Die Andrew Geddes Bain-gedenkteken, Eceapas
September 12, 2019
Die “Martello”-toring, Fort Beaufort
September 12, 2019

Op die spoor van Andrew Geddes Bain se “Queen’s Road” na “Kafferland” loop die pad reg noord na Fort Beaufort, Balfour en die Katberg. Nouliks 27 km van Grahamstad net voordat hierdie pad oor die Visrivier gaan, kom ’n mens by Fort Brown. Hierdie plek was oorspronklik as Hermanuskraal bekend en is so genoem na die Hottentotvrybuiter, Hermanus Xogomesh. Met kommissaris De Mist se besoek in 1804 aan die oosgrens was dit reeds as Hermanuskraal bekend.

In 1817 het lord Charles Somerset een van sy militêre poste vir die bewaking van die grens hier geplaas, maar in 1835 is dit as deel van sir Benjamin D’Urban se vestingswerke langs die Visrivier tot een van die grootste grensforte omgeskep. Dit het bestaan uit ’n groep geboue omring deur ’n hoë klipmuur en dit het ruime huisvesting aan manskappe en perde gebied. In een hoek was ’n kanontoring van sowat 3,5 m in die vierkant. ’n Kliptrap het daartoe ingang verleen en het na ’n vertrek met skietgate gelei. Onder die vloer was ’n kruitmagasyn en bo op die dak ’n kanon wat rondgedraai kon word. In verband met hierdie kanon skryf luitenant Montgomery Williams van die Koninklike Ingenieurs in 1835 aan sir Benjamin D’Urban dat hy toegesien het dat ’n drieponderbergkanon en sy toebehore by die fort gelaat is en dat daar met die bou van die fort “aanmerklike vooruitgang gemaak is … vandat U Eksellensie dit besoek het”.

In 1838 is sir Benjamin D’Urban deur sir George Napier as goewerneur opgevolg. Hy was verplig om op die uitgawes vir verdediging te besnoei, maar boukoste aan. Fort Brown was nietemin nog meer as R8000. ’n Garnisoen was hier tot 1861 gestasioneer. In die loop van tyd het dit in verval geraak en slegs die kanontoring en die aangrensende mure het behoue gebly.

(Geproklameer 1938)

Foto: Henry Butler • Fort Brown c. 1838 • Fehr-versameling

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 155.