groep wat ’n kontrak gekry het. Onder die ander kunstenaars wat hulle later by Wildebeest Records aangesluit het, was Valiant Swart en Koos Kombuis. Eckard het ook ander projekte aangepak omdat dit duur was om oorspronklike Afrikaanse groepe en kunstenaars te bemark. Toe die groep ZZ Top in 1996 in Suid-Afrika opgetree het, het Jack Hammer die voorprogram behartig. Piet was ’n groot aanhanger van hul musiek en was geskok toe hulle in 2001 by die Amerikaanse president George W Bush se inhuldiging gesing het.

Die volgende jaar is Piet se eerste Afrikaanse album, ’n Suitcase vol winter, vrygestel nadat daar ’n ontploffing in Afrikaanse musiek was. Die album was Eckard se idee, en skielik was sy musiek op ’n groter gehoor gemik. Die titelsnit het gegaan oor ’n verhouding wat nie gewerk het nie. Al wat hy gehad het toe hy dit geskryf het, was ’n blues-kitaarlyn en hy het besluit om te kyk hoe dit sou werk as hy dit in Afrikaans sou skryf. Die ander treffersnitte vanaf die album was “Goeienag Generaal” en “Sien jou weer”, wat ook deur Theuns Jordaan opgeneem is. Piet se tweede album, Jan Skopgraaf, is twee jaar later vrygestel. Piet het erken dat hy nooit musiek gemaak het om geld te verdien nie; hy het, soos die Kanadese sanger Neil Young wat ook vir hom ’n inspirasie was, gebly by dit waarin hy geglo het.

Piet se ma, Helena, is in 1996 oorlede, en op sy versamelalbum, Die hits, het hy ’n liedjie aan haar opgedra, naamlik “Vandat jy weg is”. Piet het haar dood beskryf as ’n ervaring wat hy nooit kon verwerk nie. In 2002 was Piet een van die eerste musikante wat by die SA Rock Hall of Fame ingesluit is en in Mei 2006 is hy by die SAMA-toekennings vereer vir sy lewenslange bydrae tot musiek.

Piet se laaste album, Die middernagtrein, is verlede jaar uitgereik en met ’n Ghoema-toekenning vereer. Hy was te siek om ’n week gelede aan die Strab-musiekfees deel te neem, maar hy was vasbeslote om op 14 Julie by die Bands for Bricks-konsert by die Sun Arena in Pretoria op te tree.