Dr. Albert Wessels (1908-1991)

Die jong Paul Kruger
September 26, 2019
Christine Basson (1941-2019)
Desember 2, 2019

Daantjie Dinamiet

Dit gebeur nie gereeld dat die versiendheid van een persoon aanleiding gee tot die stigting van ’n onderneming wat sy marksegment heeltemal oorheers nie, maar dit is presies wat ’n plaasseun van die Vrystaat gedoen het.

Albert Jan Jurie Wessels is op 1 Oktober 1908 op die Vrystaatse dorp Boshof gebore en het op ’n plaas naby Dealesville in dié provinsie grootgeword. Sy pa was bekend as ’n perdeteler en as gevolg daarvan het hy met perde grootgeword. Hy kon al perd ry net nadat hy leer loop het. Na afloop van die Eerste Wêreldoorlog het hy in die kunste en in filosofie studeer, en nadat hy sy graad verwerf het, het hy hom in ’n handelsrigting bekwaam.

Die Groot Depressie van die 1930’s was egter ’n moeilike tyd, veral toe hy hom in die klerasiebedryf wou vestig, en ’n jong Afrikaner wat op ’n plaas grootgeword het, het gesukkel om homself in die sakewêreld te vestig. Sy deurbraak het in 1939 gekom toe hy raakgesien is en gevra is om die maatskappy Veka-klerasie oor te neem.

Sy belangstelling in die motorbedryf het eers twintig jaar later gevolg en gelei tot die stigting van ’n maatskappy wat ’n onuitwisbare indruk in die Suid-Afrikaanse motorbedryf sou maak. In 1961 het hy tien Toyopet Stout-bakkies van Japan af ingevoer en die volgende jaar is die Tiara-bakkie vir die eerste keer hier vervaardig. Dit het gelei tot die stigting van Toyota Suid-Afrika, wat voor die einde van die dekade die leier in die handelsvoertuigmark sou word. In 1966 is die eerste Toyota-passasiersvoertuig, die Corona 1,5 bekendgestel; dit is by die Randse Skou in April daardie jaar vertoon en produksie het kort daarna begin. Die vorige jaar is die bakkie wat op hierdie model gebaseer is en spesifiek vir Suid-Afrika ontwikkel is, bekendgestel; dit het gou die topverkoper in Suid-Afrika geword. Die Dyna-vragmotor het in dieselfde jaar sy Suid-Afrikaanse debuut gemaak.

Dr. Wessels was op soek na ’n embleem wat betekenis vir Suid-Afrikaanse motoriste sou hê, aangesien dié van die moedermaatskappy in moderne Japanse skrif, volgens hom niksseggend was. Aangesien dr. Wessels ’n groot perdeliefhebber was, was die keuse vir ’n Suid-Afrikaanse embleem eenvoudig: ’n hings wat op sy agterpote staan. Hierdie embleem is tot in die 1990’s gebruik en ’n beeld van dié perd is by Toyota Suid-Afrika se hoofkantoor in Sandton noord van Johannesburg te sien.

In 1969 het Toyota se modelreeks aansienlik gegroei met die bekendstelling van drie nuwe modelreekse, naamlik die Hilux, wat nou nog Suid-Afrika se gewildste bakkie is, die Hi-Ace en die Corona 1900 Merk 2. Daarby het Toyota ook die bemarking en vervaardiging van die Rambler Rogue, en later die Hornet, oorgeneem, met die gevolg dat die Rogue rekordverkope in sy eerste jaar as ’n produk van Toyota Suid-Afrika behaal het.

In 1971 is Toyota se nuwe vervaardigingsaanleg by Prospecton suid van Durban geopen, en die reeks is verder uitgebrei met toevoegings tot die Corona en Corona Merk 2-reekse. Die Corolla het in 1975 gevolg en die Cressida het die Corona Merk 2 in 1977 vervang. Dit het lank geduur voordat hierdie twee modelreekse gewild geword het, en dr. Wessels het in 1980 in ’n onderhoud met die tydskrif Car erken dat hy nie tevrede met die Cressida se verkoopsyfers was nie. Die nuwe geslagte van die Corolla en Cressida het onderskeidelik in 1980 en 1981 op die mark gekom, en teen 1982 was hulle onderskeidelik die topverkoper en die naasbeste verkoper in Suid-Afrika. Op daardie stadium was Toyota reeds die algehele markleier in Suid-Afrika. Toyota was ook van 1975 tot omtrent 1983 verantwoordelik vir die vervaardiging en verspreiding van die Renault 5.

Dr. Wessels was getroud met die digteres Elisabeth Eybers en twee kinders, Bert (wat sy pa se doopname gehad het) en Elisabeth, is uit die huwelik gebore. Hulle albei was betrokke by die onderneming en Bert het in 1988 as uitvoerende hoof oorgeneem. Dr. Wessels is op 22 Julie 1991 in die ouderdom van 82 jaar aan bloedkanker oorlede. Bert het die leisels as voorsitter oorgeneem, maar hy self is in 2002 in die ouderdom van 58 jaar aan ’n aneurisme oorlede. Kort voor Bert se dood het die Japanse moedermaatskappy oorgeneem en in 2008 het Elisabeth haar laaste aandele verkoop.

Toyota is vandag nog die markleier in Suid-Afrika, en die Hilux, wat vanjaar vyftig jaar oud is, is algeheel die gewildste voertuig in die land.