Die jong Paul Kruger

Huis van Olive Schreiner, De Aar (Geen toegang)
September 25, 2019

Sover bekend, die vroegste foto van pres. Paul Kruger (uit: Fotobiografie: Paul Kruger, 1825-1904)

deur Riana Mulder

 

Daar is min Afrikaners wat wêreldwyd so ’n groot invloed gehad het soos pres. Paul Kruger. Oor hom is ’n magdom geskryf, bespiegel en versin –  nie net in sy leeftyd nie, maar ook daarna. Hy was een van die mees gefotografeerde bekendes in die wêreld, en navorsing is al gedoen oor elke aspek van sy afkoms, lewe en dood.

Sy lewe het nederig begin. Jacob Krüger, die Duitse stamvader van die Suid-Afrikaanse Krugers, was ’n soldaat in diens van die VOC en het in 1713 in die land aangekom. In dieselfde jaar verkry hy burgerregte en vestig hom en sy gesin in die Sandveld, noordwes van Kaapstad. Alhoewel die familie grond besit het, was hulle hoofsaaklik trekboere wat met vee geboer het. Hulle was eenvoudige, opregte mense wat in harmonie met die natuur en ander mense geleef het.

Sy oupa Gerrit se filosofie, “leef en laat leef”, sou ook later kenmerkend van Paul Kruger wees. Gerrit het byvoorbeeld die hele gemeenskap agter die Sneeuberg oortuig dat in stede van om in konflik met die San (Boesmans) te leef oor veediefstal, hulle eerder die verskil tussen mak en wilde diere geleer moet word. Om daad by die woord te voeg, het hy gereël dat 283 skape ingesamel en aan die Boesmans geskenk word, en ’n hele paar van hulle het later baie goeie skaapwagters geword.

Paul se pa, Casper, was maar 17 toe hy die eerste keer op die plaas Bulhoek, die eiendom van Douwe Gerbrand Steyn, gekom het. Die plaas is net buite die dorpie Steynsburg, wat na die familie vernoem is en in 1872 gestig is. Die Steyns was welvarende boere en gesiene mense in hulle gemeenskap. Daar het hy die jong Elsie Steyn ontmoet, verlief geraak, en toe hy 19 en sy 15 jaar oud was, is hulle getroud.

Nadat die jonggetroudes ’n tyd lank by die Krugers was, het hulle besluit om weer by Elsie se ouers op Bulhoek te gaan woon, waar hulle derde kind, Paul, op 10 Oktober 1825 gebore is. Daar was al bespiegelings dat hy moontlik op Brakrivier gebore is, maar kenners meen oor die algemeen dat Bulhoek akkurater is.

Paul se familie was trekboere, maar welvarend. Hy was maar ’n klein seuntjie toe sy ma oorlede is. Destyds was die enigste formele opleiding wat kinders gewoonlik gekry het, lesse om die Bybel te leer lees en ’n bietjie te kan skryf, en meestal was dit hulle moeders wat die taak verrig het. Soms was daar reisende onderwysers, en die kinders het sommer in ’n aanmekaargeflanste hut skoolgegaan. Jong Paul het in sy lewe net ongeveer drie maande formele skoolopleiding gekry by ’n reisende onderwyser, Tielman Roos. Dit lyk of sy oupa Steyn ook hand bygesit het met die kinders se opvoeding, want Paul het al die jare, net soos sy oupa, ’n vreemde klein halfmaantjie bo sy u’s geteken. Paul self het ook later jare vertel hoe sy pa saans vir hom van die Bybel geleer het terwyl hulle op trek was.

Die jong seuntjie was altyd baie sterk en gesond. Hy was ’n uithaler-atleet wat onder almal kon uithardloop, ’n goeie duiker en sterk swemmer. Op ’n perd se rug was hy kleintyd al tuis, en van jongs af ’n uitstekende skut. Hy was op sy stukke wanneer hy by die vee in die veld was, ’n regte kind van die natuur.

Daar word vertel dat hy as klein seuntjie die een was wat in erdvarkgate ingekruip het om die diere uit te jaag. Hy het vir hom ’n skild van droë gras gemaak deur dit in ’n bal te rol. Hy het dit dan met sy linkerhand voor hom gehou en wanneer dit aan die erdvark raak, het hy met sy regterhand onder die gras deur ’n lus met ’n haak om die dier se agterpoot gebind, sodat die grootmense dit uit die gat kon sleep.

Paul se lewe was nie gerieflik nie – selfs voordat hy groot genoeg was om ’n geweer vas te hou, moes hy die skape in die veld oppas. Hy was tuis in die geharde Karoolandskap, en bekend met die ritme van die natuur, die kom en gaan van die seisoene en die wisselvalligheid van die natuurelemente. Sy vader is ’n paar jaar later weer getroud met ’n Du Plessis-meisie, en al het Paul met haar ’n goeie verhouding gehad, was daar min deernis of sagtheid in sy lewe. Hy het so taai soos die natuur geraak: ’n uithouer wat tot aan die einde van sy lewe onverbiddelik aan die wil van God geglo het.

Die Krugers was te besig om in die natuur te oorleef om hulle veel aan politiek te steur. Hulle was baie suksesvol –  net voor die Groot Trek het Casper al 20 perde, 2 600 skape en twee waens besit.

Hulle het geen slawe gehad nie en was dus nie, soos van die ander Voortrekkers, in konflik met die Britse owerhede oor vergoeding ná die slawebevryding nie. Waar hulle gewoon het, was daar ook nie veel konflik met die Xhosas nie, en die gedagte om verder die binneland in te trek het nie eintlik by hulle opgekom nie.

In 1835 kom die Potgietertrek egter by hulle verby. Onder die groep was baie bekendes en byna oornag het Casper en sy gesin besluit om by die trek aan te sluit. Die vryheidsidee het sterk aanklank gevind by hulle eie onafhanklikheidstrewe.

Vir die trekboere was die landskap waardeur die trekgeselskap aanvanklik gereis het, nie vreemd nie, want hulle het periodiek met hulle vee deur die Suid-Vrystaat getrek op soek na weiding. Die gebied was feitlik ontvolk na die sg. Difaqane, toe die Zoeloes onder Shaka kleiner volke uitgewis of verwilder het.

Vir die jong seuns was die trek aanvanklik een groot avontuur. Hulle moes steeds die vee in die veld oppas, en daar was volop geleentheid vir jag. Een van die gesinne in die trekgeselskap was die Du Plessis’s uit Tarka, en Paul sou later met een van die Du Plessis-dogters trou.

In Oktober 1836, kort voor Paul se 11de verjaarsdag, kry hy sy vuurdoop toe die Potgietergeselskap deur die impi’s van Mzilikazi aangeval word. Die kinders moes help laai en gewere aangee, en Paul kon baie jare later nog in detail onthou hoe beangs hulle was. Hy het nie lank daarna nie, in Februarie 1838, selfs nog ’n erger ondervinding gehad toe hy deel was van ’n geselskap wat by Bloukrans in Natal deur die Zoeloes aangeval is. Hulle het oorleef, maar die skok en afgryse wat hulle ondervind het by die aanskoue van die wreedheid waarmee ’n groot aantal mense in ander laers deur die Zoeloes gedood is, het hom tot sy oudag bygebly.

Na die Slag van Italeni in April 1838 het die Krugergesin saam met die Potgietertrek teruggetrek na die Vrystaat, waar hulle vir ’n geruime tyd langs die Sandrivier gestaan het. Paul was ook deel van ’n strafekspedisie teen die Matabele nog voordat hy 14 jaar oud was. Hy het ook kort hierna sy eerste leeu geskiet, ’n vermaaklike storie want Paul was eintlik veronderstel om die perde op te pas, toe hy skielik die leeu op hom sien afstorm. Paul het hom geskiet terwyl die leeu op hom afspring, sodat die dier feitlik bo-op hom geval het. Dit was gelukkig ’n doodskoot!

Een van die mans, ene Hugo, het kom ondersoek instel, en terwyl hy die leeu se tande probeer meet, het klein Paul per ongeluk teen die dier se buik geskop, wat die leeu laat brul het en die arme Hugo amper van skok laat omval het! Paul het daarna amper ’n opstopper gekry, maar die ander mans (wat lekker gelag het) het vir Hugo oortuig dat Paul nie kon geweet het dat selfs ’n dooie leeu kan brul as op sy maag gedruk word nie!

In die Vrystaat het Paul ook belydenis van geloof afgelê voor die welbekende en beminde Amerikaanse sendeling, eerwaarde Daniël Lindley. Hy het baie van die sendeling gehou en altyd met groot aandoening gepraat van die invloed wat Lindley op sy lewe gehad het.

Vroeg in 1839 het die trek hulle in die omgewing van Potchefstroom gevestig en plase is aan al die gesinne toegeken. Die Krugers het hulle noord van die Magaliesberg, meer na Rustenburg se kant toe, gaan tuismaak. Teen 1941, toe Paul 16 jaar oud was, kon hy ook aanspraak maak op sy eie plaas en het vir burgerskap van die nuwe republiek gekwalifiseer. Hy het hom naby Rustenburg op die plaas Waterkloof gaan vestig, en vir die eerste keer in sy lewe gevoel dat hy ’n vaste tuiste het. Hy sou later ook ander plase besit.

Sover bekend, die vroegste foto van pres. Paul Kruger (uit: Fotobiografie: Paul Kruger, 1825-1904)

Kort hierna was hy gereed om te trou (destyds was dit nie vreemd dat iemand so vroeg sou trou nie), en hy was net 17 toe hy die meisie op wie hy lank reeds verlief was, Maria du Plessis, op haar vader se plaas naby Kroonstad gaan haal het. Sy was toe net 14! Blykbaar was die Vaalrivier in vloed, maar ’n verliefde man laat hom nie keer nie en hy en sy perde het eenvoudig oorgeswem, tot die verbystering van die ferrieman.

Die twee jonges is in Potchefstroom getroud en het saam begin om hulle plaas te ontwikkel. Die lewe was weer eens nie maklik nie: alles moes met die hand uitgekap, geplant en gemaak word. Daar is nie baie oor Maria se lewe bekend nie, maar sy het saam met Paul gewerk en hom ook op al sy jagtogte en ander reise vergesel.

Hy was altyd bekend vir die respek waarmee hy vroue behandel het en moes ’n goeie man vir haar gewees het. Paul was ’n platjie met ’n goeie humorsin, altyd aan die terg en poetse bak, en dit klink of dit ’n gelukkige tyd in sy lewe was.

Teen 1842 was Paul al ’n assistentveldkornet, en dit het beteken dat hy ook soms op ekspedisies saam met Potgieter moes gaan. Sy vrou het in 1845 ’n baba gehad, ’n seuntjie, en tydens een so ’n ekspedisie het sy en die baba by Ohrigstad malaria opgedoen. ’n Dubbele tragedie tref Paul dus vroeg in 1846 toe al twee aan die siekte sterf.

Met sy kenmerkende kalmte en diep geloof het Paul die hartseer verwerk.

Paul Kruger se tweede vrou, Gezina. Die paartjie was vir 54 jaar gelukkig getroud (uit: Fotobiografie: Paul Kruger, 1825-1904)

’n Hardwerkende man kan nie sonder die hulp van ’n goeie vrou klaarkom nie, en teen 1847 het hy onthou van sy vrou se jonger niggie, Gezina, wat hy ook reeds lank geken het. Die twee is kort daarna getroud en hulle huwelik was besonder gelukkig en geseënd. Hulle het 16 kinders gehad, waarvan ’n paar vroeg oorlede is. Gezina Kruger was ’n kort vroutjie met ’n vriendelike geaardheid wat haar man in hulle huwelik van 54 jaar altyd heelhartig bygestaan en ondersteun het. Die twee se geaardhede was ’n perfekte kombinasie: sy het sy robuuste persoonlikheid getemper, en hy het haar vroulikheid en sagte wysheid gerespekteer en waardeer. Saam sou hulle ’n leeftyd van diens aan ’n dankbare volk wy.

 

BRONNE:

  • Fisher, J. Paul Kruger – his life and times. Secker & Warburg, Londen. 1974.
  • Meintjes, J. President Paul Kruger – A Biography. Cassell, Londen. 1974.
  • Krüger, D.W. Paul Kruger, Deel 1, 1825-83. Dagbreek-boekhandel (Edms.) Bpk, Johannesburg. 1961.