Die Taalmonument, Burgersdorp

Bulhoek, distrik Steynsburg
September 25, 2019
Die Blokhuis, Burgersdorp
September 25, 2019

Op Burgersdorp kom die paaie van Steynsburg, Venterstad, AliwaI-Noord, Jamestown en Molteno saam. Hierdie tipiese plattelandse dorpie wat daar in 1847 ontstaan het, het ’n ryk geskiedenis. Hier het die Teologiese Kweekskool, tans te Potchefstroom, sy ontstaan gehad. Van hier ook het ’n kragtige beweging vir die erkenning van Hollands as amptelike taal uitgegaan. Daaraan herinner die Taalmonument op die Burgerplein, vroeër die Markplein.

Na die besitname van die Kaapkolonie deur Engeland in 1806 het Engels die enigste amptelike taal van die Kolonie geword. In 1854 word aan die Kaapkolonie selfregering toegeken en in die grondwet word bepaal dat alleen Engels in die Parlement gebruik mag word. Die eerste verteenwoordiger in hierdie Parlement vir die kiesafdeling Albert, waarbinne Burgersdorp geleë was, was J. A. Kruger. In 1856 vra hy verlof om in die Wetgewende Vergadering Hollands te praat en ’n tolk te gebruik. Die Speaker het hom na die grondwet verwys en sy versoek geweier. Gedurende die jare 1857 en 1858 het Afrikanerkiesers uit die kiesafdeling van Albert vier petisies om die erkenning van Hollands as debatstaal by die Parlement ingedien, maar tevergeefs.

In 1872 het die Kaapkolonie Verantwoordelike Regering gekry, maar in die raadsale was daar nog geen plek vir Hollands nie. Weer eens was dit Albert wat die voortou geneem het. Op 23 Augustus 1878 het die Boeren Beschermings Vereniging onder voorsitterskap van oom Daantjie van den Heever op die plaas Vinkelfontein ’n vergadering gehou. Hier is nogmaals besluit om aan te dring op die erkenning van “onze moedertaal” in die Parlement. Burgersdorp het dan ook trouens die middelpunt van die taalveldtog geword en belangrike kongresse van die Afrikanerbond is hier gehou.

Vanselfsprekend het die beweging die steun van J. H. Hofmeyr gehad. Na ’n mislukte mosie in 1881 het hy daarin geslaag om op 9 Junie 1882 die nodige wysiging in die grondwet te verkry waardeur Hollands in die parlement gebesig kon word. Die eerste lid wat van die voorreg gebruik gemaak het, was J. G. Luttig van Beaufort-Wes.

Vanaf 1882 dagteken die toenemende erkenning van Hollands in die onderwys en staatsdiens van die Kaapkolonie en in 1890 word deur Hofmeyr en ander ’n Taalkongres gehou en die Taalbond gestig ter bevordering van die kennis van Hollands en die opwekking van ’n gesonde nasionaliteitsgevoel.

Foto: Die Taalmonument • SA Spoorweë en Hawens

Waar Burgersdorp dus so ’n belangrike rol in hierdie stryd gespeel het, is dit geen wonder dat ’n beweging vir die oprigting van ’n taalmonument ter herdenking van die erkenning van Hollands in die Kaapse Parlement, alhier ontstaan het nie. Geld is dwarsoor die land ingesamel en op 18 Januarie 1893 is dit onthul. By die geleentheid was teenwoordig o.a. J. H. Hofmeyr, Pieter Faure, N. F. de Waal en verteenwoordigers uit die Vrystaat en Transvaal. Oom Daantjie (D.P.) van den Heever as voorsitter van die oprigtingskomitee het die monument onthul. Dit bestaan uit ’n marmerfiguur van ’n vrou wat met ’n vinger wyn na ’n tablet wat sy in haar linkerarm hou en waarop die woorde staan: “De Overwinning der Hollandse Taal”. Die beeld staan op ’n massiewe granietvoetstuk met inskripsie onderom. Die monument het oorspronklik op die Kerkplein gestaan.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog is die monument deur kwaadwilliges geskend. Eers is die wysvinger afgebreek; in Maart 1900 is die neus en regterarm weggekap; op Kersnag 1901 is die monument van die voetstuk afgestoot, die arm en ook die gesig verwyder. Na die oorlog het lord Milner die monument heeltemal laat afbreek en verwyder. Die inwoners van Burgersdorp het geëis dat die Imperiale regering hulle monument teruggee. ’n Replika is toe gemaak en in 1907 op die ou plek opgerig. Omdat hierdie monument effens agter die Ned. Geref. Kerk weggesteek gestaan het, is dit in 1933 tesame met die Burgermonument na die Markplein, tans die Burgerplein verskuif.

Wat van die oorspronklike beeld geword het, het niemand geweet nie. In 1939 is die geheim opgeklaar. Terwyl uitgrawings in die werkplaas van die Departement van Openbare Werke in King William’s Town gedoen is, is daar diep onder die grond op die beeld afgekom. Die Kultuurvereniging van Burgersdorp het dadelik opgetree en die beskadigde monument is na Burgersdorp teruggebring waar dit nou in veilige bewaring is.

(Geproklameer 1937)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 187-188.