Die Vallei van Verlatenheid, Graaff-Reinet

Ned. Geref. Sendingkerk (Hester Rupert-Kunsmuseum), Graaff-Reinet
September 25, 2019
Bulhoek, distrik Steynsburg
September 25, 2019

Net verby Graaff-Reinet op weg na Middelburg draai ’n pad skerp links en gaan tussen die berg en Van Rhyneveldspasdam noordweswaarts na Murraysburg en Richmond. Teenoor die dam draai weer ’n pad links en loop steil en kronkelend tot op die kruin van die berg van 600 meter. Hier, onverwags, kom ’n mens uit by die Vallei van Verlatenheid asof uitgekloof in die berg.

Die Vallei is ’n interessante geologiese verskynsel. Die gesteentes in die omgewing van Graaff-Reinet behoort tot die serie Beaufort van die Sisteem Karoo. Die Sisteem Karoo bestaan uit ’n opeenvolging van sedimente, hoofsaaklik sandsteen, moddersteen en skalie, met baie intrusies van gange en plate van Karoo-doleriet of ysterklip. Die plate is meesal horisontaal en konkordant met die sedimente, terwyl die gange min of meer vertikaal daardeur sny. Die ouderdom van hierdie gesteentes is ongeveer 200 miljoen jaar.

In die Vallei van Verlatenheid is een van hierdie doleriet-plate aanskoulik blootgelê. Die doleriet is vol krake en nate en dikwels met ’n suilvormige struktuur. Deur differensiële erosie vind verwering vinniger langs die nate as in die soliede rots plaas, met die gevolg dat indrukwekkende kranse, skeure en rotspilare gevorm word.

Die doleriet verweer baie stadiger as die sedimente en die gevolg is dan erosie-relikte in die vorm van “tafelberge” en spits koppies. Spandaukop net onderkant die Vallei is ’n goeie voorbeeld van so ’n spits kop.

Die Vallei is egter nie slegs geologies nie, maar ook plantkundig interessant. Aan weerskante van die pad is die kloof met spekboom oortrek en daartussen is die donkerder kruine van die bergpruim en die ligblou van die kiepersol sigbaar. Vetplante is volop soos o.a. die bekende plakkie.

Hoër op in die kloof verdwyn die spekboom en word dit deur kort Karoobossies en ander bosse vervang. Bo op die berg, waar dit rotsagtig is, kom ’n ruim aantal voorlopers van die gematigde woudtipes voor. In die andersins barre kranse van die eskarp kan enkele klein vetplante en hier en daar ’n varing opgemerk word.

Hier van die berg het die besoeker ’n pragtige vergesig oor die ruimtes, maar ’n gevoel van beklemming bekruip tog ’n mens as jy daar teen die hange en dáár onder in die laagtes, waar eens die rooigras bankvas en wuiwend gestaan het, die diep, rou littekens van erosie sien.

(Geproklameer 1939)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 186-187.