Die Wagtoring, Peddie
September 19, 2019
Fort Wilshire, Peddie
September 19, 2019

Dertien km van Peddie op die pad na Breakfast-vlei staan die beroemde Fingo-melkhoutboom.

As gevolg van die uitdelgingsoorloë van Tsjaka, die groot Zoeloehoof, het die Bantoestam, later as die Fingo bekend, in die jare twintig van die 19de eeu van Natal na die Transkei gevlug. Arm en verhonger is hulle as ’t ware deur die Gcaleka verslaaf. Gedurende die Sesde Xhosa-oorlog 1834/35 het hulle by die Britse troepe beskerming gesoek. Hulle daad is deur die Xhosa as verraad beskou en Hintza het besluit om “sy honde” uit te roei. Om hulle van die wraak van die Xhosa te red, het goewerneur sir Benjamin D’Urban besluit om hulle na ’n gebied tussen die Vis- en die Keiskammarivier suid van Fort Peddie te verskuif.

Onder beskerming van kol. Somerset met die 2de Divisie en vergesel van hul sendeling, eerw. John Ayliff, het 17 000 mans, vrouens en kinders met 22 000 beeste, meesal die eiendom van hul vroeëre onderdrukkers, weswaarts beweeg. Onder herhaalde aanvalle deur Xhosa-bendes op hul agterhoede het die konvooi oor die Kei en oor die Keiskamma getrek. Op 14 Mei 1835 het hulle afgemat by ’n groot Melkhoutboom (Umqwashu) in die beloofde land tot rus gekom. Nou was hulle veilig en hier in die teenwoordigheid van eerw. Ayliff het hulle trou aan God en die Britse koning betuig.

Die Umqwashu het vir die Fingo die simbool van verlossing uit die slawerny geword en die datum 14 Mei word nog jaarliks by die boom feestelik herdenk.

(Bronsplaat 1942)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 164.