Ned. Geref. Sendingkerk (Hester Rupert-Kunsmuseum), Graaff-Reinet

Die Residensie, Graaff-Reinet (Geen toegang)
September 25, 2019
Die Vallei van Verlatenheid, Graaff-Reinet
September 25, 2019

In Kerkstraat, skaars ’n paar honderd meter van die indrukwekkende Ned. Geref. Moederkerk, staan hierdie sierlike ou Sendingkerkie. Dit het die onderskeiding dat dit nie slegs ’n stukkie van die geskiedenis van ou Graaff-Reinet is nie, maar dat dit die sesde oudste bestaande kerk en een van die enigste drie oorblywende voorbeelde van ’n tipiese kruisplan-kerk in Suid-Afrika is.

Aan die begin van die 19de eeu het die bekende dr. J. van der Kemp en eerw. James Read van die Londense Sendinggenootskap met sendingwerk onder die gekleurdes in Graaff-Reinet begin. In 1802 het hulle egter met die meeste mense onder hul bearbeiding na Bethelsdorp naby Port Elizabeth verhuis. As gevolg van die onttrekking van soveel arbeiders uit die distrik, het die Boeregemeenskap teen sendingwerk gekant geraak en dit sou eers tydens die kragdadige bediening van die forse dr. Abraham Faure wees dat dit weer sou herleef. Onder sy leiding is op 1 Augustus 1819 die “Graaff-Reinetsche Zendelings Genootschap” vir die “Uitbreiding van Christus Koninkryk onder de Heidenen van dit uitgebreid district” gestig. Dit sou ’n tak wees van Het Zuid-Afrikaansche Zending Genootschap wat in 1799 in Kaapstad gestig is en wat die Zuid-Afrikaansche Gesticht in Langstraat laat bou het. Die “bestier” van die Genootskap het uit twaalf direkteure bestaan, waarvan Andries Stockenström, landdros van Graaff-Reinet, die beskermheer en dr. Faure die voorsitter was.

Die direksie het al dadelik planne beraam om ’n gebou te bekom wat nie slegs as kerk nie, maar ook as skool sou kon dien. ’n Erf, waarop twee huise gestaan het, is aangekoop, maar dit het weldra geblyk dat hierdie geboue ondoeltreffend was. In Februarie 1821 het Andries Stockenström, ’n groot vriend van die sending, ’n stuk grond asook ses vensters aan die Genootskap geskenk vir die bou van ’n “Oefeninghuis”. Op 24 April 1821 is die hoeksteen deur dr. A. Faure gelê en die kerkie is waarskynlik nog in dieselfde jaar voltooi. Die direkteure het hulself verantwoordelik gemaak vir die insameling van fondse en die aankoop van die boumateriaal terwyl ambagsmanne uit die gemeente die bouwerk onderneem het. Op ’n meter-en-’n-half hoë fondament van klein klippies het langsaam stewige mure en vier sierlike gewels verrys. ’n Strooidak wat gerus het op ’n geelhout timmerasie is uiteindelik opgesit. Dit was slegs hier waar die hulp van ’n spesiale vakman ingeroep is om die middeskip of die verwulf te voltooi.

Die grond waarop die Oefeninghuis gebou is, is blykbaar eers in 1834 aan die sendinggemeente oorgedra, want op ’n kaart wat in daardie jaar deur sir Benjamin D’Urban, destydse goewerneur van die Kaapkolonie, onderteken is, staan geskryf: “… Diagram of a piece of land on which a chapel for the Instruction of the heathen has been erected.” Op hierdie diagram is ook ’n grondplan van die kerkie self wat in vorm en grootte haarfyn ooreenkom met die huidige gebou.

Vir meer dan ’n eeu sou die een na die ander sendeling in hierdie kerkie met algehele oorgawe die evangelie aan die gekleurdes bring en aan hul kinders onderrig gee. Op stene binne die gebou staan die name van hierdie onbaatsugtige arbeiders gegrif—Eerwaardes A. L. Van Lingen, Joh. D. Andreas, Krl. H. Corporaal, Auke Compaan, A. H. Barnard, Joh. M. Aucamp, Pieter B. Botha, P. P. Joubert, F. Blignault, R. Fourie, Di. F. J. Bessinger en C. A. Meyer. Tydens die bediening van eerw. Compaan moes die rietdak deur ’n sinkdak vervang word. Om hiervoor die nodige fondse te vind het mev. Compaan ’n uitgestrekte kollektetoer tot in die Transvaal onderneem, waar president Paul Kruger persoonlik tot die dakfonds bygedra het. Op 5 en 6 September 1931, toe die kerkie reeds 110 jaar oud was, is die honderdjarige bestaan van die gemeente gevier.

In April 1965 word die voortbestaan van hierdie historiese en argitektoniese juweeltjie in die hart van Graaff-Reinet skielik bedreig. ’n Oliemaatskappy het die perseel gekoop en sou op Dinsdag, 20 April, met die sloping daarvan begin. Op 17 April, ’n dag voordat hy op ’n oorsese sakebesoek sou vertrek, het dr. Anton Rupert van die Rembrandt-groep, hiervan verneem. Hy het onmiddellik met die oliemaatskappy in onderhandeling getree en die gebou is deur Rembrandt gekoop. Dit is opgeknap en deur die bydraes van oorspronklike werke deur 75 Suid-Afrikaanse kunstenaars is dit in ’n kunsmuseum, die Hester Rupert-Kunsmuseum, omgeskep. In 1966 is dit deur die Staatspresident geopen.

En so is nie slegs ’n ou gebou gered nie, maar het Graaff-Reinet geword dié plattelandse dorp met ’n trotse kultuurskap wat vir inwoners en besoekers ’n vreugde en ’n aantreklikheid geword het.

(Geproklameer 1968)

Foto: Don Adair • Die Hester Rupert-kunsmuseum

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 184-186.