Ngqika se Graf, Keiskammahoek

Domira, Lovedale
September 12, 2019
Sandile se Graf, Stutterheim
September 12, 2019

Ongeveer drie km verby Middeldrift op die pad vanaf Alice na King William’s Town draai ’n pad noordwaarts af na die skilderagtige Keiskammahoek in die Amatola-gebergte. Nouliks ses km van die uitdraaipad is die bekende ou Burnshill-sendingstasie geleë. Reg noord daarvan en binne loopafstand lê daar op die oewer van die Keiskamma die graf van opperhoof Ngqika of Gaika, stigter van die Ngqikastam.

Hy was die seun van Umlawu en is omstreeks 1776 gebore. Reeds in 1797 het hy aanspraak op die hoofskap oor die Rarabestamme gemaak. Sy oom Ndlambe, wat aanvanklik vir hom as regent opgetree het, het egter sy aansprake betwis en dit het tot ’n byna lewenslange twis aanleiding gegee. Om sy eie posisie te handhaaf, het hy probeer om op ’n vriendskaplike voet met die blanke te leef. In 1803 het hy met genl. Janssens ’n ooreenkoms aangegaan waardeur die Visrivier tot wesgrens van die Xhosa-gebied vasgestel is.

As gevolg van Ngqika se vriendskaplike houding is hy deur lord Charles Somerset verkeerdelik as die enigste opperhoof van die Xhosa erken. As sodanig het hy met Somerset ’n verdrag aangegaan waardeur die sogenaamde Spoorstelsel vir die herstel van gesteelde vee ingevoer is.

In 1818 word hy deur Ndlambe in die slag van Amalinde verslaan. Hy doen ’n beroep op Somerset, wat op sy beurt ’n militêre mag oor die Visrivier stuur en Ndlambe verslaan. Hierdie blanke inmenging in Xhosa-stamtwiste was die direkte oorsaak van die Xhosa-oorlog van 1819. Na afloop daarvan is Ngqika weer eens tot opperhoof verhef en het hy toegestem dat die gebied tussen die Visrivier en die Keiskamma tot niemandsland verklaar word sodat die skeiding tussen Boer en Bantoe duidelik gehandhaaf kon word.

Op 13 November 1829 is hy naby Burnshill aan die Keiskammarivier, waar sy kraal gestaan het, oorlede.

(Bronsplaat 1940)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 160.