Thomas Pringle se “Emigrant’s Cabin”, Bedford
September 12, 2019
Die Sonwyser, Seymour
September 12, 2019

Die dorpie Balfour lê aan die Katrivier en aan die voet van die Katberge omtrent 40 km reg noord van Fort Beaufort. Suidoos van die dorpie en nie ver daarvandaan nie gaan die pad na Hertzog by die plaas Mesopotamia verby wat in ’n draai van die Katrivier geleë is. Op hierdie plaas is ’n groot hoogte met ’n toring bo-op. Dit is al wat oorgebly het van Fort Armstrong, een van die mees historiese forte in die omgewing.

Die geskiedenis van Fort Armstrong is nou verbonde aan dié van die Katrivier-nedersetting, ’n nedersetting van Hottentotte wat in 1829 deur die Koloniale regering in die boonste vallei van die Kat tot stand gebring is. Die oorspronklike militêre pos wat hierdie nedersetting teen aanvalle van die Xhosa moes beskerm, was as Camp Adelaide bekend. In ooreenstemming met sir Benjamin D’Urban se groot verdedigingsplan vir die oosgrens na 1835 is ook hierdie pos in ’n fort omgeskep. Dit is genoem na kapt. AB Armstrong wat daarvoor gesorg het dat die Hottentotte gedurende die Sesde Xhosa-oorlog aan die Britse regering lojaal gebly het.

Met die uitbreek van die Agste Xhosa-oorlog in 1850 het die Hottentotte van die Katrivier-nedersetting egter teen die Koloniale regering in opstand gekom. In Januarie 1851 was die Blankes uit die omgewing dus verplig om vir verdedigingsdoeleindes in Fort Armstrong saam te trek. Die Hottentotte het egter die plek omsingel en daarin geslaag om dit in te neem. Gelukkig is die Blankes toegelaat om te ontvlug en die fort het vervolgens die hoofkwartier van die rebelle onder Uithaalder geword. ’n Burgermag bestaande uit ongeveer 840 Engelse, Boere en Fingo is onder kommandante Bowker, Pringle, Haugh, Ziervogel, Delport, Currie en kapt. Ayliff so gou doenlik hy Post Retief, sowat 24 km na die weste, byeengebring en die kommando het na Fort Armstrong opgeruk. Terselfdertyd het ’n mag van 1 800 gereelde troepe met inbegrip van artillerie onder generaal-majoor Henry Somerset vanaf Fort Hare ook daarheen opgetrek.

Die burgermagte het met sonsopgang op 23 Februarie die aanval op die fort begin. Om 10.30 vm. het die gereelde troepe by hulle aangesluit. Die fort is deur die artillerie vernietig, maar die rebelle het dapper geveg. Hulle geledere is langsamerhand uitgedun en die aanvallers was uiteindelik verplig om met hulle handgemeen te raak, en so is die laaste nege van hulle gedood.

Na die slag is die fort nie weer herstel nie en ook nie weer gebruik nie. Die hooftoring is al wat die stryd oorleef het, en die grond waarop die fort gestaan het, is vandag feitlik met lemoenboorde oortrek. In die museum in Fort Beaufort is enkele voorwerpe uit die stryd te sien.

(Geproklameer 1938)

Foto: J. Harris • Fort Armstrong • William Fehr-versameling

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 158-159.