Die Cuylerville-kerkie, dist. Bathurst

Bailey se Baken, Bathurst
September 11, 2019
Mooimeisiesfontein, Riebeek-Oos
September 12, 2019

Vanaf Bathurst loop ’n gruispad byna parallel met die kus na die mond van die Groot-Visrivier. Ongeveer halfpad na die Visrivier aan die regterkant van die pad staan ’n beskeie geboutjie tussen die digte bosse en onder die skaduwee van ’n reuse bloekomboom. Dit is die historiese Cuylerville-kerkie. ’n Paar honderd meter wes daarvan tussen die ruie plantegroei op die wal van ’n riviertjie lê sy skilderagtige kerkhoffie.

Op 30 April 1820 het ’n groep Britse Setlaars met 90 waens onder luitenant John Bailie na ’n trek van 13 dae vanaf Port Elizabeth hier uitgespan. Hulle is deur die 59ste Regiment onder bevel van kolonel Jacob Cuyler, landdros van Uitenhage, geleide gedoen. Uit erkentlikheid vir sy vriendelikheid en hulpvaardigheid het hulle die plek Cuylerville genoem. In dieselfde jaar nog is die grond aan Thomas Adams toegeken, maar in 1838 het dit uiteindelik in besit van die bekende Robert Godlonton gekom.

Van 1825 af was die plek egter ’n byeenkomsplek vir die nuwe gemeenskap. ’n Klein geboutjie is opgerig, waarin eerw. William Boardman, eerw. George Porter en Charles Bailie dienste en skool gehou het. In 1831 is dit herbou.

In 1834 het die Sesde Xhosa-oorlog uitgebreek en 20 000 Xhosa het oor die Visrivier gestorm. Die Cuylerville-bewoners het rondom die kerkie ’n laer opgeslaan, maar moes uiteindelik na Bathurst terugval en die kerkie aan die genade van die vyand oorlaat. Teen 1838 was die gemeenskap weer voldoende herstel om met die insameling van fondse vir die oprigting van die huidige gebou te begin. Godlonton het 15,4 ha vir die doel geskenk. Op 17 Junie 1839 het kol. Henry Somerset die hoeksteen gelê en ’n aanvang is gemaak met die bou van kerk en skool onder een dak. ’n Jaar daarna is die gebou voltooi en op 15 September 1840 kon die openingsplegtigheid plaasvind.

In 1843 het die posisie langs die Oosgrens weer begin versleg. Met die oog op hernieude aanvalle is klipmure rondom die kerkie as versterking opgerig en ’n sterk klipkraal vir die beeste is in die nabyheid gebou. In 1846 het die verwagte aanval plaasgevind. Die Setlaars van die omgewing het hulle in die versterkte laer teruggetrek. Hierdie “byenes”, soos die Xhosa dit genoem het, is dan ook by herhaling aangeval. Die ergste aanval het op 1 Mei plaasgevind toe 14 weerbare mans, getrou deur die vrouens bygestaan, die verwoede bestorming egter met groot verliese vir die vyand afgeslaan het. Die Xhosa het 200 osse saamgebring om die verwagte buit te vervoer, maar in die plek daarvan moes hulle nou hulle dooies en gewondes daarop laai. Nietemin kon die skool en kerk eers weer in 1847 met hulle normale funksies voortgaan.

Sedertdien staan hierdie ou kerkie nog altyd in diens van die kerk en die gemeenskap.

(Geproklameer 1961)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 151.