Fort Armstrong, Balfour
September 12, 2019
Fort Hare, Alice
September 12, 2019

Nouliks elf km oos van Balfour en nie ver van Fort Armstrong nie, nog aan die Katrivier, lê Seymour. Ook hierdie dorpie dank sy ontstaan aan ’n militêre pos, nl. Elandspos. Die fort was op die plato vlak langs die dorpie geleë en oorblyfsels daarvan is nog te sien. Hier is in 1839 ’n sonwyser uit sandsteen deur ene D. Cross gemaak en op die terrein opgerig.

Foto: S. Roos • Die Sonwyser, Seymour

In 1853 is die dorpie Seymour, so genoem na luit.-kol. Charles Seymour, militêre sekretaris van sir George Cathcart, hier aangelê. ’n Deel van die fort is in ’n woning vir die magistraat omgeskep. In 1922 het die magistraat die sonwyser aan die Port Elizabethse museum geskenk, maar deur bemiddeling van die H.M.K. is dit in 1933 egter na Seymour teruggestuur. Dit is op ’n stewige voetstuk van bewerkte klip in die tuin van die Residensie geplaas en om die wyserplaat te beskerm, is dit met dik glas bedek.

(Geproklameer 1937)

 

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 159.