Van der Stel se Kopermyn, dist. Springbok
September 19, 2019
Sterrekundige Gedenkwaardigheid, Touwsrivier
September 25, 2019

Enkele kilometers van Kakamas op pad na Keimoes draai ’n paadjie links weg om oor die kanaal na ’n rotskoppie te loop. Hier teen die koppie, in ’n kerkhoffie, is ’n eenvoudige maar treffende gedenkteken geleë. Die kunstig geboude klipmure versmelt met die agtergrond van die koppie en hoog bokant die mure teken ’n paar strakke kruise hulle helder teen die blou lug af. Dit is ’n gedenkteken ter ere van ’n aantal Duitsers wat hier op 4 Februarie 1915 in ’n geveg teen die Unietroepe gesneuwel het.

Foto: Veldslag van Kakamas: Posisie by staking van geveg

Vroeg in Augustus 1914 het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. As deel van die Britse Ryk was die Unie van Suid-Afrika feitlik outomaties daarin betrokke. Op 12 September het die Unie-parlement dus besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val. Die inval sou van verskeie kante onderneem word en met die doel is o.a. in die omgewing van Upington ’n mag van 9 000 ruiters onder genl. J. van Deventer saamgetrek. Ongeveer sesduisend van hierdie troepe het by Kakamas, net suid van die dorpie, in ses groot laers gestaan. Sterk patrollies het die twee ponte oor die Oranjerivier, wat ongeveer drie km uitmekaar gelê het, bewaak.

Die Duitse opperbevelvoerder in Suidwes, majoor Francke, het besluit om ’n aanval op Kakamas te Iaat doen en aldus ’n deurbraak na die Unie te bewerkstellig. Te dien einde is aan majoor Ritter opdrag gegee om ’n leërmag by Ukamas saam te trek en vandaar die aanval op Kakamas te loods. Op 31 Januarie 1915 verlaat die kolonne, gewapen met 250 gewere, 4 masjiengewere en 4 kanonne, Ukamas met die doel om Kakamas teen dagbreek op 4 Februarie aan te val.

Om 3-uur daardie môre was Ritter se kolonne ongeveer 7 km reg noord van Kakamas. Deur noukeurige verkenning en die ondervraging van twee Kleurlinggevangenes is die posisie van die Unietroepe vasgestel en bevind dat die ponte deur sterk patrollies bewaak word. Ritter het daarop bevel gegee dat nader aan Kakamas beweeg moes word. Terselfdertyd het hy sy kolonne in ’n oostelike rigting ontplooi. Teen 6 vm. was die oostelike flank, waarby ook die artillerie was, ongeveer 1 000 meter van die oostelike pont. Die kanonne is op ’n duin, grensende aan die koppie waarteen die gedenkteken nou geleë is, opgestel, en het op die wagte by die pont Iosgebrand. Dit was die teken vir die res van die kolonne, wat intussen ook nader aan die Oranjerivier beweeg het, om op die stellings van die Unietroepe te begin vuur. ’n Hewige geveg het ontstaan wat met onverminderde heftigheid tot die middag 12-uur voortgeduur het. Die oormag was egter te groot en Ritter moes sy Ieërmag in twee afsonderlike afdelings langs verskillende roetes na Biesiespoort terugtrek.

Die verliese aan Duitse kant was aansienlik, nl. Sewe gedood, ses gewond en sestien gevange geneem. Die gesneuweldes is begrawe waar hulle geval het. In 1960 is ses, van wie die grafte gevind kon word, hier teen die rotskoppie in ’n gesamentlike graf herbegrawe en die gedenkteken is deur die “Volksbund Deutschen Kriegsgräberfürsorge” opgerig.

(Geproklameer 1969)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 177-178.