Sandile se Graf, Stutterheim

Ngqika se Graf, Keiskammahoek
September 12, 2019

Ongeveer 16 km van Stutterheim op die pad wat reg wes na Keiskammahoek loop, draai ’n pad suidwaarts na die Evelynvallei. Hier aan die voet van Mt. Kemp, ook bekend as Isidenge, lê die graf van Sandile, die Ngqikahoof, in die hoek van ’n groot beeskamp, 200 meter van die pad en 150 meter van ’n plaashuis.

Sandile was die seun van die beroemde Ngqika by sy grootvrou en is omstreeks 1820 gebore. By die dood van sy vader in 1829 was hy dus nog onmondig, maar in 1840 volg hy hom as hoof van die Ngqikastam op. Hy doen homself as vriend van die regering van die Kaapkolonie voor en sluit verdrae met die opeenvolgende goewerneurs. Sy weiering om ooreenkomstig hierdie verdrae sekere misdadigers uit te lewer, gee direk aanleiding tot die Oorlog van die Byl in 1846. In Oktober 1847 word hy gevange geneem en as prisonier at Grahamstad gestuur. Hy lê egter die eed van getrouheid aan die Britse koningin af en grond word aan hom in Brits-Kaffraria toegeken. In 1850 is hy weer in oorlog met die Koloniale regering en hy hou dit vol tot Maart 1853 toe vrede gesluit is.

In 1857 het die bekende nasionale selfmoord van die Xhosas plaasgevind. Onder die Xhosa was daar ’n sluimerende gevoel van verset teen die blanke oorheersing. In ’n poging om die hele Xhosastam teen die blanke te mobiliseer, het die Xhosahoofde gebruik gemaak van die diepgewortelde geloof van die Bantoe aan onsigbare geestelike kragte. Wyd en syd is die gerugte versprei dat die geeste met Nonquasi, die dogter van ’n indoena gepraat het, dat hulle aan haar gesê het dat die Xhosa hulle moet klaar maak om die Witman in die see te ja; dat die gestorwe helde met hulle sou saamveg; dat die geestewêreld hulle van alle kosvoorrade in die oorlog sou voorsien en dat die Xhosa hul vertroue in die geeste moet bewys deur al hul vee en kosvoorraad tot niet te maak.

Sandile het aanvanklik geweier om die opdrag van die toordokters uit te voer, maar uiteindelik het hy daaraan meegedoen. Hy ly baie groot verliese en deur die Xhosa-selfmoord word sy stam baie verswak.

Sandile het hierna verstandelik en fisies agteruitgegaan. Een been het geleidelik uitgeteer. In 1877 was sy stam egter al weer so sterk dat hy Kreli kon bystaan in die oorlog wat daardie jaar teen die Kaapkolonie uitgebreek het. Op 29 Mei 1878 is hy in ’n skermutseling met ’n afdeling Fingo-troepe onder aanvoering van kapt. George R. Massey-Hicks in die digte bosse in die Isidengeberg wes van sy graf, dodelik gewond, en het enige dae daarna beswyk. Een van sy volgelinge het sy dood aan kapt. Stevenson te Peelton gaan rapporteer. Die Iyk is opgespoor en na die Ieërkamp, wat in hierdie omgewing gestaan het, gebring. Hier het dit enkele dae in staatsie gelê. Op 9 Junie 1878 is hy, gedra deur Fingo op ag gewere, naby die kamp begrawe. Sy graf was tussen dié van twee blanke soldate, Hillier en Dicks, wat vantevore in dié oorlog gesneuwel het.

(Bronsplaat 1941)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 160-161.