Die Slagveld van Draaibosch 1877, Komga
September 19, 2019
Die Griekwa Nasionale Independente Kerk, Kokstad
September 19, 2019

Op die rand van die dorp Stutterheim, net noord van die spoorwegstasie tussen die ou pad en die spoorweg, staan die kerkie van die Bethel-sendingpos. Hierdie sendingpos is op 2 Januarie 1837 deur pastoor J.L. Döhne van die Berlynse Sendinggenootskap gestig en is die oudste sendingpos van hierdie genootskap in die ganse Oostelike Kaap.

Saam met vyf ander Berlynse sendelinge het Döhne in 1836 by die Kaap aangekom. Hy is oorreed om onder die Xhosa te gaan arbei. Na ’n lang en vermoeiende reis het hy die Xhosastam onder die hoofskap van Gazela hier op die uiterste grens van die Kaapkolonie bereik. Gazela het aan hom 1 200 ha geskenk. Hy het sy sendingpos hier aan die oewers van die Camakalerivier aangelê en dit Bethel genoem.

Volgens Döhne se dagboek was dit ’n land vloeiende van melk en heuning. Die grond was vrugbaar. Die gras het ’n meter hoog gestaan en blomme en vrugtebome het welig gegroei. Wild was volop. Vir die pragtige berge het hy ’n hartstogtelike liefde gehad en dit het hom met heimwee vir sy vaderland vervul. Maar in hierdie wêreld, waaroor Döhne by sy aankoms so liries geraak het, moes hy die allergrootste ontberinge verduur. ’n Bantoe-hut was sy tuiste en sy kerk, en mieliepap en suurmelk sy enigste voedsel. Weldra het sy jeugdige vroutjie by hom aangesluit, maar by die geboorte van haar seuntjie in 1842 is sy oorlede en ses maande daarna die seuntjie self. Met die uitbreek van die Byloorlog in 1846 is sy sendingpos deur die Xhosa vernietig. Hy het die Kaapkolonie verlaat en na Natal gegaan, waar hy predikant van die Voortrekkers geword het.

Döhne is deur pastoor A. Kropf opgevolg. Hy het die sendingpos herbou, maar in 1850 is dit weer eens deur die Xhosa afgebrand. In 1852 het Kropf dit weer herbou, hoewel dit toe maar nog slegs uit Bantoe-hutte bestaan het. Eers in 1864/5 is die huidige kerkie opgerig en dit is op 8 Augustus 1865 ingewy. Kropf het tot die einde van sy lewe in 1910 aan hierdie sendingpos verbonde gebly. Hy het veral bekendheid verwerf as hoofvertaler van die Bybel in Xhosa en as samesteller van die Xhosa-Engelse woordeboek wat onderskeidelik in 1887/9 en 1899 uitgegee is.

(Bronsplaat 1966)

Foto: F.C. Barclay • Bethel-sendingpos • Africana-museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 170-171.