Fort Glamorgan, Oos-Londen (Geen toegang)

Mount Coke Wesleyaanse Sendingpos, dist. King William’s Town
September 19, 2019
Die Slagveld van Draaibosch 1877, Komga
September 19, 2019

Teen die hoogte aan die westeroewer van die mond van die Buffelsrivier, net bokant die hawe van 006- Londen, is die kruithuis van die eertydse Fort Glamorgan geleë.

In 1846 het die Sewende Xhosa-oorlog, ook bekend as die Byloorlog, op die oosgrens uitgebreek. Een van die groot probleme waarvoor die goewerneur, sir Peregrine Maitland, te staan gekom het, was die vervoer van troepe en die lewering van voedsel- en ammunisievoorrade aan hierdie troepe op die verre oosgrens. Die roete oor land vanaf Port Elizabeth was nie slegs lank nie maar gevaarlik en onbegaanbaar. Die vanselfsprekende oplossing was dat ’n aanloopplek vir skepe nader aan die gevegsfront gevind moes word en dat die troepe en voorrade oor see vervoer moes word. ’n Voorradeskip, die Waterloo, is dus na die mond van die Visrivier gestuur, waar dit in ’n baaitjie, net oos van die mond, sy vrag met sukses afgelaai het. Die baai wat nou as Waterloobaai bekend geword het, was egter baie gevaarlik en by herhaling kon die voorgenome landing van troepe nie plaasvind nie. Bowendien was dit ook nog te ver van die oorlogstoneel.

Dit was in hierdie omstandighede dat die mond van die Buffelsrivier, waaroor daar in 1836 reeds gunstig gerapporteer is, weer die aandag geniet het. Dit is weer eens deur lt. Forsyth opgemeet en in 1847 is daar in opdrag van sir Peregrine Maitland begin met die oprigting van ’n pakhuis vir mondprovisie, ’n pakhuis vir krygsbehoeftes, ’n kaai en pakhuis vir landingsgereedskap en ’n kruithuis. Al hierdie geboue is op 31 Maart 1849 voltooi. Dit was bekend as “Fort Buffalo” en was geleë op “Camp Point” of “Castle Point”, d.w.s. die uiterste punt wes van die monding van die rivier.

Terwyl hierdie geboue in aanbou was, het sir Harry Smith, wat Maitland as goewerneur opgevolg het, op 23 Desember 1847 die gebied tussen die Keiskamma- en die Keirivier tot Brits-Kaffraria verklaar. Byna gelyktydig met hierdie proklamasie het hy besluit om ’n militêre pos, net ’n klein entjie bokant Fort Buffalo, op te rig. Aan kapt. J. Walpole, bevelvoerder van die Royal Engineers, is opdrag gegee om die nodige planne en bestekke op te stel. Vroeg die volgende jaar was alles gereed en op 17 Februarie 1848 is magtiging verleen tot die bou van die militêre pos teen ’n koste van R6 000. Dit sou bekend staan as Fort Glamorgan ter ere van kol. Henry Somerset, wat jare lank uitmuntende dienste op die oosgrens gelewer het. Hy was ’n seun van lord Charles Somerset en dus uit die Beaufort-familie. Aldus was hy ten nouste verwant aan die Hertog van Beaufort wat ook die titel van die Graaf van Glamorgan gevoer het. Die fort is gebou onder toesig van lt. Terrois, R.E., en was op 31 Maart 1849 — die datum waarop Fort Buffalo voltooi is — driekwart klaar.

Die oprigting van twee “forte” bykans gelyktydig, lyk ongerymd en verkwistend. As die offisiële korrespondensie egter noukeurig bestudeer word, dan blyk dit dat Fort Glamorgan slegs ’n toevoeging tot Fort Buffalo was. Dit het voorsiening gemaak vir die huisvesting van ’n garnisoen van 20 berede soldate met ’n offisier en twee afdelings voetvolk met vier offisiere en ’n dokter. Daarom het dit bestaan net uit ’n kaserne met ’n klein hospitaal en die nodige buitegeboue. Kapt. Walpole verduidelik dan ook dat hy hier nie eens vir pakhuise vir mondprovisie voorsiening maak nie omdat daar twee by Fort Buffalo is. Ook is daar geen vermelding van ’n kruithuis nie, klaarblyklik omdat daar een by Fort Buffalo was.

Die eerste troepe wat Fort Glamorgan betrek het, was die 73ste Regiment, d.w.s. die beroemde Black Watch of Royal Highlanders, onder bevel van lt.-kol. Van der Meulen. Daarna het dit die tuiste geword van opeenvolgende garnisoene.

In 1873 is die ou kruithuis by Fort Buffalo gesloop. Met die loop van jare het ook Fort Glamorgan verval, en al wat oorgebly het, was ’n kruithuis. Hierdie kruithuis het ’n tergende geheim geword. Jare lank is aanvaar dat dit deel was van die oorspronklike Fort Glamorgan en dit is deur die Historiese Monumente Kommissie verklaar as “die ou Kruithuis van Fort Glamorgan, in 1847 opgerig”. Deur die bemoeienis van dr. J. Denfield is, soos hierbo aangetoon, bewys dat dit nie die geval is nie. Wanneer is dit dan gebou? Dit bly ’n geheim, maar dit kan aanvaar word dat dit vóór 1873 gebou is om die ou kruithuis te Fort Buffalo te vervang wat in daardie jaar gesloop is. Onthou moet word dat die jare sewentig weer eens ’n periode van groot spanning en onrus op die oosgrens was.

(Geproklameer 1938)

Foto: Edward Rooper • Oos-Londen in 1850 met Fort Glamorgan aan regterkant • Africana-museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 168-169.