Seintoring: Governor’s-kop, Grahamstad

Sandile se Graf, Stutterheim
September 12, 2019
Trompettersdrif-toring, dist. Albany
September 19, 2019

Ooswaarts vanaf Grahamstad op die hoogtes, soms in sig van die nasionale pad, is daar op gereelde afstande interessante boustrukture wat onwillekeurig die belangstelling wek. Dit is die seintorings wat in die jare 1843/44 opgerig is.

Dit is begryplik dat, bo en behalwe forte, aandag ook geskenk sou word aan ’n seinstelsel waardeur die militêre hoofkwartier in Grahamstad van enige gebeure op die grens in kennis gestel kon word. (Africana Aantekeninge en Nuus: 14, 4, Des. 1960, pp. 123-129; Kirby, Percival R., “South Africa’s First Telegraph”.) Daarom het die offisier in bevel van die Royal Engineers, luit.-kol. Griffith George Lewis, wat verantwoordelik was vir die beplanning en oprigting van vestingwerke aan die oosgrens na die Sesde Xhosa-oorlog, besluit om ’n telegraafstelsel — die eerste in Suid-Afrika op te rig. Twee seintoringlinies is gebou, een noordwaarts om Grahamstad met Fort Beaufort en een ooswaarts om dit met Fort Peddie te verbind.

Die seintorings sou 9 meter hoog wees, goed versterk en elk met twee kamers bo mekaar as kwartiere vir die manskappe. Elke toring sou met ’n tipe seintoestel of semafoor, wat reeds in Frankryk en Engeland in gebruik was, toegerus word. Sommige torings is by bestaande forte aangebring.

Die sleutelpunt vir die hele stelsel was die seintoring op Governor’s-Kop. Hierdie kop, 823 meter bo seespieël en nege myl oos van Grahamstad, gee ’n pragtige uitsig oor die ganse omliggende terrein tot aan die verre Visrivier. Vanaf Governor’s-Kop het een linie noordwaarts geloop oor die seintorings op Graskop (naby Fort Brown), Bothaspos (tussen die Kat- en die Koonaprivier), Dans-hoogte (ongeveer elf km van Fort Beaufort) tot by ’n toring net suid van Fort Beaufort. Ooswaarts van Governor’s-Kop het ander linies oor Fraser’s Camp-toring, Piet Appels-toring aan die Visrivier tot by Fort Peddie geloop. Van Fraser’s Camp het daar ’n sylyn na Bathurst gegaan. Die seine wat deur Governor’s-Kop opgevang is, moes dan na Fort Selwyn op die rant agter die drosdy in Grahamstad deurgestuur word sodat die militêre hoofkwartier al dadelik die nodige stappe sou kon doen.

Gedurende die jare 1843 en 1844 het ’n sekere Henry Hall die torings teen ’n koste van R1 000 elk gebou. Met die uitbreek van die Oorlog van die Byl was nog slegs die torings van die noordelike linie met seintoestelle, bekend as semafoors, toegerus. In die oorlog het egter geblyk dat die stelsel ’n volslae mislukking is. Allereers was die semafoors nie geskik vir die terrein en die klimaat nie. Vroeg in die oggend, wanneer hulle die nodigste was, was die meeste torings met mis bedek en die semafoors onsigbaar, terwyl op baie warm dae die verskynsel van ligrefraksie op die blink arms van die semafoors die gekste vorms aangeneem het en die seine onontsyferbaar gemaak het. Daarbenewens was hierdie torings by die eerste aanvalle totaal geïsoleer en kon die bemannings nóg kos nóg water bekom. Hulle het bygevolg die torings verlaat en dit is deur die Xhosa aan die brand gesteek. Godlonton en Irving meld in hulle werk A Narrative of the Kaffir War of 1850-1851 dus dat hierdie torings “wat teen hoë koste en met groot moeite opgerig is … nooit van die minste nut was of kon wees nie”. In 1847 is Brits-Kaffraria deur Groot-Brittanje ingelyf en is die torings nie Ianger gebruik nie. Die meeste van hulle is deur die Ministerie van Oorlog aan die Koloniale regering oorhandig.

(Geproklameer 1936)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 161-162.