Die Slagveld van Draaibosch 1877, Komga

Fort Glamorgan, Oos-Londen (Geen toegang)
September 19, 2019
Bethel-sendingpos, Stutterheim
September 19, 2019

Twintig km reg wes van Komga op die pad na Stutterheim is vandag die spoorweghalte Bleakmoor geleë. Dit was oorspronklik die uitspanning Draaibosch, en dit is hier waar die bekende veldslae van Draaibosch op 29 en 30 Desember 1877 plaasgevind het.

In 1877 het die sogenaamde Negende Xhosa-oorlog uitgebreek en, soos in al hierdie oorloë, het daar talle skermutselinge langs die grense plaasgevind, maar dit was tydens die Slag van Draaibosch dat die aanvoerder, majoor Hans Garrett Moore, besondere dapperheid aan die dag gelê het.

Berig is ontvang van die opmars van ’n Ngqika-mag van ongeveer ’n 300 man, waarvan ’n groot aantal berede was. Op 29 Desember is majoor Moore met 32 man, hoofsaaklik berede grenspolisie (Frontier Armed Mounted Police), uitgestuur om die opmars te stuit. By Draaibosch het hy met hulle slaags geraak. Die Ngqika het heftig en met groot moed aangeval. Moore moes retireer en daarmee is een van sy manskappe, Giese, wat met sy perd moeilikheid gehad het, deur die Xhosa ingehaal. Moore, vergesel van sers. Dan Harber, korp. J. Court en manskap Martindale, het ’n heldhaftige poging aangewend om Giese te red. Moore het ’n assegaaisteek deur sy voorarm gekry en sy perd is onder hom gekwes. Hoewel hulle Giese nie kon red nie, het hulle die Xhosa teruggedryf. Moore het met die lem van die assegaai in sy arm na Komgha teruggery, waar die militêre dokter dit uitgehaal het.

Die volgende dag was Moore al weer in bevel van ’n patrollie en op die heuwel net oos van Draaibosch word hy vir ’n tweede maal deur ’n Xhosa-mag van 1 000 voetvolk en 600 berede manskappe aangeval. Deur sy kalme optrede, sy opvallende dapperheid en sy berekende strategie het hy ’n ramp afgeweer en die Xhosa op die vlug geja. Sy perd is drie maal onder hom gekwes en twee man is vermis.

Vir sy dappere optrede op 29 Desember 1877 tydens die eerste slag van Draaibosch is aan hom die eerste Victoria-kruis wat op Suid-Afrikaanse bodem verdien is, toegeken.

Moore was van beroep ’n soldaat, wat reeds op jeugdige leeftyd tot die leër toegetree het. Hy het diens gedoen in die “Indian Mutiny” (1857), in die Ashanti-oorlog (1873), in die Negende Xhosa-oorlog (1877) en in die Egiptiese Kampanjie (1882). Hy het in Oktober 1889 in Dromineerbaai, Ierland, verdrink.

(Bronsplaat 1957)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 169-170.